Afsondering: Kinderhuis trek swaar

Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (Foto: Abraham Kriel Kinderhuis, Facebook)

Met die verlenging van die landwye algehele afsondering trek niewinsgewende organisasies soos kinderhuise veral finansieel swaar.

Die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo het baie van hul inkomste afkomstig van skenkings verloor en kan ook nie skenkings uit ander provinsies gaan haal terwyl afsonderingsregulasies geld nie. Dit gaan al so swaar dat hulle vleis uit hul geregte moes sny.

Daarom het die kinderhuis ’n noodfonds begin in ʼn poging om hul finansiële verknorsing tydens die afsondering die hoof te bied. Die noodfonds dien as pleidooi aan die publiek om die kinderhuis met klein maandelikse skenkings uit te help.

Gerda van der Merwe, hoof- uitvoerende bestuurder van die Abraham Kriel-kinderhuis Nylstroom, sê ten tyde van die afsondering staar die kinderhuis ’n groot verlies aan inkomste van donateurs en die breër gemeenskap in die gesig. Dit is omrede donateurs en die publiek self nou swaartrek.

Die kinderhuis ontvang op dié stadium slegs ’n staatsubsidie wat 50% van die kinderhuis se begroting dek.

“Met dié verliese aan inkomste en donasies word ons vermoë om in die behoeftes van die kinders te voorsien, bedreig,” sê Van der Merwe.

Die kinderhuis sorg tans vir altesaam 170 kinders wat in 15 huise op die terrein verdeel is. Elke huis huisves  10 tot 12 kinders.

Die uitgawes per kind per maand beloop tans R6 600. Die kinderhuis se elektrisiteitsrekening het ook die afgelope tyd met 14% gestyg en Van der Merwe sê op dié stadium kan die kinderhuis nie so ʼn groot styging bekostig nie.

Volgens Van der Merwe neem die kinders se behoeftes daagliks eksponensieel toe. “Die feit dat die kinders elke dag heeldag op die terrein is en dus ook meer voorrade gebruik as wanneer hulle soggens skoolgaan, plaas bykomende druk op die kinderhuis se begroting.”

Volgens Van der Merwe het hulle ’n donateur wat groente op ’n weeklikse basis uit Pretoria skenk. Op dié stadium kan hulle nie hierdie donasie gaan afhaal nie, omdat regulasies die reis oor die grense van provinsies verbied. Die R5 000 wat hulle maandeliks vir mediese voorrade van Dis-Chem ontvang, is ook om dieselfde rede nie bekombaar nie. “Ons word baie beperk omdat ons in die platteland geleë is en dit moeiliker is om iewers heen te reis,” sê Van der Merwe.

Van der Merwe sê die kinderhuis se begroting is reeds tot op die been gesny en hulle probeer slegs die uiters noodsaaklikhede te dek. Besparingsmaatreëls is ook al ingestel om soveel as moontlik geld te bespaar. “Ons het al die spyskaart aangepas deur byvoorbeeld eenskottelgeregte te bedien. Ons het ook vleis uit van ons geregte gesny.”

Die kinderhuis het Dinsdag ’n kort verslag aan Jackson Mthembu, minister in die presidensie, gerig waarin die kinderhuis se benarde finansiële posisie uiteengesit word.

“Ons stuur dié verslag oor die impak van die afsondering op ons werksaamhede en volhoubaarheid, sodat die regering ons meer kan ondersteun. Ons sal ook nie toelaat dat ons kinders swaar kry nie en daarom tref ons ander maatreëls om seker te maak ons oorleef.”

Die kinderhuis was ook genoodsaak om sekere maatreëls in plek te stel om die kinders ten alle tye veilig te hou. Die kinders bly alreeds sedert 18 Maart in isolasie in die huise en geen kind kon die kinderhuis vir die vakansie verlaat nie.

Sedert die instel van algehele afsondering is die huisouers se vakansieverlof ook gekanselleer en alle personeel wat nie op die terrein woon nie, is getaak om vanaf hul huise te werk. Slegs die kombuis- en washuispersoneel word toegelaat om te pendel. Die kinderhuis verskaf hul eie vervoer, op hul eie onkoste, aan dié personeel om sodoende die risiko’s van openbare vervoer te verminder. Die terreinbestuurder is aangestel as die enigste persoon om kruideniersware en mediese voorrade aan te koop.

Van der Merwe loof die personeel vir hul harde werk in dié onsekere tyd.

