Afsondering: Diere-organisasies trek swaar

Rotti, ‘n baba-Rottweiler, wat ‘n lewensgevaarlike kwaal onder lede het (Foto: Verskaf deur Mdzananda-dierekliniek)

Met die instel van die landwye afsondering trek diere-organisasies finansieel veral swaar. Dit is omdat dié organisasies nou ’n groot gedeelte van hul inkomste kwyt is.

Die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap het sedert die instel van die afsondering ’n enorme finansiële knou gekry.

Marcelle du Plessis, woordvoerder van Mdzananda-dierekliniek, sê hulle het in die eerste drie weke van afsondering sowat R108 000 verloor. Dit is onder meer omrede hulle nie meer geld uit diere-aannemings kan kry nie. Mense kan ook nie meer die mediese koste verbonde aan die behandeling van hul troeteldiere betaal nie.

“Die kliniek het aansienlik meer uitgawes. Ons moet gedwonge medisyne van duurder alternatiewe verskaffers aanskaf omdat van ons gereelde verskaffers ten tyde van die afsondering tekortskiet. Daar is nie geld in ons begroting om hierdie ekstra koste te dek nie,” vertel Du Plessis.

Du Plessis sê die organisasie staar ’n verdere R72 000 verlies in die gesig noudat die afsonderingstydperk met nóg twee weke verleng is.

Nomondy die kat is gebyt en het erge beserings opgedoen (Foto: Verskaf deur Mdzananda-dierekliniek)

Du Plessis sê hulle het die afgelope drie weke talle oproepe ontvang van troeteldier-eienaars wat benoud bel oor hul geliefde vierpotiges se welstand. Die meeste van dié eienaars kan nie die behandelingskoste opdok nie, want hulle sit self sonder ’n bron van inkomste.

Die kliniek benodig verder ook dringend ’n ekstra paar hande weens diere-eienaars van siek en beseerde troeteldiere wat hul drumpel deurtrap. Khayelitsha is digbevolk met tussen 200 000 en 300 000 troeteldiere.

Die kliniek, waaronder die hospitaal, teater en spreekkamers, is daagliks in gebruik met die helfte van die gewone personeellede, ten einde die moontlikheid van besmetting onder personeellede te bekamp. “Dit beteken minder hande om baie werk te doen,” sê Susan Wishart, hoofbestuurder van die kliniek.

“Die meeste troeteldiere wat in ons kliniek behandel word, se lewe is op die spel weens ’n lewensgevaarlike kwaal wat hulle onder lede het. Dit is omdat die diere in die gemeenskap aan baie vlooie, bosluise en wurms blootgestel word,” sê Du Plessis.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV)  en die Dierewelsynsvereniging trek ook finansieel swaar ten tyde van afsondering.

Dewald Wahlstrand, hoofbestuurder van die DBV se Waltloo-tak in Pretoria, sê hulle is reeds tweederdes van hul inkomste die afgelope drie weke kwyt.

“Ons verloor baie van die inkomste wat ons deur geleenthede, geldinsamelings en markte sou maak. Die feit dat mense ook nie in dié tyd diere kan aanneem nie, laat ook ʼn enorme finansiële leemte,” sê Wahlstrand.

Die DBV is elke dag beskikbaar as noodsaaklike diens en reageer op noodgevalle – veral waar diere mishandel of verwaarloos word.

Wahlstrand sê gedurende die eerste en derde week van die afsondering het hulle baie diere ingekry.

“Die eerste week het ons baie diere ingekry omdat gerugte versprei is dat die virus deur diere oorgedra kan word.”

Wahlstrand sê die diere wat langs die straat opgetel word, is wel aansienlik minder. “Dit kan wees omdat die eienaars nou by die huis is om ʼn ogie oor hul diere te hou en hul diere loop minder rond.”

Wahlstrand sê hulle is nou meer as ooit afhanklik van die publiek vir skenkings in die vorm van kos of geld. “Ons benodig veral sagte en harde kos vir klein hondjies en katjies. Ons het ook ʼn dringende nood vir katsand.”

Allan Perrins, woordvoerder van die Dierewelsynsvereniging se Philippi-tak in die Wes-Kaap, sê hulle ly ook ʼn enorme verlies omdat hulle geen inkomste van aannemings en geldinsamelingsinisiatiewe kry nie. Daar is ook al vier keer binne die afgelope drie weke van afsondering by hulle ingebreek.

Perrins sê die meeste eienaars is nie meer in staat om finansiële bydraes soos voorheen te lewer nie.

“Ons moet al die koste alleen dra tydens die afsonderingstydperk,” sê Perrins.

Die vereniging is slegs oop vir noodgevalle en geen elektiewe operasies of prosedures soos steriliserings kan in dié tyd geskied nie. “Daar gaan ʼn ontploffing in die bevolking van troeteldiere wees as eienaars vir ʼn maand nie hul vierpotiges kan steriliseer nie.”

Maak gerus hier ‘n donasie aan die Mdzananda-dierekliniek. Volg ook hierdie skakel om ‘n donasie aan die DBV se Waltloo-tak te maak en druk hier vir ‘n donasie aan die Dierewelsynsvereniging.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genis ·

Dis hartseer… kom mense kom ons help… die darem nie BEEE nie… dis neutraal…

Oujongvrou ·

Dit sal baie help as daar nou n nommer by die berig was sodat mens n bydrae kan insit. Soos ek lees dink ek dat ek aan die einde die besonderhede gaan sien. Maar niks. So die hele berig help niks.

Megan Swart ·

Dagsê Oujongvrou
Ons het die artikel gewysig en skakels na die betrokke organisasies bygevoeg.
Groetnis.
Megan
nms Maroela Media

Jurg ·

Dit is werklikheid ek is betrokke by shelters nood is hoog geen fondse en kos kom in nie. Huur moet betaal word vir al die hokke veearts rekeninge styg elke dag ook en honde word baie gered van strate af mishandelde en gebroke diere.

Genis ·

Ek dink daar moet platforms gesig word waar mense kan doneer… kyk na enca se fonds hoe vinning het hulle ingesamel…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.