Afsondering: Ma reeds weke van tieners geskei

Argieffoto

Twee tieners is reeds die afgelope drie weke in die sorg van hul au pair en dié se gesin in Limpopo, nadat hulle weens die algehele landwye afsondering van hul ma in Gauteng geskei is. Die tieners het nie hul au pair se gesin vooraf geken nie en die verlange raak met die verloop van tyd net erger.

“Dit is maar moeilik vir sulke jong kinders om aan huis van wildvreemde mense te wees,” het die au pair se ma Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Die tieners se ma was voor die instel van die afsondering in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem en die tieners se au pair (20) het die tienerseun (15) en dogter (13) saam met haar na haar gesin in Tzaneen geneem. Die afsondering is egter kort daarna onverwags ingestel en aangesien hul ma in dié stadium nog nie ontslaan was nie, moes die kinders noodgedwonge by hul au pair se gesin aanbly.

Nie enige van die partye wou hul identiteit bekendmaak nie.

Die au pair is in November deur die tieners se ma aangestel en het nog nooit vantevore die twee tieners aan haar eie gesin voorgestel nie.

“Ons is veilig en gelukkig waar ons is, maar ons wil teruggaan huis toe na ons ma toe. Ons verstaan die afsondering, maar ons mis haar ongelooflik baie,” het die tienerseun gesê.

“Ek mis vir mamma baie,” het die tienermeisie bygevoeg. Om sake te vererger het sy én haar ma boonop in dié tyd in afsonderlike provinsies verjaar. “Ek het vanoggend gehuil.”

Dit is ook nie juis maklik vir ’n ouer nie. “As ’n ma is dit nog moeiliker dat jou kinders by vreemde mense moet bly,” het die tieners se ma gesê.

Sy het gesê sy het haar kinders laas gesien toe sy meer as ’n maand gelede in die hospitaal opgeneem is. Sy is sedertdien uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan op ’n kleinhoewe in die omgewing van Pretoria.

“Hulle was eers bekommerd oor my in die hospitaal en toe gebeur die afsondering. Ons kan net boodskappe stuur aangesien ek slegte opvangs op die kleinhoewe het. Ek moet hulle natuurlik ook moed inpraat terwyl ek stoksielalleen by die huis moet sit. Ek mis nie net my kinders nie. Ek mis die huis wat raas en ek mis selfs hulle stryery,” het die ma gesê.

Sy het bygevoeg dat sy sedert sy ontslaan is, tevergeefs probeer het om ’n permit te bekom om met haar kinders te herenig. “Dit lyk of dit nie in die stadium moontlik is nie. Ek weet nie hoe ek nog twee weke sal kan wag nie.”

Die afsondering is onlangs met twee weke tot einde April verleng, in ’n poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus te bekamp.

Die au pair se ma het nou die DA genader, wat haar in verbinding met ’n maatskaplike werker gebring het. Daar is egter nog geen aanduiding dat die tieners voor die einde van die tyd van afsondering toegelaat sal word om huiswaarts te keer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Isabella Susanna ·

Ek sit in dieselfde situasie. My dogter was in die hospitaal en ek moes my 10 jarige kleindogter gaan haal op 21 Maart en nou is die inperking verleng. Sy verlang na haar mamma en pappa en hoe moet ek haar weer by hulle kry. Sy het ook nie eens warm klere saamgebring nie want die verwagting was dat die inperking net to 16 April sou wees. Ek kan nie verstaan hoe kan daar nie permiite in sulke gevalle gegee word nie want dit is nie asof mens met ander mense in aanraking gaan kom nie

Cornè ·

Tannie ek kan verstaan dat die so moeilik is om n permit te kry, anders sou elke Janrap en sy maat n permit wou he. Nie almal bly by voorwaardes nie. Kom ons wees nou maar eerlik as daar net permitte gegee is sou dit ook nie reg gewees het nie, maak nie saak wat die regeering besluit nie dit sal volgens die mensdom nooit reg wees nie. Ek voel jammer vir almal in julle posisie maar ons moet dit eenvoudig net deursien en die beste van n slegte saak maak. Sterkte.. ❤️

msp ·

Ek verstaan nie hoe hulle werk nie. As iemand 14 dae in afsondering was kan hulle mos huistoe gaan of geld dit net vir sekere mense? Lyk of niemand weer hul mag misbruik of het Suid Afrika nou onsettend baie presidente wat die land regeer?

Wonder ·

Dis n gemors… my niggie se seuntjie bly eintlik by sy ouma in Limpopo en gaan daar skool, sy werk raak nou agter want die skole gee huiswerk, hy was in Gauteng vir die vakansie by sy ma, my niggie sukkel van verlede week af om permit te kry, sy was by een polisiestasie wat se hull kan nie help nie, by ander polisiestasie moes sy dokumente by die huis van internet aftrek dit invul terug vat polisiestasie toe, toe kinderhof toe gaan daar n pak vorms invul op die heel einde toe alles by die hof gedoen is word gese sy moet gaan vir Covid19 “toets” die vorm wat die persoon invul wat jou toets of simptome kyk moet aan die pak pappiere kom wat saam gery moet word tot waar die kind moet gaan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.