Afsondering: Maatskappye skuld miljoene aan stoorfasiliteite op hawens

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Erwan Hesry/Unsplash)

Suid-Afrikaanse maatskappye sit met ʼn rekening van R1,5 miljard nadat sowat 20 000 skeepsvraghouers tydens vlak 5 van die afsonderingstydperk by die hawens se stoorfasiliteite geberg is.

David Logan, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse vereniging van skeepsvragversenders (SAAFF), het nou sy kommer uitgespreek oor die hoë koste verbonde aan die stoor van vragte wat nie tydens die vroeë stadiums van die algehele landwye afsondering afgelewer kon word nie.

SAAFF verteenwoordig 294 Suid-Afrikaanse ondernemings in die internasionale vragversending- en doeanemakelary-bedryf. Dié ondernemings bestuur ongeveer 70% van vragte in grootmaat soos dit na en van Suid-Afrika se hawens, lughawens en oor landgrense beweeg.

Logan verduidelik dat skeepsvraghouers tot onlangs nog nie wettiglik by invoerders afgelewer kon word nie weens die betrokke afsonderingsregulasies wat tot en met 1 Junie gegeld het. Die vragte is toe noodgedwonge by die betrokke hawe afgelewer en bloot in pakhuise gestoor. Die regulasies onder vlak 3 van afsondering laat wel nou toe dat vragte van die hawe na hul eindbestemming vervoer kan word.

“Die skuif na vlak 3 sal beteken dat ʼn groot hoeveelheid houers afgelewer moet word en ons kan dus toenemende druk in terme van buitensporige aanhoudingskoste verwag,” het Logan verduidelik.

Volgens hom kan sommige skeepsvraghouers in dié stadium steeds nie by die invoerder afgelewer word nie. “Ons is bewus van fakture wat reeds miljoene rand beloop,” het hy verduidelik.

Volgens Logan is die hoë tariewe reeds ʼn geruime tyd ʼn bron van kommer, hoewel vragte in die verlede maklik afgelewer kon word en dit dus nie altyd nodig was vir stoor nie.

Die SAAFF voer nou aan dat die koste van stoorfasiliteite nie só hoog behoort te wees te midde van die Covid-19-pandemie nie. “Die koste is aanvanklik bedoel om ondoeltreffendheid in die vervoer van produkte van hawens te penaliseer en word in Amerikaanse dollar gehef. Dié vragte moes nou weens buitengewone omstandighede buite ondernemings se beheer gestoor word,” sê die organisasie.

Die organisasie doen ʼn beroep op stoorfasiliteite om in dié tyd maatskappye tegemoet te kom deur net kostes verbonde aan hul eie uitgawes te hef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

WLM ·

Geen probleem, sit net SAL op die invoice dan SAL die belasting betaler dit betaal.

Anel ·

Dis verregaande. Laat die regering betaal. As daar nie verbod was nie sou dit nie nodig gewees het vir stoorgeld nie. Nie maatskappye se skuld nie. Daar was geen vooraf waarskuwing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.