Afsondering: Geld opsy gesit om landbousektor te help

Die MD Foundation het ook ‘n melkplaas. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het ʼn spesiale ondersteuningsplan van R1,2 miljard aangekondig vir die landbousektor om spesifiek inkomsteverlies tydens die tydperk van algehele afsondering te verlig.

Die verligting is spesifiek gemik op winterprodusente, asook op kleinskaalse bestaansboere en kommuneboere. Ander landbouhulpprogramme van die staat gaan onverpoos voort – hierdie program is bykomend daartoe.

Van die R1,2 miljard is R400 miljoen vir kleinskaalse bestaansboere geoormerk en die res vir meer kommersiële boere, met voorkeur aan boere met ʼn omset van R50 000 tot R1 miljoen per jaar.

Die hulp sal nie in die vorm van geldelike uitbetalings wees nie. Die voordele en die landbouprodukte waarop daardie voordele van toepassing is, is baie spesifiek:

  • Die pluimveebedryf sal gehelp word met die voorsiening van dagoue kuikens, lêhoenders, voer, medikasie en saagsels.
  • Veeboere, varkboere en boere wat met ander diere boer, sal gehelp word met medikasie en voer.
  • Groenteboere sal gehelp word met saailinge, kunsmis, gifstowwe, plantstowwe en grondherstel.

Herman Scholtz voer lammers op ‘n plaas by Griekwastad. (Foto: Elaine Krige)

Ander bedrywe sal op ʼn individuele grondslag baat vind namate groter duidelikheid oor prosesse verkry word en die regering van verdere behoeftes bewus raak, het Didiza gesê. Uitvoere word volgens haar tans nie struktureel geraak nie.

Om in aanmerking te kom vir die korona-landbouhulp moet boere:

  • Suid-Afrikaanse burgers of buitelanders met permanente verblyfreg wees, wat reeds meer as 12 maande lank boer en tans in hul produksieseisoen is;
  • geregistreer wees as ʼn boer in Suid-Afrika op die kommoditeitsdatabasis of provinsiale landbou-databasis;
  • kommuneboere wees; of
  • ʼn jaarlikse omset van tussen R50 000 en R1 miljoen hê.

Sowat 50% van die staatshulp sal gaan aan boerderye wat deur vroue, jong mense of gestremdes bedryf word.

Die staatshulp mag nie vir meganika of meganisering gebruik word nie, en ook nie vir infrastruktuur of oorhoofse koste nie. Dit is ook nie bedoel vir somerproduksie-gewasse nie en mag nie gebruik word om skuld te betaal nie. Boere wat reeds staatshulp ontvang, kom nie in aanmerking vir hierdie hulpprogram nie.

Aansoeke vir koronaverwante staatshulp kan slegs van 8 tot 22 April gedoen word by die e-posadres [email protected] of op die webblad www.dalrrd.gov.za. Boere kan ook by die nasionale departement van landbou se kantore of by provinsiale landboudepartemente se kantore aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Regtig? Soos die droogte hulp vir boere wat in Gwede en kie se kele beland het… Was glo vreeslik droog gewees daar diep in die keel!

Oubobbejaan ·

Dus te goed om waar te wees . Hoop ons word veras. Maar ons almal ken die verskoonings na die tyd. Jy vang nie ñ oubobbejaan nie.

Estelle ·

Daar sal wel n kinkel in die kabel wees. Klink te goed om waar te wees.

Anel ·

Hoe diskrimenerend wil hulle nog wees? Wonder wst hulle gsan maak as daar niks is om te eet nie. Bestaanboere sorg vir homself. So, as ek groente tuin en paar hoenders aanhou is ek bestaansboer, en ek is ‘n vrou. Dan kan ek kwalikfiseer. Die spul is siek, man.

Sakkie ·

Anel , net soos jy se. Die hulp is nie vir boere wat kos op die land se tafels sit nie. Dit is weereens net n bewys dat die regering nie bevoeg is om insig gewende besluite te neem nie. Ek werk in die landbou sektor. Ek was n rukkie gelede by n boer wat n klient van my is. Hy huur grond by n sogename boer wat n stuk grond gekry het. Vir 5 jaar gee die staat vir hom instmiddels soos kunsmis , saad ens. Hy plant nie en betaal ook nie sy lening af nie. So vinnig as wat diesel vir hom afgelaai word verkoop hy dit weer vir. Hy word nie besoek nie of niks word gedoen nie. Wonder net waar gaan dit stop

Michael 1 ·

Dit is hoe dit gewoonlik verloop,hulle sê vir boere en n week later kom die waarheid gewoonlik uit net soos met die hulp vir die klein besighede n paar weke terug tyd sal leer.

Jaco ·

Boere moet maar versigtig wees met dié “hulp”. Elkeen wat daarvan gebruik word maklik oor ‘n jaar eerste onteien sonder vergoeding…

Yvonne ·

Hierdie geld gaan dalk ook net so verdwyn soos alreeds bewys

Objektief ·

Malawi se kabinet gee 10% van hulle salaris; Woolworths se Direksie gee 30% van hulle salaris; “White Monopoly Capitalist” soos Rupert en die Oppenheimers gee: Wat gee ons parlement; Veral die president??

Hulle sit immers by die huis op die oomblik en wat se werk doen hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.