Afsondering: Formele sektor swaar getref – StatsSA

(Grafiek: pixabay)

Baie besighede in die formele sektor het reeds geweldige verliese gely weens die instelling van ʼn tydperk van algehele afsondering om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Só wys ʼn opname deur Statistieke SA wat onder 707 sakeondernemings gedoen en Maandag bekendgemaak is.  Baie van die ondernemings het aangedui dat hulle nie seker is of hulle hul bedrywighede vir die duur van die pandemie sal kan voortsit nie.

Ondernemings is gevra hoe die afsonderingstydperk hul bedrywighede tussen 30 Maart en 13 April beïnvloed het.  Luidens StatsSA se verslag het vyf uit elke ses besighede (84%) ʼn afname in omset in die genoemde tyd beleef.  Ondernemings in die konstruksiebedryf, eiendomsmark en vervoer is die swaarste hierdeur geraak.

Foto: Josh Appel/Unsplash.com

Amper die helfte (42,2%) van ondernemings het aangedui dat hulle nie genoegsame finansiële hulpbronne het om vir die duur van die pandemie met bedrywighede voort te gaan nie.  Meer as die helfte (54%) van respondente het aangedui dat hulle slegs ʼn paar maande sonder enige omset kan oorleef.

“Omtrent die helfte van ondernemings wat aan die opname deelgeneem het, moes tydelik hul deure sluit,” sê StatsSA in ʼn verklaring.  Meer as ʼn derde (26,8%) van dié ondernemings voorsien ʼn afname in die aantal werknemers wat hulle tans in diens neem.

Luidens die verslag het die meeste ondernemings aangedui dat hulle reeds maatreëls ingestel het om die impak van die pandemie op hul werksmag te bestuur.  Dit sluit in ʼn afname in werksure en tydelike aflegging van personeel.  Slegs een uit elke vier ondernemings het nog geen maatreëls ingestel nie.

“Die meeste ondernemings is van mening dat die Covid-19-pandemie ʼn groter negatiewe impak op hul ondernemings gaan hê as die wêreldwye finansiële krisis van 2008-’09. Slegs 4,3% van respondente het aangedui dat hulle dink die impak sal dieselfde wees,” sê StatsSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Die doel van Covid-19 is nog moeilik om te verstaan, maar ‘n doelbewuste verandering in die ekonomie en veral toerisme is moontlik. Hierdie verandering is grootliks gebaseer op klimaatsverandering vrese en werklikhede. Verdere ingrypings deur ons eie regering kan volg om hul Rewolusie te pas en die ongelykhede aan te spreek wat hulself vir verantwoordelik is.

koos ·

Duidelik besef die huidige regime nie wat dit aan hulle belastinginkomste gaan doen nie…bwahahaaa

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.