Afsondering knou munisipaliteite se inkomste

(Argieffoto)

Gautengse munisipaliteite steier onder die uitwerking van die afsonderingstydperk wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is en daar was die afgelope paar maande ʼn beduidende daling in inkomste uit eiendomsbelasting, water, sanitasie en elektrisiteit.

Die LUR vir samewerkende regering in die provinsie, Lebogang Maile, het Woensdag terugvoer oor die stand van Gautengse munisipaliteite gegee en dit skets ʼn donker prentjie.

Munisipaliteite in Gauteng het in April gesamentlik nagenoeg R2,6 miljard te min ingesamel, R2,4 miljard te min is in Mei ingevorder, R2,2 miljard te min is in Junie ingevorder en R2 miljard in Julie.

Dit beloop altesaam R9,2 miljard wat reeds vir munisipaliteite verlore gegaan het. “Dít op ʼn tydstip wat eise vir dienslewering meer word en weens Covid-19 dringend is. Jy kan dus die dilemma sien wat munisipaliteite in die gesig staar,” het Maile gesê.

“Die afname in inkomste het ʼn negatiewe uitwerking op die kontantvloei van munisipaliteite gehad en hul vermoë om verpligtinge teenoor krediteure soos Eskom, Rand Water en ander noodsaaklike diensverskaffers in die waardeketting geraak.”

Talle munisipaliteite was selfs voor die pandemie in ʼn finansiële penarie en die landwye afsonderingstydperk het die situasie net verder vererger.

Volgens Maile is verskeie probleme by munisipaliteite uitgewys. Dit sluit in onderbesteding van toelae, ʼn gebrek aan finansiering om verouderende infrastruktuur te verbeter, ʼn lae inkomstebasis, toenemende ongemagtigde, onregmatige, verkwistende en nuttelose besteding, ʼn stygende salarisrekening, wanbetaling vir dienste en lae invordering van geld, asook begrotings waarvoor daar in die eerste plek nie geld was nie.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng. (Foto: Twitter)

Talle senior bestuursposte in Gautengse munisipaliteite is vakant, wat beteken plaaslike owerhede maak uitermatig baie gebruik van konsultante. Uit die elf Gautengse munisipaliteite het agt permanente munisipale bestuurders.

In Johannesburg is 42% van senior poste vakant, in Tshwane 10%, in Ekurhuleni is alle senior poste gevul, by Lesedi is die helfte van senior poste vakant, 25% van senior poste in Emfuleni is vakant en by die Wes-Rand- en Sedibeng-distriksmunisipaliteit is 33% van senior poste vakant.

Volgens Maile sukkel munisipaliteite om vaardige bestuurslui te lok. Dit word onder meer toegeskryf aan voorgeskrewe salarisse.

Munisipaliteite ly ook groot verliese weens water- en kragmeters wat omseil word, foutiewe rekeninge, wanbetaling, beskadiging van infrastruktuur en onwettige verbindings.

“Die meeste diensleweringsbetogings word aangevuur deur kragonderbrekings, ook beurtkrag en kragvermindering, wateronderbrekings en behuisingsprobleme,” het Maile gesê.

“Sommige van hierdie probleme benodig dringende ingryping, maar die meeste benodig mediumtermyn- tot langtermynhulp om infrastruktuurprobleme op te los.”

Maile sê mense is met rede gefrustreer en dat hul pleidooie nie op dowe ore val nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

En te midde van die verlaagte inkomste en baie inwonders wat nie geld verdien nie, hulle werk verloor het of hulle inkomste verminder is, het Bronkhorstpruit se mislike paliteit besluit dit is reg en regverdig om die dorp met riool en vuilgoed te vervuil om te eis vir salarisverhogings omdat hulle “so hard gewerk” het gedurende level 5… asblikke is nie eers leeggemaak nie!

4ntj13

Wanneer gaan munisipaliteite leer dat hul hoof-funksie diens is en nie werkverskaffing nie? Unies is op geen manier belangriker as enige inwoner wat van dienste afhanklik is nie. As uitgawes meer as inkomste word, moenie begin kla by die belastingbetaler wat reeds sukkel nie. Doen wat van jou verwag word om ook rieme dun te sny. Moenie betalers belas met welsyn nie as jy nie die welsynsprobleem kan herstel nie. Moenie ooit onregverdig raak nie, want geregtigheid draai dan teen jou.

Johan

Die probleem le by die salarisse wat betaal word, in n plaaslike koerant word n skoonmakkers pos vir die burgermeester geadverteer salaris R177 000 pj. Ek onthou voor 1994 het die burgermeester in Ellisras R300-00 per maand verdien en alles was mooi en reg. Ons gaan nie meer die luukse leefstyl van die klomp kan sponsor nie. Ek bly op n plaas moet grondbelasting betaal vir wat nogal . Ek weet om die potholes in die pad te laat uitgrou. Die slegste van alles hulle dink dit moet so wees.

Rachel

Miskien moet die agbare amptenare hul salarisse met minstens 50% sny, minder indabas hou waarvoor tot R1000 per kop betaal word vir kos, dan sal die mislikepaliteite geld hê vir dienslewering!
Ons was weereens vir 3 dae sonder krag weens swak instandhouding, maar laat jy 1 dag laat betaal, dan skroef hul jou op.

Pieter

Dis nie die verminderde inkomste wat die probleem is nie, dis die grootskaalse gestelery en groot-salarisse-vir-geen-werk beleid wat die probleem is!!!