“Die kinderhuis is in dié tyd ʼn veilige hawe vir die kinders en personeel – ’n plek waar hulle veilig kan voel.”

Van der Merwe vra die gemeenskap om hulle te ondersteun deur die woord “FONDS” na 39236 te sms en só R15 per sms aan die kinderhuis te skenk.

Besoek ook gerus die kinderhuis se webblad hier om nog geld te skenk. Gebruik die woord “Covid-19” as verwysing vir jou betaling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Rodger17 ·

Mense groot asb help die kinderhuis soos julle kan.Kinders kry swaar.Regering gee net vir die people kos asb.Hierdie is vir n baie goeie doel,kom mense ons kan saamstaan.Ons bietjie witmense moet nou ons mense help.Die regering voel vere vir ons!

Anel ·

Kan die persoon wat weekliks groente skenk, dit nie tot op die provinsiale grens vat nie en dan kan die drywer van die kinderhuis dit daar kry. Dit gaan brandstof onkoste wees masr so kry hulle bietjie groente. Net ‘n voorstel.

Tanya ·

Sjoe R6600 per kind, per maand, dis amper R1.2mil per maand vir die Kinderhuis…. nie eens my kinders kos my R6600 per maand nie. Ek help graag waar ek kan, maar dit klink na pure uitbuiting!

Johan ·

Tanya en hulle word vrygestel van skoolfonds, ek stem R6600-00 is baie vier keer meer as die staat se toelae.

Maansie ·

Johan, daar is kinders wat in spesiale skole is wat nie in Nylstroom beskikbaar is nie. Daar is wel privaat spesiale skole beskikbaar maar daarvoor moet die kinderhuis betaal soos enige ander ouer.

Marcus ·

Tanya die kinders is deur baie emosionele probleme, hulle sorg behels seker nie soos jou kinders net basiese behoeftes soos kos, bed, klere nie, maar ook liefde, ondersteuning, aanmoediging, leiding, terapeutiese begeleiding en privaat onderwys vir spesiale behoefte. Ek wil eintlik sê R6600 mag te min wees om vir die kinders ook spesialis dienste te lewer! Ek help die kinderhuis eerder want die instelling lewer ‘n onbaatsugtige diens aan ons Afrikaners en breër gemeenskap.

Engela ·

Marcus, dit klink amper asof jy dink ‘n kind wat in sy ouerhuis grootword het nie ook liefde, ondersteuning, aanmoediging ens nodig nie en nie een van hierdie kos geld nie.

Maansie ·

Tanya, jou kind kom uit ń normale huisgesin en benodig nie terapeute, gevorderde gesondheidssorg en baie ander spesialis behandelings nie . Hierdie behandelings word nie deur die staat verskaf nie en bly die kinderhuis finansieel daarvoor verantwoordelik. Mediese sorg is maar een afdeling wat nie na wense is op die platteland nie.

Engela ·

Maansie wie sê vir jou Tanya se kinders het nie terapeute en wat nog nodig nie? Dis nie net kinderhuis-kinders wat spesialis-behandelings nodig het nie.

Engela ·

Ek stem saam dat R6600 darem ‘n baie rojale bedrag is. Ek sou graag wou sien hoe hulle dit regverdig.

david ·

En hierdie regering gee hoog op oor mishandeling van Kinders ..! Wonder wat sou die gelykheidshof of menseregte komissie hiervan se ..?
Die Besluit om provinsiale grense te sluit –ongeag om watter rede ookal—-is vergelykbaar met ‘n insident in 1998 . Nelson Mandela, op aandrang van Steve Tshwete beskuldig die SA rugby base van diskriminasie en rassisme , en kondig sekere maatreels teen die rugby base aan. Louis Luyt , president van Saru daag Mandela voor die hof. en in sy betoog voer hy aan dat Mandela ..”did not apply his mind”..(hy het nie sy verstand gebruik nie) Luyt wen die saak, maar dit word later omgekeer in ‘n Mandela gelaaide Grondwet hof.
Ek meen dat in hierdie kwessie (en andere) van die Kinderhuis ook geoordeelkan word as..”did not apply their minds…”
Ek is hoeka al siek en sat om soos ‘n skoolkind behandel te word…..

