Afsondering: Dís hoekom huishoudelike geweld toeneem

Argieffoto

Die tydperk van algehele afsondering het ʼn toename in gevalle van huishoudelike geweld teweeggebring.

Meer as 2 300 gevalle van geslagsgebaseerde geweld is binne dae aangemeld nadat die algehele landwye afsondering op 26 Maart ingestel is. Kenners meen geweld in huishoudings neem nou veral toe omdat daar geen toevlug of uitlaatklep buite die huis is nie. Mense kan nie wegkom van die omstandighede in die huis gedurende die afsondering nie. Hulle is ook meer gespanne oor hul finansies en die ekonomie

Die uitwerking op kinders in dié tyd is boonop soveel erger, aangesien hulle ook nie die situasie kan ontvlug nie.

Jeanette Blom-Prinsloo, ’n verhoudingsielkundige, het Woensdag gesê slagoffers van huishoudelike geweld is beslis meer weerloos gedurende die afsondering aangesien daar nie ’n toevlug na buite is nie. Die mishandelaar het ook geen plek buite die huis om aan sy frustrasies uiting te gee nie, wat daartoe lei dat die situasie in die huis soveel meer gekonsentreerd en plofbaar is.

Om sake te vererger, word die mishandelde nou ook afgesny van ’n ondersteuningstelsel soos familie of vriende wat gewoonlik die persoon help staande bly, verduidelik Bea Potgieter, ’n kliniese sielkundige, aan Maroela Media.

Volgens Potgieter is daar verskeie snellers wat nou tot ’n toename in huishoudelike geweld kan lei. Dié snellers is nie net die frustrasie wat met afsondering gepaardgaan nie, maar ook finansiële stres, aangesien talle Suid-Afrikaners tans bekommerd is oor hul werk en inkomste gedurende die Covid-19-pandemie. “Die mishandelaar kan nie beheer wat buite gebeur nie en haal dit dan op die mishandelde in die huis uit,” verduidelik Potgieter.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Dít ten koste van die kinders in die huis, wat daaronder ly selfs al word hulle nie self mishandel nie. Volgens Blom-Prinsloo het die afsondering ’n negatiewe invloed op kinders in ’n huis waar gesinsgeweld plaasvind, aangesien hulle fyn ingestel is op ’n ouer se emosionele welstand en nie nou skool toe gaan om hul huishoudelike omstandighede te ontvlug en te verwerk nie.

Potgieter verduidelik dat huishoudelike geweld in dié tyd sieldodend vir ’n kind kan wees. “Baie van hierdie kinders disconnect later met die werklikheid. Hulle ervaar ’n intense gevoel van magteloosheid en onttrek hulle dan aan enige gevoel of kreatiwiteit.”

Volgens Potgieter is sekondêre trauma geweldig erg vir kinders aangesien hulle nie volwasse genoeg is om te verstaan waarom ’n ouer mishandel word nie – hetsy emosioneel of fisiek.

Blom-Prinsloo en Potgieter verduidelik dat die mishandelaar gewoonlik spontaan in die publiek voorkom hoewel hy of sy ’n eggenoot of kind tuis fisiek of emosioneel skend. “So ’n persoon het twee kante – die kant wat die persoon aan die publiek wys en die kant wat by die huis ontbloot word. Hierdie kant is reeds aan die gesin bekend en die gedrag wat die persoon gewoonlik in die openbaar kan beheer, word nou veel erger by die huis,” verduidelik Potgieter.

Blom-Prinsloo verduidelik dat dit baie belangrik is vir paartjies om gedurende die afsondering te kommunikeer en veral grense en reëls aan mekaar te stel. Dit is ook belangrik om te besef wat die snellers in die huis is wat tot geweld lei – hetsy dit die skottelgoed is wat nie gewas word nie of die kos wat nie smaaklik genoeg is nie.

Potgieter raai mense aan om konflik te vermy, hoewel dit nie altyd moontlik is nie. Volgens Potgieter behoort die mishandelde ’n vertroueling buite die huis te hê na wie sy of hy kan uitreik. Die persoon moet ook met die owerhede kan kontak maak.

Argieffoto

Verbod op alkohol en sigarette

Blom-Prinsloo verduidelik dat die beperking van sigarette en alkohol gedurende die afsondering nie noodwendig bydra tot frustrasie wat om die beurt tot geweld in die huis kan lei nie.

Volgens haar gee alkohol in die meeste gevalle aanleiding tot gesinsgeweld, eerder as dat dit gewelddadige persone kalmeer. Sy glo dus nie die toename in gesinsgeweld word deur die beperking veroorsaak, of dat gesinsgeweld hoegenaamd sal afneem indien drank en sigarette gedurende die afsondering verkoop word nie.

Potgieter verduidelik dat ’n voorraad alkohol ook voor die afsondering aangekoop kon word.

Die mishandelde se regte

Bertus Preller, regskenner in familiereg, verduidelik aan Maroela Media dat klagtes van huishoudelike geweld in die Chinese provinsie Hubei verdriedubbel het toe ’n afsondering weens die Covid-19-pandemie vroeër vanjaar in dié provinsie ingestel is. Altesaam 90% van oorsake van geweld in dié provinsie het met die uitbreek van Covid-19 verband gehou.

Volgens Preller kan ’n slagoffer van huishoudelike geweld in Suid-Afrika ’n aansoek teen die mishandelaar gedurende die afsondering indien, aangesien die regstelsel as ’n noodsaaklike diens beskou word.

