Afsondering in Wes-Kaap gedeeltelik suksesvol op dag een

‘n Polisiebeampte gaan Vrydag ‘n motoris se besonderhede in Kaapstad na. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Op die dag dat die Wes-Kaap die eerste Suid-Afrikaanse sterfte weens die koronavirus aangeteken het, het die toepassing van die algehele landwye afsondering weens rampregulasies op sommige plekke in die provinsie beter verloop as ander.

Hoewel daar nie enige presiese lyne te trek was nie, het navrae getoon diegene wat die afsondering verontagsaam het, woon dikwels in beknopte wonings, en/of het nie weens hul blouboordjie-betrekkings kans gehad om inkopies te doen nie, of dat hulle nie geld het om aan die lewe te bly vir 21 dae sonder inkomste nie, want hulle leef van die hand na die tand.

Die middestad van Kaapstad en welvarende woonbuurte soos Groenpunt, Seepunt, Welgemoed en Durbanville was doodstil en die strate was verlate.

Dieselfde het gegeld in die meeste voorstedelike woonbuurte, hoewel sommige inwoners van gebiede soos Monte Vista en Parow gekla het oor sowel hul bure se musieksmaak as die volume waarteen daardie musiek geluister word.

Vlugtelinge slaap Vrydag op ‘n sypaadjie in Kaapstad. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Op die Kaapse Vlakte het die situasie gewissel van ‘n groot mate van samewerking in Bonteheuwel tot die grootskaalse ignorering van die regulasies in Blackheath.

“Meeste van die mense van Bontas werk baie mooi saam,” het die stadsraadslid vir Bonteheuwel, Angus McKenzie (DA), gesê.

By groot inkopiesentrums in Mitchells Plain en Athlone het baie ouers hul kinders saamgeneem om inkopies te doen, en in die rye voor die supermarkte was daar geen sprake van sosiale afstandelikheid nie.

Sommige ouers het aangevoer hulle woon nie in gebiede waar ʼn mens jou kinders alleen by die huis los nie, en ook dat hulle loonstrukture en werkure hulle nie in staat gestel het om voorsorg te tref vir 21 dae sonder inkomste nie.

In Kaapstad se townships was die verhaal gemeng. “Ek gaan nie uit my huis uit nie en ons straat se mense bly binnenshuis,” het Vivienne Gcina van Philippi gesê.

Maar in dele van Langa en Gugulethu het mense aangevoer hul pondokkies is te klein vir al die inwoners om heeldag binne te sit. Voorts word kommunale toilette gebruik en omdat hulle van dag tot dag leef, met elke dag se karige inkomste of aalmoese wat hul voedingsvlakke bepaal, is daar geen geld om voedsel mee op te gaar nie.

‘n Verlate hoofweg in Kaapstad Vrydagoggend. Foto: (AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Wat die Wes-Kaapse platteland betref het die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksraad, Elna von Schlicht, by navraag gesê die polisie het hul hande vol om onwilliges by die regulasies te laat hou.

Op Loeriesfontein net noord van die provinsie se grens met die Noord-Kaap het die polisie verskeie onwilliges in hegtenis geneem.

Die burgemeester van die Breedevallei-stadsraad in Worcester, Antoinette Steyn, het onwillige inwoners plek-plek gesmeek om binnenshuis te bly, met gemengde sukses.

Die middedorpe van Somerset-Wes en Hermanus was doodstil, maar op ander plekke het veral stukwerkers druk inkopies gedoen.

In Kaapstad self het daklose mense die nagskuilings oorstroom en is ontvangsentrums vir hulle in die “diep suide”, die oostelike, die noordelike en sentrale dele van die stad ingerig, het die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, JP Smith, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

Ek het simpatie met die mense wat regtig nie kan nie maar die moedswillig klomp moet vasgevat word.

Johan Venter ·

Die ANC-regering het die mense en die ekonomie vir 25 jaar versaak. Ek kry die mense oneindig jammer, ook veral daardie wat van die straat af lewe. Ek sien in my geestesoog hoe een met ‘n gesigsmasker op in die stad alleen by ‘n verkeerslig staan, maar daar is nie ‘n kar in sig nie, die heel dag niks!

Het ons regering dan nou géén empatie nie???!!!!

Wat van PLAN maak regering???

mmmmm???

Elise Georgina Irene ·

Bly te hoor elders onder beheer maar gister was Kusweg in Strand oorstroom deur mense wat gaan stap het, party hardloop vir oefening, en twee dinge wat ek nie gesien het nie maar van verneem het is twee mans hul bootjie te water gelaat het om vis te vang en ‘n ander twee mans wat in die openbaar op promenade op grond gespoeg het!

Flippi ·

In Worcester lyk dit soos ‘n gewone Saterdag oggend………mense loop en staan oral, taxis ry rond, kinders word oral saamgeneem en selfs swanger vroue is te sien! Die enigstes wat ek nie rerig sien nie is die polisie. Selfs gehoor van winkels wat meer as 50 mense op ‘n slag toelaat en dan wil ek nie eens weet van volgende week se SASSA betalings nie…… nee wat, Worcester is Corona vry lyk dit my! Selfs De Doorns as ek kyk na videos wat sirkuleer………….mense besef nie die erns nie. Ek sien ‘n donker prentjie vir SA na hierdie 21 dae!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.