Afsondering: Harmony Goud se werkers vrees vir hul gesondheid

Argieffoto ter illustrasie Foto: Agnico-Eagle Mines Limited via Wikimedia Commons

Werknemers verbonde aan Harmony Goud vrees vir hul gesondheid nadat die myn aangekondig het dat hul goudaanlegte landwyd steeds in die tyd van algehele afsondering in werking sal wees en werkers dus steeds op die persele moet wees.

Vakbonde is woedend hieroor en sê die myn is “roekeloos” en stel mense se lewe in gevaar deur hulle bloot te stel aan die koronavirus.

Die myn voer egter aan dat die regering juis dié vergunning gemaak het, aangesien hulle nie andersins die volgende drie weke ekonomies lewensvatbaar sal kan wees nie en verdoemende finansiële verliese sal ly.

Volgens die regulasies van die nasionale Rampbestuurswet wat die afgelope week gepubliseer is, word goud- en steenkoolmyne as noodsaaklike dienste beskou. Dit geld egter net vir myne wat steenkool aan Eskom verskaf en mynwerkers wat verantwoordelik is vir noodsaaklike instandhoudingswerk by goud- en steenkoolmyne.

Maroela Media het ʼn brief onder oë gehad wat Harmony Goud Donderdag aan sy werknemers gestuur het. Hierin skryf Beyers Nel, hoof- uitvoerende beampte, dat die myn toestemming by die regering gekry het om voort te gaan met werk by metallurgiese aanlegte en mynbedrywighede aan die oppervlak van die myn. Dié aanlegte word gebruik om goud uit die erts te haal wat ondergronds gemyn is. Die toestemming strek dus nie tot ondergrondse mynaktiwiteite nie en die myn gaan ook nie voort met dié aktiwiteite nie.

mynboubedryf-02

(Foto: Wilhei/Pixabay)

“Ek versoek daarom ons werknemers en kontrakteurs om voort te gaan met werk by dié aanlegte vir die duur van die 21 dae van algehele afsondering,” skryf Beyers. “Die myn het ook reeds toestemming ontvang vir alle werknemers om na en van die werk te reis en elke werknemer sal ʼn permit ontvang as bewys van hierdie toestemming.”

Nel sê die myn bly toegewyd daartoe om die verspreiding van Covid-19 te beveg en sal daarom voortgaan om maatreëls met betrekking tot higiëne en distansiëring van werkers af te dwing.

Werknemers vrees egter nou vir hul gesondheid en dié van hul families.

Verskeie van Harmony Goud se werkers het aan Maroela Media gesê daar is nog “duisende” werkers bedrywig op die myne. “Die bestuur het vir ons gesê as ons nie werk nie, word ons gefire,” sê ʼn  mynwerkers van Harmony Goud in Virginia in die Vrystaat. “Hulle plaas ons hele gemeenskap in gevaar.”

Nóg ʼn werknemer sê baie van die werkers is reeds oud en sieklik. “Harmony wil ons dood hê. Ons moet by die werk wees, ongeag ons families.”

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, sê hulle is baie bekommerd oor veral goudmyne se bedrywighede in die tyd van afsondering. “Dit wil voorkom of sommige myne voortgaan met produksie, terwyl hulle eintlik net veronderstel is om personeel aan te hou wat noodsaaklik is vir instandhouding van die myn.” Du Plessis sê dit is wel so dat myne die inkomste nodig het om salarisse te betaal. “Maar die prys wat myners en hul gesinne hiervoor betaal, is eenvoudig te hoog.”

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Livhuwani Mammburu, nasionale woordvoerder van die mynwerkersvakbond NUM, sê wat myne nou doen, is “roekeloos en onmenslik”. Indien een van hierdie mynwerkers Covid-19 opdoen, behoort die mynbase aanspreeklik gehou en sommer in hegtenis geneem te word, sê hy.

Marian van der Walt, woordvoerder van Harmony Goud, het bevestig die myn het toestemming van die regering om met sekere bedrywighede voort te gaan. “Die bedryf van die goudaanlegte is absoluut nodig vir Harmony om lewensvatbaar te bly. As ons vir 21 dae heeltemal toemaak, sal dit katastrofiese gevolge vir die bedryf hê,” sê sy.

Volgens Van der Walt het die maatskappy egter uitgebreide en buitengewone voorsorgmaatreëls ingestel en maak seker dat die regte maatreëls gevolg word om goeie higiëne te verseker. “Werkers se veiligheid is Harmony se eerste prioriteit.”

Van der Walt sê die maatskappy is bewus van werkers wat ontevrede is dat hulle moet werk, maar menslike hulpbronne hanteer hierdie klagtes. Sy ontken dat werkers summier afgedank sal word, sou hulle nie opdaag vir werk nie. “Ons sal graag wil weet wie die bestuurders is wat hierdie dreigemente maak, sodat ons dit kan aanraak.”

