Afsondering: Gereformeerde Kerk vra dat kerkbyeenkomste voortgaan

Argieffoto

Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) het Sondag in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa  versoek dat kerkbyeenkomste en pastorale berading tydens vlak 4-afsondering voortgesit word. Dié byeenkomste, sê die kerk, sal aan streng voorwaardes voldoen.

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die GKSA se deputate vir owerheid, sê die kerk versoek dat een byeenkoms per kerk, wat uit hoogstens tien gemeentelede bestaan, op Sondae toegelaat word.

“Dié byeenkomste sal steeds aan die algemene vlak 4-afsonderingsregulasies voldoen – byvoorbeeld deur die dra van gesigmaskers en die handhawing van ’n afstand van 1,5 m tussen mense.  Handreinigermiddels sal beskikbaar gestel en fisieke kontak verbied word,” het Aucamp gesê.

Aucamp sê predikante van verskillende gemeentes het tydens die afsonderingstydperk onverpoos hul preke aanlyn aan gemeentelede probeer beskikbaar stel. Alle gemeentelede het egter nie toegang tot dié preke gehad nie.

“Die grootste probleem wat ons ervaar, is dat daar talle lidmate is wat nie deur sosiale media bereik kan word of nie internet het om die dienste aanlyn te kyk nie. Ons ervaar dit veral onder ons ouer of behoeftige lidmate,” sê Aucamp.

Volgens Aucamp het van die gemeentelede ook begin vereensaam weens die gebrek aan die fisieke samekoms van gelowiges.

Weens dié toenemende gevoel van eensaamheid en hopeloosheid onder gemeentelede versoek die kerk dat “pastorale berading deur behoorlik geordende predikers” deel vorm van noodsaaklike dienste wat onder gesondheid, maatskaplike en persoonlike dienste in die regulasies vir vlak 4 ingesluit word.

Aucamp sê die huidige regulasies lui tans dat berading wel tydens vlak 4 van afsondering toegelaat word, maar kerke wil graag duidelikheid daaroor hê of dit wel na pastorale berading ook verwys.

“In dié moeilike, onsekere tyd is dit van sleutelbelang dat ons nou verál ons gemeentelede moet dien en vertroos,” sê Aucamp.

Aucamp sê die kerk sal ook van die kleiner byeenkomste op Sondae gebruik wil maak om van die gemeentelede wat in nood is te help. “Baie van die dienste wat die kerk lewer, is ook noodsaaklik.”

Aucamp sê deur die kleiner byeenkomste toe te laat, kry die kerkraad boonop die geleentheid om voorstelle wat die gemeentelede deur sosiale media deurgee, te koördineer en te finaliseer, en om só aandag te gee aan die nodige en dringende aangeleenthede wat moontlik ontstaan.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pensionaris Sedgefield ·

As meer as 10 mense in die supermark kan wees hoekom kan gemeentes met groot kerkgeboue waar gesonde afstande gehandhaaf kan word nie met meer mense eredienste hou nie. Hoe sinvol is 10 mense nou regtig in ‘n erediens? Wie kom en wie bly by die huis? Het dit nie tyd geword dat kerke hulle stemme sterker laat hoor oor die inperking van ons vryheid om ons Godsdiens te bedryf nie? Ons is mos nie onverantwoordelik nie.

Johann ·

Liewe Pensionaris. Ek en jy is dalk verantwoordelik genoeg maar die algemene mens daar buite is nie. Ons word die “mensdom” genoem want “die mens” is na regte “dom”! As hulle die gereformeerde kerk toelaat omdat ons verantwoordelik is gaan alle godsdienstige instellings dieselfde verwag. Ons godsdientelike vrye bedeling het n paar alternatiewe kulture tussen in wat ek jou kan waarborg gaan Detol drink of Doom spuit by die byeenkomste teen COVID19. Nee wat, ek stel voor kerke samel geld in vir Data bundles en gee dit vir mense wat sukkel om aanlyn dienste te kyk.

Ansie ·

Ek wil ook bitter graag weer kerk toe gaan, maar ek weier om my mede-kerkgangers se gesondheid/lewens in gevaar te stel. Ek dink die versoek is ietwat voortydig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.