Eerlik ·

Ek het baie empatie met die situasie maar ek dink kostes kan bietjie bespaar word. Daar hoef sekerlik nie elke liewe dag vleis op die tafel te wees nie, daar is baie proteine in ander voedsel ook, in baie huishoudings is vleis n luuksheid en onbekostigbaar vir baie mense. Die feit dat die skoonmaak staf en wasgoed vrou elke dag moet pendel is ook onnodig, die kinders is elke dag daar en self dissipline begin by daaglikse take soos self wasgoed was en skoonmaak. Daar is baie ander organisasies wat ook gebuk gaan in die tyd en die meeste soos bv diere instansies kry geensins aandag in die kollig nie (die instansies kry GEEN hulp van die staat nie). Mens probeer help waar mens kan maar hierdie instansies moet ook uit die gemaksone tree en kostes sny waar moontelik.

akkedismis ·

R220.00 per kind per maand is nie baie nie!! Waarvoor gaan die geld? 1kos2 water3 elektrisiteit 4 toiletware 5 klere 6 was en herstel van klere 7 salaris van elke huismoeder 8 salarisse van kok,en ander personeel 9 leermiddels vir skool 10 apperaat vir vryetydbesteding 11 vervoer vir doktersbesoeke 12 herstelwerk aan toerusting wat breek. 13 nog baie wat ek kan noem.

Vida ·

Ek was vir baie jare betrokke by hierdie kinderhuis – maar dit was in die dae toe daar groot deursigheid was in die bestuur. Daar was volop donateurs en genoeg van als. Miskien moet daar na die kern van die probleem gekyk word. Waarom het doesyne donateurs onttrek? Wat het gemaak dat kerke wat baie jare lank betrokke was, uitgeloop het? Jammer dat dit nog steeds kinders is wat swaarkry.

Maansie ·

Vida, daar is nog steeds deursigtigheid in die bestuur. Hierdie is nie n bestuursprobleem nie maar n probleem wat ontstaan het a.g.v. buitengewone omstandighede. Almal weet dat kerke ook swaarkry en dit is so dat kerke weens finansiele redes onttrek maar daar was, is en sal altyd kerke wees wat betrokke is by die kinderhuis en daarvoor is ons dankbaar. Om te sê dat die kinders swaarkry a.g.v. bestuur is bietjie roekeloos.

Elmarie ·

Hier is weer baie slim kommnetare en dis so sleg vir iets wat positiewe hulp moet ontlok. Mense moet asb liewer betrokke raak en sien hoe dit werklik gaan voor hul negatiewe goed hier skryf. Hierdie is nie gewone kinders nie, deel van die maandelikse koste per kind sluit in terapie – hetsy arbeids of sielkundig omdat dit basies “gebroke” kinders is wat moet heelword. Daar is nie die nodige failiteite daarvoor in klen plekkies soos Modimolle dus moet hul bv Pretoria toe ry + petrol, tolgelde en dis gewoonlik gereelde besoeke om dit te laat werk. Op die oomblik vind dit natuurlik nie plaas nie weens isolasie. Die koste in berig genoem is NIE net vir kos soos sommiges hier sommer aanneem nie, dit sluit in soos ene Andre tereg se, dis vir kos, huismoeders (ja elke huis het een wat ‘n salaris moet kry) skoonmakers, medies, tandheelkundig, skooluitstappies, klere, skool, sport – die lys is baie lank. Dink voor jul skryf; raak liefs betrokke en HELP

Maansie ·

Elmarie, baie dankie vir jou positiewe insette, hulp en bystand, dit word opreg waardeer.

Elmarie ·

Verdere kommentaar: ek weet HOE hard hulle werk om die deure oop te hou, hoe personeel gesnoei is in die verlede. Verder mag, osver ek weet, kinders nie “werk” doen deur klere te moet was ens nie, die wet is steng omtrent “kidnerarbeid” selfs al laat jy tuis jou kinders dit doen en dis nie evrkeerd nie, die wet sien dit anders as dit nie jou kind is nie. Ek mag verkeerd wees hieroor maar vir die res, asb mense, dink voor jul skryf, raak betrokke en sien wat regtig aangaan en help waar jy kan. Wat van nou en dan ‘n pakkie stuur met deodorant en sepe en goedjies, elke ding help. Hou op kritiseer en negatiewe kommentaar lewer en bring jou kant

Elmarie ·

en verskoon vingerfoute, ons werk diekant, ons is nie met vakansie so dis so tussendeur die werk geskryf!

net my mening ·

Doen asb bietjie ondersoek na die saak. Baie mense het alreeds geld geskenk deur die sms lyn maar nou is daar inligting dat dit onwaar is en dat fondse dalk misbruik word? Ook dat Abraham Kriel Kinderhuis Potchefstroom hulself hiervan distansieer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.