Afsondering: Hof beslis voëlboere mag weer uitvoer

‘n Papegaai wat vroeër na Doebai uitgevoer is.

Die hooggeregshof in Pretoria het beveel dat voëlboere, wat sedert die staat van landwye afsondering verbied is om voëls uit te voer, dit nou weer mag doen. Dié bevel stel talle boere weer in staat om ʼn inkomste te verdien.

Saai, ʼn organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het ʼn dringende hofaansoek ingedien om dié uitvoere na die buiteland moontlik te maak.

“Saai het die aansoek ingedien en hoewel vlak 4-regulasies die uitvoer van alle landbougoedere ingevolge artikel 22(1)(e) toelaat, versuim die betrokke owerhede egter om die nodige permitte en vereiste sertifikate uit te reik om voëlboere toe te laat om hul voëls uit te voer,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Hy sê die bevel is selfs belangriker vir vlak 3-regulasies, wanneer meer bedrywe en staatsdepartemente toegelaat gaan word om te begin werk. Vlak 3 van die afsonderingsregulasies tree na verwagting Maandag in werking.

“Ons hoop hierdie bevel baan die weg vir alle voëlboere en landbou-uitvoerders om hul bedrywighede ongehinderd voort te sit,” sê Rossouw.

Die eienaar van ʼn kwarantynfasiliteit vir voëls in Gauteng, wat nie by die naam genoem wil word nie, sê toe die aanvanklike afsondering ingestel is, het hulle steeds voëls in kwarantyn geplaas. “Daar was aanvanklik geen rede om te dink dat die afsondering langer as dié tyd sou duur nie.”

Toe die afsonderingtyd afgekondig is, was daar boonop reeds sowat ʼn duisend voëls in kwarantyn wat uitgevoer sou word.

Vroeër vandeesmaand is regulasies in die Staatskoerant afgekondig wat die uitvoer van enige lewende hawe wat nie voedselproduserend is nie, verbied. Dit het talle mense in die bedryf sonder ʼn inkomste gelaat.

Voëls word drie weke lank in afsondering gehou voor dit uitgevoer mag word. In dié tyd word hulle teen ʼn sekere temperatuur in ʼn insekvrye omgewing aangehou. Die voëls, almal hondmak, volg ʼn spesifieke dieet, word met die hand gevoer en moet ook medikasie ontvang.

“Dit is baie duur om hulle in kwarantyn te hou. Die diere moet ook uitgevoer en versprei word – hulle benodig individuele aandag,” sê die eienaar.

Hy sê Suid-Afrika is een van die grootste uitvoerders van papegaaie en voëls wêreldwyd en die bedryf genereer ʼn inkomste van nagenoeg R500 miljoen.

“Telers is afhanklik van die inkomste. Baie van hulle is voltydse telers: Dit is nie ʼn stokperdjie nie, dit is ʼn sakeonderneming,” sê hy.

“Dit is ʼn groot inkomstebron vir baie kleinboere en ʼn enorme bedryf.”

Die hof het die departement van landbou nou beveel om die nodige stappe te doen om te verseker alles word gedoen om die uitvoer van voëls moontlik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudolph ·

Geen onskuldige mens of dier behoort tot ‘n hok beperk te word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.