Afsondering: Kerke maak plan nadat kollekte, dankoffers kwyn

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Kerke maak desperaat planne om die kwynende inkomste uit kollekte en dankoffers te midde van die Covid-19-pandemie die hoof te bied. Dit terwyl al meer mense by kerke aanklop vir finansiële en emosionele bystand.

Die bestuur van verskeie kerke het aan Maroela Media gesê lidmate se finansiële bydraes het begin afneem sedert die tydperk van algehele afsondering in werking getree het omdat baie mense nou finansieel in die knyp is. Kerke kan natuurlik ook nie kollekte opneem tydens aanlyn dienste nie.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk, sê dié kerk het die risiko proaktief geïdentifiseer toe die algehele landwye afsondering aanvanklik ingestel is.

“Die raad van finansies het toe reeds die impak besef en ʼn probleem voorspel omdat die kerk afhanklik is van lidmate se bydraes. As lidmate skielik hul inkomste verloor, is hulle natuurlik nie meer in die posisie om dieselfde offergawes te gee nie,” verduidelik Van Wyk.

Daar is toe besluit dat die betrokke kerkrade, die sinode en die ring surplusfondse waar moontlik beskikbaar sou stel om die kerk en ook behoeftige lidmate in nood by te staan gedurende die pandemie.

“Ons het reeds voor die uitbreek van die koronavirus gemeentelede gehad wat finansieel sukkel. Daardie werk gaan onverpoos voort. Nou is die nood nog groter weens die virus. Die onderskeie kerkrade gaan nie meer orals kan help waar nodig is nie. Daarom is dit nodig om fondse op ring- en sinodale vlak los te maak,” verduidelik Van Wyk.

Van Wyk voorspel dat die kerk die volle impak van die krisis eers oor drie tot vier maande gaan besef. “Die effek van die virus op die kerk sal ook heel waarskynlik vir die res van die finansiële jaar voortduur,” meen hy.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Marcus Norden, uitvoerende hoof van Lewende Woord, het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat hoewel die kerk se gemeentes reeds minder bydraes ontvang, fondse instroom om behoeftiges gedurende die pandemie te help. Dié kerk voorsien tans kospakkies aan lidmate en gemeenskapslede in nood.

“Ons word oorweldig met hulp. Ons het ʼn inisiatief genaamd Feed A Family begin waar gesinne uitgedaag word om elkeen een behoeftige gesin in hierdie tyd te help voed. Daar kom klomp klein bedrae in wat ons in staat stel om aan die nood te voorsien.”

Louis Ferreira, ʼn pastoor by Lede in Christus, verduidelik dat dié kerkgroep ook reeds minder kollekte ontvang. “Ons doen elke maand wat ons noem ʼn skatkis-offergawe. Daar het die afgelope weke nog niks ingekom vir dié offergawe nie aangesien niemand weet wat voorlê nie.”

Ferreira verduidelik dat leraars afhanklik is van bydraes vir ʼn inkomste. “Dit het ʼn groot impak vir ons as ʼn familie. Ek het ʼn kind op universiteit.”

Die onsekerheid bestaan ook rakende kerkbywoning nadat die afsondering eindelik opgehef word. “Hoeveel gaan gewoond raak om by die huis te sit en later nie meer kerk toe kom nie?” voeg Ferreira by.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring deur 10 lidmate van Afrikaanse kerke, waaronder Hoffie Hofmeyr, ʼn emeritus professor voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het die kerk ’n geweldige plig om lidmate te bemoedig en hoop te skep. Dit terwyl die kollekteboks verdwyn het.

Argieffoto

Luidens die verklaring behoort die kerk ook mense in hul onsekerheid oor kwessies soos werkverlies en skuld-onsekerhede by te staan deur middel van skuldberading.

Die lidmate verduidelik dat die uitdaging ook is om lidmate se betrokkenheid by die kerk in hierdie moeilike tyd te behou.

“Dit is ʼn ongekende tyd,” meen Hofmeyr.

