Afsondering: Klein sakelui dink buite die boks

Die eienaars van klein sakeondernemings moet in dié tyd slim planne maak om kop bo water te hou. Soms beteken dit jy moet ‘n ander koers inslaan. (Foto: Tanya Rossouw)

Terwyl sommige Suid-Afrikaners op vlak 4 van die afsonderingsregulasies weer hul werksaamhede kon hervat, sit miljoene ander – baie van hulle kleinsakelui – hande in die hare oor die voortgesette verbod op hul bedrywe.

In sommige gevalle kan ondernemings, selfs al word hulle toegelaat om beperkte aktiwiteite te hervat, steeds nie winsgewend sake doen nie en baie ondernemings sal noodgedwonge hul deure moet sluit.

Statistieke Suid-Afrika het die afgelope week gewaarsku nege uit tien ondernemings wat aan ʼn opname daaroor deelgeneem het, het aangedui dat hulle omset in die afsonderingstydperk verminder het. Net in April is meer as 20 000 mense reeds afgelê.

Die opname het bevind een uit elke 10 ondernemings het reeds hul deure permanent gesluit. Die boubedryf, jagondernemings, en die persoonlike dienste-bedryf is van die sektore wat die swaarste getref word.

Sowat 30% van ondernemings het aangedui hulle kan net vir minder as ʼn maand sonder ʼn inkomste oorleef, terwyl 55% sê hulle kan tussen een en drie maande lank nog hul deure sonder ʼn inkomste oophou. Net 7% van ondernemings het aangedui dat hulle die situasie langer as drie maande sal kan oorleef.

Kleinsake-eienaars het aan Maroela Media gesê hulle doen wat hul kan om kop bo water te hou. En hoewel die toekoms vir baie donker lyk, maak baie sake-eienaars slim planne om te oorleef.

Van tuin tot kombuis

Van Tanya Rossouw se tuisgebak wat sy nou verkoop. (Foto: Tanya Rossouw)

Tanya Rossouw is ʼn landskapsargitek van Centurion wie se onderneming weens die afsonderingstydperk heeltemal tot stilstand gekom het. Tuindienste mag eers op vlak 3 van die afsonderingstydperk hervat word – maar Rossouw sê sy het geen ander keuse gehad as om nou in te spring en ʼn ander inkomste te begin verdien nie.

Deesdae maak sy marmelade – met ʼn geheime resep – en bak sy koekies.

Terwyl sy dit aanvanklik net gedoen het om die tyd te verwyl, het sy nou al heelwat bestellings vir haar gebak, en sommige van dié bestellings is sommer lekker gróót. “Ek het verlede week begin aflewer. Ek is gewoond aan harde werk – die tuinwerk is baie fisieke werk – maar dié gekook en gebak is iets heeltemal anders,” skerts sy.

Rossouw het gewoonlik agt werkers in twee spanne by haar tuinbou-onderneming wat sy nou glad nie meer kan betaal nie. “ʼn Mens doen wat jy kan en verder kan jy bloot nie. As daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.”

Rossouw sê sy bak en kook nou ekstra ywerig om te verseker sy het genoeg kapitaal vir wanneer die regulasies weer verslap word. “Ek kan met die koekieverkope ʼn gedeelte van my huur betaal, maar ek moet ook geld bymekaar maak vir wanneer ons weer kan begin werk.”

Rossouw sê sy beoog om die gebakkery ook ná die ophef van die afsonderingstydperk voort te sit.

“ʼn Mens kan óf sit en huil, óf jy kan begin koekies bak.”

Ideale geleentheid vir bemarking

Annelize Campher maak nou aanlynvideo’s waarin sy grimeertegnieke vir mense leer. (Foto: Makeup Artistry by Annelize)

Annelize Campher is ʼn voltydse persoonlike assistent vir die skoonheidsghoeroe Hannon Bothma. Sy werk in haar vrye tyd ook as grimeerkunstenaar en doen meestal troues. Die afsonderingstydperk het dié deeltydse onderneming vierkant in sy spore gestuit.

Campher, wie se onderneming bekend staan as Makeup Artistry by Annelize, sê sy werk tans van die huis af en gebruik die tyd om studievideo’s (tutorials) van grimeertegnieke te maak wat sy dan op sosialemediaplatforms soos Facebook, Instagram en YouTube deel. “Ek wys stap vir stap hoe om ʼn sekere tegniek te bemeester. Die video’s doen baie beter as voor die afsonderingtyd, dalk omdat mense meer tyd op sosiale media spandeer, en die terugvoer wat ek kry, is baie goed,” sê sy.

Die video’s en lesse dien ook as bemarking vir Campher vir wanneer die afsonderingsregulasies wél verslap word en iemand weer na ʼn grimeerkunstenaar op soek is.

‘Reg om te heropen’

Daar is nog geen aanduiding van wanneer skole kan heropen nie. (Foto: Speelkasteel Kleuterskool)

Cecile Scholtz, eienaar van Speelkasteel Kleuterskool in Doornpoort, Pretoria, sê sy is só gereed om weer haar skool se deure te heropen dat die gras elke week gesny word.

Daar is nog steeds geen aanduiding van watter kleuterskole – of enige ander skole – ingevolge die afsonderingsbepalings mag heropen nie. Benewens die kleuterskool met sy nagenoeg 180 leerders, bedryf Scholtz ook ʼn vervoeronderneming wat skoolkinders rondry. Sy het voor die afsonderingstydperk 44 mense in diens gehad.

Scholtz sê hoewel sy aanvanklik almal se salarisse kon betaal, kan sy dit bloot nie langer volhou nie. Sy het vir elke werker ʼn eis by die regering se Covid-19 tydelike werknemer-werkgewer-hulpskema (Ters) ingedien. Altesaam 27 eise is uitbetaal en die res het Scholtz uit haar eie sak vergoed.

