Afsondering: Dís wanneer departement skole wil oopstel

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Deur Jan-Jan Joubert en Tania Heyns

Die departement van basiese onderwys beplan dat skole in Suid-Afrika tentatief op 4 Mei vir onderwysers en 6 Mei vir bepaalde leerders heropen. Sou dié plan in werking gestel word, sal slegs leerders in graad 7 en 12 aanvanklik toegelaat word om terug te keer skool toe. Die matriekeksamen en matriekkurrikulum sal na verwagting voortgaan soos beplan.

Hubert Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, het Woensdag die departement van basiese onderwys se voorlopige plan met die skooljaar bekend gemaak te midde van die Covid-19-pandemie. Dié plan moet nog aan verskeie partye voorgelê word en sal in ’n latere stadium bevestig word, het Mweli benadruk. Die minister van basiese onderwys sal na verwagting Donderdag finale reëlings hieroor bekend maak.

Mweli se aankondigings stem ooreen met Maroela Media se vroeëre berig oor wat die departement vir die heropening van skole oorweeg.

Luidens die departement se plan sal leerders soos volg terugkeer skool toe:

Grade Tentatiewe datum van terugkeer
Graad 7 en 126 Mei 2020
Graad 6 en 1120 Mei 2020
Graad 5 en 103 Junie 2020
Graad 4 en 917 Junie 2020
Graad 3 en 81 Julie 2020
Graad 2 en 18 Julie 2020
Graad R15 Julie 2020

 

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Die departement beplan ook om die wintervakansie met ’n week en die Septembervakansie met ’n dag te verkort. Die Junie/Julie-vakansie sal dus sowat ’n week lank wees, terwyl die skole in September vir sowat vyf dae oor ’n langnaweek sal sluit. Die tweede kwartaal sal wees van 6 Mei tot 26 Julie. Die derde kwartaal is van 3 Augustus tot 23 September. Die vierde kwartaal is van 28 September tor 9 Desember. Onderwysers sal tot 11 Desember by die skool moet wees.

Dít omdat sowat 25 skooldae (vyf weke) verlore gegaan het weens die algehele landwye afsondering in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika te beperk, het Mweli verduidelik.

Luidens die departement se plan sal skole aan die einde van die jaar op 9 Desember vir leerders en 11 Desember vir onderwysers sluit.

Eksamens

Mweli het verduidelik dat geen veranderinge na verwagting aan graad 12’s se kurrikulum gemaak sal word nie. Die hele kurrikulum sal dus in die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen vervat word.  Ander grade se kurrikulum sal hersien word en dié leerders sal gedurende eksamens op 80% van die kurrikulum geassesseer word.

Luidens die plan sal graad 12’s na verwagting steeds hul September- voorbereidende eksamen soos beplan aflê. Matrieks se Mei/Junie-eksamen sal egter met die Oktober/November-eksamen gekombineer word. Dié eksamen sal dan vir November/Desember vanjaar geskeduleer word.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Volgens Mweli maak die departement se plan voorsiening daarvoor dat eksamenvraestelle tot die einde van Desember gemerk word. Eksamenuitslae sal na verwagting vanaf middel tot einde Januarie 2021 bekend gemaak word.

Ander fasette van die plan

  • Leerders wat terugkeer skool toe sal voortaan vir Covid-19 nagegaan word voordat hulle in die skool toegelaat word. Leerders se temperatuur sal dus daagliks geneem word.
  • Leerders en personeel sal ook verplig word om hul hande te ontsmet en lapmaskers deur die loop van die skooldag te dra. Lapmaskers sal voorsien word, het Mweli gesê.
  • Sosiale afstand sal gedurende ’n skooldag gehandhaaf word. Slegs twee leerders sal dus toegelaat word om ’n lessenaar te deel. Afstand moet tussen lessenaars gehandhaaf word en lessenaars sal dus nie in groepe geskuif mag word nie.
  • Klaskamers sal ontsmet word. Leerders se beweging tussen klasse sal beperk moet word. Geen omhelsing of bladskud sal toegelaat word nie.
  • Busse wat leerders na skole vervoer, sal op ’n gereelde grondslag ontsmet word. Leerders sal hul hande moet ontsmet voordat hulle op die bus klim. Alle passasiers sal ook maskers gedurende die rit moet dra.
  • Die Lewensoriëntering-kurrikulum sal aangepas moet word om lesse oor persoonlike higiëne, selfstudie en emosionele en sielkundige trauma in te sluit. Elke les sal ook bewusmaking van vyf minute lank oor Covid-19 moet insluit.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Volgens Mweli het sowat 3 500 skole oor die land tans hulp nodig met die voorsiening van water. Die meeste van dié skole is in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap geleë. Die departement van water en sanitasie sal watertenks aan dié skole aflewer om higiëne by skole te kan handhaaf vir die res van die skooljaar. Onderwysvakbonde het die afgelope week aangedring dat skole nie oopmaak voordat die nodige gesondheid- en veiligheidsmaatreëls ingestel is nie. Dit sluit in dat skole van watertenks en skoon toilette voorsien word.

Wanneer skole heropen, sal beskermende mediese kleredrag aanvanklik aan alle skole in kwintiel 1 tot 4 verskaf word. Daarna sal net skole in kwintiel 1 tot 3 dié kleredrag ontvang. Die verskaffing hiervan is gesentraliseer en die tender is toegeken aan Imperial Health Services.

Een van die aspekte wat problematies kan wees en nog nie heeltemal uitgesorteer is nie, is dat daar op spesifieke tye verskille kan wees in die veiligheidsvlak (van 1 tot 5) in verskillende provinsies, distrikte en metro’s. Dit is ook nog nie duidelik hoe onderwysers bo 60 jaar oud verkieslik van die huis af kan werk nie, het Mweli gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Wat van kleuterskole. Het enigiemand enige idee wat daar die plan is, meeste mammas wat enkel ouers is sit met hul hande in die hare, want hulle moet inkomste genereer en kind oppas. Dis n krisis.

Elsa

Dis goed
Nou kan alle besighede ook oop gestel word
Vandag 93 uit 58miljoen oorlede. Dit maak mos nie sin om n land met so n persentasie te sluit nie

charmaine

So die kinders wat later as 6 Mei teruggaan se ouers kan spesiale verlof kry indien hulle moet gaan werk? wat se die WET?

Boerkind

Ek en my vrou is bo 60 en totaal gesond… Ons kleinkind bly by ons. Waarom moet gesonde “ouer” mense toegesluit word? Wie sal ons kleinkind skool toe neem en gaan haal? Heel ondeurdag en onprakties!

Joye

Die graad 7 tot graad 12 sal die reëls kan handhaaf. Maar hoe gaan hulle die reël handhaaf by graad R tot graad 4 moenie my verkeerd verstaan nie maar die kinders het nou dan nie ore nie en luister nie. Dan op ‘n ander noot die regering het dan nie eers genoeg geld om eers die hele van skool boeke, tafels, stoele en voorts te verskaf nie. My vraag is waar gaan hulle nog maskers, oortrek klere, ontsmettingsmiddel kry? Die regering kom nou met beloftes beloftes tot dit moet gebeur wat beloof is dan is daar nie fondse vir… Lees meer »