Sy sê alle werkers wat nie verplig word om in die volgende drie weke te werk nie, se salarisse word volledig betaal en salarisse vir Maart is vroeg betaal sodat werkers kon voorbrand maak vir die tydperk van afsondering. “Diegene wat van die huis af kán werk, is ook in staat gestel om dit te doen,” sê Van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Flip ·

Daar is baie maatskappye wat miljoene verloor, maar hierdie besluit om aan te hou goud produseer klink vir my roekeloos. Ander besighede gaan moontlik toe maak as gevolg van die verliese, maar hulle werknemers se veiligheid word hoër geag as winste.

ElizeK ·

Maar kyk hoe kook my bloed nou weer!!! Regtig Harmony, dink julle ander besighede sal lewensvatbaar bly.
Weet nie of ons besigheid na 21 dae weer sy deure sal kan oopmaak nie.
Oorhoofse uitgawes MOET gedek word sonder n sent wat in die tyd genereer word.

Cherokee ·

Ek lees in ‘n ander artikel, dit word betwyfel of Edgars en Jet weer sal oopmaak.

Jan ·

Daar is baie ander siektetoestande wat gevaarliker is as die koronavirus wat al jare bestaan…en kyk maar die statistiek minder as 1 persent van die koronapasiente sterf en dis boonop ou mense oor 80…so waaroor die bohaai lyk my gideon kan nie die sitiasie in perspektief sien nie…

Flip ·

Jan, as jy 100 jelly tots het waarvan een dodelik giftig is maar jy weet nie watter een nie. Sal jy dit vir jou kinders gee om te eet omdat hulle nie oor 80 is nie?

Danie ·

Flip en Elize, ek kan jou waarborg die werkers is meer beskerm by hulle werke as by die huis of op straat soos baie van hulle is. Julle het heelduidelik nie kennis oor die myne nie. Ek werk eerder en tref elke voorsorg maatreel voor ek my kinders in die oë moet kyk as ek nie kan sorg nie. Die wonderlikke unie sal nie na my omsien nie nog minder die regering en kerk. As ek sien hoe die myner tannies in checkers die laaste week tekere gegaan het was hulle glad nie besorg oor hulle mans nie. Die virus het nie gister begin nie.

Jan ·

Maak die myn toe daars baie armblankes wat graag daai werk wil he…dan kan hulle maar verhonger by die huis…en dit oor n virus wat nie eers 1 uit 100 gevalle fataal is nie…

Flip ·

Jan, jy is duidelik oningelig. Dit staan op 18 uit 100……

MJ77 ·

Dis bog. Ek stem saam dat die mans wil werk, want hulle wil steeds hulle werk verseker en behou, maar is angsbevange dat hulle die virus kan op doen weens geen voorsorg by die myn nie.
En die tannies waarna jy verwys moet kos hê tuis om vir haar man ‘n blik te pak vir werk en om kosnte kook om reg te hê vir wanneer hy tuis kom. So ook moet sy haar kids voed. Die feit dat aankope gedoen was deur dien”tannies” beteken juis dat sy besorg is oor haar man. SPEAK FOR YOURSELF

Flip ·

Danie, ek wil ook graag werk want hierdie 21 dae gaan ALLE besighede n knou gee en niemand weet wat die toekoms gaan inhou nie. Jy is reg, ek weet niks van die mynbedryf nie. My vraag is egter, hoekom vrees mynwerkers by Harmony vir hul gesondheid as dit dan so veilig is soos jy sě?

MJ77 ·

Die werker van die Harmony myn in Virginia praat die waarheid oor die onveiligheid by die myn ten opsigte van die Coronavirus. Daar is niemand by die myn wat die werkers toets vir koors nie, daar is nie handskoene of maskers nie en daar was dreigemente van bestuur wanneer hulle ongelukkigheid uitspreek oor die afwesigheid van beskerming teen die virus in die werksplek.
Dalk is die ander Harmony myne se voorsorg in plek, maar die myne in die Vrystaat kan beslis ondersoek word. Die werkers voel blootgestel en vrees regtig vir die gesondheid van hulleself sowel as hulle families, want as hulle nie voldoende beskerm kan word in die werksplek nie en as gevolg daarvan dalk die virus by die werk optel en huis toe neem, word die hele familie besmet en is die 21 dae “lockdown” dus eintlik vir hulle van geen waarde.
Vrouens tuis is onder geweldige druk en vrees oor die gesondheid van hulle mans en ook families weens die myn se “ignorance” teenoor die epidemie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.