Preller het reeds verskeie van dié aansoeke namens slagoffers gedurende die afsondering ingedien. ’n Prokureur kan die aansoek namens ’n slagoffer behartig. ’n Slagoffer kan dit ook by sy of haar naaste polisiestasie aanmeld, waar die persoon deur die regte kanale verwys sal word om so ’n aansoek in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jack ·

Die kenners hier is verkeerd. Die beperking op alkohol en sigarette dra BESLIS by tot erge frustrasie en SAL bydrae tot gesinsgeweld !!!!!!

Johnny ·

As jy afhanklik is van verslawende goed om NIE jou gesinslede te mishandel nie, is dit laat in die dag.

Stefan ·

Ek het nog altyd gewonder hoe gaan dit met die vroue wat uitgegaan het met die ‘cool’ ouens met baie groot monde en permanente drankasems wat almal wat kleiner as hy was dikgeslaan het.
Nou weet ek.

Rodger17 ·

Da is dit nou!Nou ja daar weer n goeie verskoning hkm drank en sigarette nie verkoop mag word nie.As daar nie n verskoning is nie sal die regering een vinnig kry gló my

nats737 ·

Vir myself was die hele lockdown glad nie erg nie, maar daar is huis wat beslis nie dieselfde kan sê nie. Dit breek my hart in stukke om te dink daar is klein kindertjies wat nou nog erger as ooit mishandel word en ‘n mens voel magteloos.

Michael 1 ·

Meld dit aan ,ek glo nie aan n geklikery nie maar as klein kinders ly sal dit maar móét

Bets ·

Ja ek se took los die mense wat drink en rook laat hulle dit geniet nog al is dit in afsonderings tyd baie mense kalmeer so met n sigaret of n drankie

Marieta ·

Ek haat ook drank en sigarette met n passie. Maar ek dink ook dit sal beter wees as die verbod op sigarette gelig word. Ten minste het ek nog nooit gehoor van iemand wat beheer oor sy fakulteite verloor het weens die gebruik van sigarette nie. Inteendeel, ek dink dit kalmeer juis die rokers wat ek ken en maak hulle erg ongeduldig as hulle dit nie het nie. Drank aan die ander kant, is na my mening n euwel, wat liefs nie nou op mense losgelaat moet word nie. Baie mense is al erg frustreerd, en drank gaan die frustrasies net onbeheersd laat raak. Drank is ook al hoeveel male die sondebok in gevalle van gesinsgeweld.

Martie Smartie ·

Me Blom-Prinsloo en Me Potgieter moet dalk meer wetenskapilk wees in hulle raad gee. Kan hulle wetenskaplik argumenteer hoe algehele frustrasie van alkohol/ tabak weerhouding opweeg teenoor suiwer geweldadige persone? En Potgieter wat kwytraak dat mense kon voorraad koop voor die inperking – mense kon sekerlik nie raai dat dit onverwags met nog twee weke verleng gaan word nie? Sielkundiges moet soms bietjie lateraal dink en nie hamer op ou geykte idees nie.

msp ·

Dis die domste nuusberig wat ek nog gelees het op Maroela Media, die vrou wil net haar eier lê om belangrik te lyk. Die verbod op drank en sigerette is dié en die grootste rede vir gesinne geweld. Ek rook en drink nie en daars 100% rustigheid in my huis, my kinders en vriende het voor die tyd voorsiening gemaak en almal van hulle is rustig. Ook weet ek van mense wat nie voorsiening gemaak het nie en daar is dit waar die vonke spat. Kyk na feite en houop om dinge te verkondig wat jy dink. Ek kry baie kinders veral baie jammer. Jy kan nie net sigerette of drank van mense wegvat nie. Kyk mooi hoe bottelstore gestroop word en die moedswillige besluit van die regering gaan hulle nog duur testaan kom.

Callie ·

Ek het nog nooit ‘n artikel gelees wat groter snert kwytraak nie. Als gebaseer op hulle eie opinies. Stilbly sou beter wees.

Sokrates ·

Rehabilitasie sentrums vir verslawing werk met feite as dit kom by ontrekking en uitdroging. Dis nie n grap nie, en is n emosioneel-en fisiese pynlike pad vir n verslaafde om te loop. Hoe op dees aarde kan die minister sommer net dink dat hy beter weet as die rehabilitasie sentrums? Dat mense wat verslaaf is aan nikotien of alkohol eenvoudig net botweg op hul eie KAN stop? Die skielike ontrekking van chemiese substanse gáán erge fiesieke en emosionele stres veroorsaak, en dit SAL n ander uitlaatklep vind. As dit so maklik was, sou ons mos nie rehabilitasie sentrums nodig gehad het nie. Beperk dan liewers die hoeveelheid alkohol wat per keer gekoop kan word, of die tye van verkoop. Maar dink asseblief n bietjie meer geskakeerd.

Geregistreerde sielkundiges moet verkieslik wetenskaplik gefundeerde menings gee, nie algemeenplasige persoonlike gedagtes nie………dit is onprofessioneel en help niemand nie.

Ettienne ·

As opgeleide berader wens ek effe van bogenoemde te verskil: Beide alkohol en nikotien is verslawend. Dit is deur sosiale-, mediese- en statistiese studies bepaal dat die (oormatige en onoordeelkundige) gebruikvan alkohol kan lei tot verhoogde vlakke van agressie in die gebruiker. Dit is egter ook deur sosiale-, mediese- en statistiese studies bepaal dat omblikklikke onttrekking (die sogenaamde “cold-turkey) van nikotien lei tot verhoogde spanningsvlakke, irritasie en verhoogde vlakke van agressie. Gedurende toestande van langdurige inperking soos waaraan ons tans blootgestel is, is die kans goed dat hierdie kan lei tot die verhoogde voorkoms van gesinsgeweld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.