Afsondering: ‘Heropen alkoholbedryf’, pleit rolspelers

(Foto: pixabay)

Die alkoholbedryf het ʼn dringende beroep op die regering gedoen om die vervaardiging, verspreiding en handel in drank op vlak 3 van die landwye inperking toe te laat – en in die proses ʼn miljoen werksgeleenthede en die bedryf se bydrae tot die staatskas te red.

“Die alkoholbedryf is verbind tot die heropening van die land se ekonomie om die inkomste van ons mense te red, terwyl ons terselfdertyd die nodige veiligheidsmaatreëls volg om die verspreiding van die pandemie te verminder,” het bedryfsrolspelers in ʼn verklaring gesê.

“As ʼn bedryf skep ons werksgeleenthede vir meer as ʼn miljoen mense deur die waardeketting, ons dra 3% tot Suid-Afrika se BBP by en maak ʼn indirekte belastingbydrae – BTW, doeane- en aksynsbelasting – van R51 miljard.”

Ná samesprekings met die regering het bedryfsliggame – die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba), die Biervereniging (Basa) en VinPro – voorleggings aan die departement van handel en nywerheid gedoen wat veiligheidsprotokolle vir die vervaardiging, verspreiding en verkoop van alkohol ingesluit het. Die protokolle fokus op oordragrisiko’s om die veiligheid van werkers, verskaffers, handelaars, boere en verbruikers te verseker.

“Om tavernes in te sluit het ons gevra dat tavernes en mikrobrouers ʼn lisensie toegestaan word sodat alkohol van die perseel verwyder kan word en hulle op dié manier wettig kan handel dryf.”

Om ʼn toeloop van mense te voorkom het die bedryf voorgestel dat meer wettige plekke op genoeg dae en vir lang genoeg handelsure opgemaak kan word sodat verbruikers hul voorraad kan aankoop en sosiale afstande steeds gehandhaaf kan word.

ʼn Kliek-en-kom-haal-model is ontwikkel vir die 34 500 gelisensieerdes tavernes wat sal verseker dat daar nie toue is nie.

Die alkoholbedryf het voor die Covid-19-pandemie ʼn geraamde R12,9 miljard per jaar aan onwettige handel verloor, wat ʼn verlies van R6,4 miljard vir die tesourie beteken. Die hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het vantevore ook bevestig dat drank steeds verkoop word en dat onwettige handel floreer. Die syfers sou dus die afgelope paar weke beduidend gestyg het.

Die onwettige vervaardiging van alkoholiese konkoksies hou ook ʼn ernstige gesondheidsgevaar in en plaas druk op hospitale. Pryse op die swartmark is boonop dubbel en soms selfs drie keer meer as gewoonlik.

Volgens navorsing word die karige inkomste van reeds armer huishoudings in sommige gevalle op alkohol bestee. ʼn Bottel 750 ml-Klipdrift-brandewyn word byvoorbeeld vir tot R300 verkoop; ʼn bottel Jameson-whiskey (750 ml) vir R1 000 en ʼn blikkie bier vir R70.

“Die plundery van gelisensieerde drankhandelaars bly ʼn gevaar en tot dusver is 476 rooftogte tydens die afsonderingstydperk by drankwinkels aangemeld. Die sluiting van tavernes tydens die verlengde afsonderingstydperk gaan permanente skade aan dié wettige klein ondernemings aanrig, terwyl die onwettige handel in drank waarskynlik gaan voortduur. ʼn Wettige alkoholbedryf is ʼn meer ekonomies doeltreffende mag teen onwettige bedrywighede, eerder as dat kosbare hulpbronne gebruik word om onwettige handel te beveg,” het die verklaring gelui.

Die agt weke lange afsonderingstydperk, asook die vyf weke waartydens uitvoer nie toegelaat is nie, het reeds tot 117 600 werksverliese gelei. In die boetiekbierbedryf sal 64% van brouers nie teen die einde van Junie hulle betalings kan doen nie. Altesaam 13% het kennis gegee dat hulle hul persele gaan ontruim en hul besluit om te sluit aan werkers oorgedra. Uit 540 wynkelders het 70% gesê hulle gaan teen die einde van Junie nie hul salarisverpligtinge kan nakom nie.

“Met geen of minimale inkomste die afgelope paar weke en geen sekerheid oor die toekoms nie, kan die bedryf die verbod nie langer oorleef nie en verdere werksverliese is ʼn harde werklikheid. Ons hoop die besluitnemers neem die erns van die huidige situasie in ag: Die inkomste van talle mense is in hul hande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lorette

Ek is nie ‘n drinker nie, maar ‘n glasie rooiwyn by geleenthede het sy voordeel. Die huidige regering sal liewers sien dat alles tot niet gaan soos wat reeds gebeur het die afgelope klompie jare. Maak tog asb die drank en sigaretbedrywe oop, anders het ons ‘n 2e Zimbabwe op ons hande – ons is alreeds halfpad daar! Terloops, ek rook nie, inteendeel hoogs allergies daarvoor, maar ek vra vir diegene wat nou begin gemors rook wat nog slegter vir hul gesondheid gaan wees.

PieterP

Waar is daardie Klipdrift @R300? Ek soek ‘n kas!!!

JohanR

Asseblief man ek vrek vir ‘n lekker koue Black Label, of ‘n Castle, of ‘n Hansa, of ‘n Amstel, of ‘n Hansa, of ‘n Heiniken, of ‘n Windhoek of sommer almal saam een na die ander. Hoe lus maak ek julle nou!

Riaan

Totdat elke wynplaas in sy dinges is gaan die regering dit nasionaliseer. Selfde met die tabak. Dan gaan ons betaal.

Cherokee

re ‘Die onwettige vervaardiging van alkoholiese konkoksies..’
Van waar gehasie? Ek maak heerlike pynappel bier met ‘n behoorlike skop. Lekker en gesond want dit is vrugtesap. Ons het op ‘n stadium gemmerbier gemaak wat meer skop gehad het as wat beplan was. Onwettige vervaardiging? Van waar gehasie?