Luidens die verklaring het die Nederduitsch Hervormde Kerk reeds bykans R5 miljoen aan gemeentes en aan noodleniging beskikbaar gestel.

Tog meen die lidmate hulle het tot dusver nog te min gehoor van die kerkleiding op nasionale vlak se openbare getuienis oor die Covid-19-pandemie. Hulle is wel dankbaar dat kerke en predikante op plaaslike kerklike vlak vinnig aangepas het om kerkdienste digitaal aan te pak.

“Die uitgesproke priesterlike en profetiese stem van die kerk in die breë waarin ’n duidelike visie en bemoedigingsboodskap uitgedra word, is in hierdie tye egter te vaag. Dis ʼn ideale geleentheid om aan die sekulêre wêreld te sê dat hierdie krisis nie die kerk verbygaan nie. Verder behoort die kerke ook die regering aan te spreek oor die arbitrêre en soms irrasionele toepassing van afsonderingsmaatreëls,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Deon ·

Ek lees net geld geld geld… Dit steek mens dwars in die krop. Niks van ons kort God om ons te red nie… Nou kla die dominee oor sy kind op universiteit, nie dat hy nie kan eet nie maar luukshede… Verkoop van die lee kerk banke soos ons van ons meubels moet verkoop om aan die gang te bly… Waar is God in hulle gesprek?

Debbie ·

Sjoe, Deon. Soos wat jy bekommerd is oor jou werk en of jy salaris gaan kry, so is hulle ook bekommerd. Hulle is ook mens en is ook geregtig op ‘n salaris, of dink jy nie so nie?

Cherokee ·

Ek wens somtyds Debbie, dat ek ook so diplomaties soos jy kan wees. Die sisteem laat my net een duim-op toe.

Andries ·

Satan: Ek het jou kerke gesluit.
God: Ek het n kerk in elke huis oopgemaak…

Mense dis tog eenvoudig. Ons maak maandelik n kerk bydrae. Kyk of di maand 4 of 5 Sondae het. Vermenigvuldig jou kerkdiens kollekte met 4 of 5 en voeg by jou maandelikse bydrae.

Ons Gemeente het “totaal digitaal” gerraak met beide Facebook en of Mp3 Eredienste. Daar is ook gedurende di week, n aantal “Woord van Bemoeding”, in dieselfde formaat.

Hennie ·

Kerke sal definitief buite die boks moet begin dink…. Daar is maniere om digitale kollektes in te neem. Die vraag is eerder, wil mense nog geld gee aan kerke?

Jaco ·

geld geld geld. eks doodseker daarvan dat die volgende twee bybeltekste uitgekrap of toegeplak of toegeverf is in amper alle kerkleiers se Bybels:
I Timotheus 6 vers 10: For the love of money is the root of all kinds of evil.
EN
Markus 10 vers 25: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

Debbie ·

Sjoe. Ek lees baie negatiwiteit teenoor die kerk hier. Ek stem saam dat die liefde vir geld baie keer die rede is vir baie euwels in ons samelewing. Liefde vir geld het egter niks hiermee te make nie. Dit gaan oor bekommernis. Die regering en God verwag van ons om verantwoordelikhede na te kom. Dit beteken as jy skuld gemaak het, om dit te betaal. So, as jy nie ‘n salaris ontvang nie, hoe kan jy dit doen? Ons almal is mense en ons almal is bekommerd oor hoe ons ons rekeninge gaan betaal en kos op die tafel gaan sit. Predikante en Pastore is in dieselfde bootjie as ons almal. Dit is vir niemand lekker nie om nie ‘n inkomste te ontvang nie. Net soos wat ons ‘n werk het en graag ‘n salaris wil ontvang, so is dit dieselfde vir ‘n pastoor of predikant. Hulle werk ook vir ‘n salaris. So hoekom verwag almal nou van pastore en predikante om sonder ‘n salaris klaar te kom?Hulle ook het dieselfde behoeftes as “gewone” mense. Julle gesindheid teenoor geestelike leiers is onregverdig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.