Scholtz sê salarisse is haar grootste uitgawe en sy het nou noodgedwonge met ʼn afleggingsproses begin. Sy kan voortaan net die kernpersoneel behou.

Scholtz het skoolgeld in dié tyd ook beduidend verminder, maar talle ouers kan selfs nie die aangepaste bedrag bybring nie. “Baie het bloot net nie meer ʼn inkomste nie,” het sy gesê.

“Ek leen geld vir die A-span. Ons gaan dalk nie ondergaan nie, maar ek gaan hierna met geweldig baie skuld sit.”

Alles kan nie aanlyn gedoen word

(Foto: pixabay)

Carol Eloff, ʼn arbeidsterapeut van Sinoville met haar eie praktyk, sê die afsonderingstydperk het ook haar onderneming tot stilstand gebring.

Sy sê daar is aanvanklik aanbeveel dat daar van aanlyn terapiedienste gebruik gemaak word, maar omdat sy dikwels met gestremde of klein kinders werk, is dit nie noodwendig ideaal nie. “Ons kan gebruik maak van tuis- of aanlyn programme, maar dit is net nie dieselfde as persoonlike kontak nie,” sê sy.

Ingevolge vlak 4 van die regulasies mag Eloff nou weer begin werk, maar streng protokolle geld vir haar praktyk.

Baie van haar pasiënte het reeds kwesbare immuunstelsels en hul ouers wil dus nie die kans waag om hul uit die huis te neem vir terapie en die gevaar loop dat hulle moontlik Covid-19 kan opdoen nie.

Eloff se finansiële verpligtinge hou ook nie op nie. Sy moet onder andere steeds haar praktykhuur betaal. Sy en haar man het geld vir ʼn vakansie gespaar en dié geld word nou as oorbruggingskapitaal tydens die afsonderingstydperk ingespan.

Hou die onderneming aan die gang

(Foto: Tim Mossholder/Unsplash)

Dr. Liezel Alsemgeest, ʼn senior dosent verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat en waarnemende direkteur van die Universiteit van die Vrystaat se skool vir finansiële beplanningsreg, sê hoewel dit nog altyd belangrik was om koste laag te hou, is daar geen beter tyd as nou om dié praktyk in te dril nie.

Sy sê hoewel die meeste kleinsakeondernemings se grootste uitgawes salarisse of lone is, is dit nie in die breër belang van die gemeenskap om werkers af te lê nie en daar moet eerder na plekke gesoek word om uitgawes te besnoei.

Sy sê sakelui moet nuwe en kreatiewe manier vind om die onderneming aan die gang te hou. In sommige gevalle kan die oogmerk van die onderneming aangepas word – soos ʼn klerefabriek wat nou maskers vervaardig.

“Die belangrikste is om voort te gaan om ʼn diens of produk aan mense te lewer, terwyl daar steeds by bepalings oor sosiale distansiëring gehou word.”

Alsemgeest sê nou is ook ʼn goeie tyd om ʼn strategie vir die toekoms uit te stippel. “Hoe kan jy aanhou groei en aanpas? Kreatiwiteit en innoverende denke is die sleutel, maar om jouself ingelig te hou, is net so belangrik. Met al die beskikbare aanlyn hulpbronne, is toegang tot inligting makliker as ooit.”

‘Te min, te laat’

(Argieffoto)

Suid-Afrika skuif na verwagting teen die einde van die maand na vlak 3 van die afsonderingsregulasies, maar die Nasionale Kleinsakekamer (NSBC) waarsku selfs op dié vlak gaan daar steeds geweldige beperkings op tot 75% van kleinsakeondernemings wees.

“Jy kan nie die gesondheid en welstand van ʼn land verbeter deur hom armer te maak nie. Dit het nog nooit in enige land gewerk nie. Die bedreiging vir kleinsakeondernemings en inkomste weens werksverliese in die bedryf is veel groter as enige ander bedreiging, “ sê Mike Anderson, stigter en uitvoerende hoof van die NSBC.

Hy sê ook die regering se jongste aankondigings gaan vir baie ondernemings “te min, te laat wees”.

“Ons doen op ʼn beroep op werkskeppers in die kleinsakebedryf landwyd om vas te byt. Julle is veerkragtig en dapper en julle moet glo dat julle gaan oorwin en sterker anderkant gaan uitkom. Bly kalm, bly positief, pas aan, leer nuwe dinge en probeer nuwe dinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Bedank die top 6 in die ANC bit hulle “wyse” besluite.

Duck

Moet tog nie op die media vir almal vertel wat jy doen en koek bak nie,
Hul sal jou besigheid dalk kom toemaak. you never know!

Kanjynoumeer

Welgedaan Tanya Rossouw en ander wat planne beraam en nuwe geleenthede aangryp en nie net sit en kla nie!
Huisverbeterings, verf van huise, binneshuise versiering, haarversorging, massering,onderrig in wiskunde, engels, musieklesse, motorherstelwerk, spyseniering, bak van koekies en of beskuit, naaldwerk, houtwerk.
Die geleenthede is daar en meer.
Al wat bygevoeg moet word is die wil om dit te doen en deursettingsvermoë.

Johan

‘n Boer maak ‘n plan……nog altyd. Sal nooit die Afrikaner vrek maak nie!

Jan

Ek dank die top 6 . Nou kan ek ontslae raak van hulle broers wat net kom werk het vir die geld . Geen ccma sake nie . Ek maak my besigheid toe. Ek hoef nie pakete uit te betaal nie. Ek verloor maar hulle verloor meer