Afsondering: Familie van slagoffer vra beslissing teen weermag, polisie

Die konstitusionele hof. (Foto: Ashraf Hendricks)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Familielede van Collins Khosa, wat hulle aanvoer dood is nadat soldate hom gemartel het, vra die Konstitusionele Hof vir geregtigheid vir hom en ander slagoffers van “afsonderingstydperk-wreedheid”.

Die familie sê sy dood is die negende sedert die landwye afsondering in werking gestel is wat “oorweldigend bewys dat die veiligheidsmagte die afsonderingstydperk beskou as toestemming om mag te gebruik en burgerlikes te straf”.

Hulle vra die hof om gewone Suid-Afrikaners se regte te bevestig en ʼn streng boodskap te stuur dat sulke gedrag nie geduld gaan word nie.

Hulle vra ook dat lede van die weermag, metropolisie en polisie wat tydens die beweerde aanval op Collins teenwoordig was dadelik ontwapen word.

Hulle vra ook vir ʼn bevel wat die minister van verdediging en polisie dwing om hul lede te waarsku om slegs minimum geweld te gebruik, om ʼn gedragskode te ontwikkel en bekend te stel en om ʼn span saam te stel wat klagtes kan ondersoek. Die hof moet die uitvoer van dié bevel monitor.

Hulle eis ook ʼn “spesiale ondersoek” onder leiding van ʼn afgetrede regter om alle bewerings van wreedheid deur die veiligheidsmagte tydens die afsonderingstydperk te ondersoek.

Mphephu Khosa was die 40-jarige Collins, ʼn pa van drie, se lewensmaat. Hy het vantevore by Chipkins Bakery gewerk.

In haar beëdigde verklaring sê Mphephu weermaglede het laatmiddag op 10 April die huis ingekom en hulle daarvan beskuldig dat hulle die regulasies van die afsonderingstydperk oortree het. Hulle het na ʼn kampstoel en ʼn halwe glas alkohol in die erf verwys. Daarna het hulle die huis bestorm en beslag gelê op twee biere.

Sy sê hulle het buite die huis bier oor Collins se kop uitgegooi, hom gewurg, teen ʼn sementmuur gestamp, hom met ʼn geweerkolf geslaan, geskop, geklap en geslaan.

Hulle het glo ook sy swaer, Thabiso Muvhango, aangerand.

Mphephu voer aan sy is met ʼn sambok geslaan.

In beëdigde verklarings sê sommige van die gesin se bure hulle het video’s van die voorval gemaak, maar dat die soldate hulle gedwing het om dit uit te wis.

Collins het drie uur later gesterf en die oorsaak van sy dood is aangedui as ʼn hou teen die kop.

“Ons is in absolute skok. Ons is emosioneel platgeslaan en het alle vertroue in die veiligheidsmagte verloor,” het Mphephu gesê.

Sy verwys ook na verskeie ander voorvalle van geweld en sterftes. “Die ministers van verdediging en polisie het nog nie die optrede van diegene verantwoordelik veroordeel nie,” sê sy.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het mense wel gemaan om soldate en wetstoepassers nie “uit te lok nie”. Die minister van polisie, Bheki Cele, het die polisie terselfdertyd aangemoedig “om mense in hul huise in te dwing as hulle weier”. Cele het in reaksie op bewerings van wreedheid gesê “dis wreedheid as daar nie na ons geluister word nie”.

“Ons glo ʼn soortgelyke lot gaan ons tref as niks gedoen word om hierdie onbeteuelde brutaliteit te stuit nie,” het Mphephu gesê.

Die familie glo nie daar was tot dusver enigsins ʼn “geloofwaardige ondersoek” na Collins se dood nie. “As ʼn ondersoek gedoen word, is dit sonder deursigtigheid, onafhanklikheid of doeltreffendheid. Die howe moet dit dophou en dit moet dadelik gedoen word.”

Wikus Steyl, die familie se regsverteenwoordiger, het gesê die minister van polisie het aangedui hy gaan geen beantwoordende verklarings indien tot hoofregter Mogoeng Mogoeng ʼn beslissing oor die toekoms van die saak gemaak het nie.

Hy het aan GroundUp gesê die minister van verdediging win in dié stadium regsadvies in, maar gaan nie teen die spertyd van Woensdag hofstukke kan indien nie.

 GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronel ·

Weereens bewys van geweld wat toegesmeer gaan word. Die Minister van Polisie kan nie sy personeel beheer. Magsvertoon en brulateit orde van die dag.

Sonneblomkind ·

Dis nie aanvaarbaar nie. Wat het hulle in sy huis gesoek…. die arme mense het ook regte. Wie gee die magte die reg om jou huis te betree as jy niks verkeerd gedoen het nie. Wys jou nou net… jou lewe is niks werd nie. Dit is bitter om dit te moet lees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.