Afsondering: Maties vang aanlyn graad

studente

Foto: Argief

Gegradueerdes aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan Vrydag om 14:00 amptelik aanlyn hul grade ontvang. Dit volg ná die gradeplegtigheid wat in Maart en April sou plaasvind, gekanselleer is weens die algehele landwye afsondering.

“Om die belangrike mylpaal te vier, nooi ons graag alle gegradueerdes asook hul familie en vriende uit na ʼn virtuele gradeplegtigheid,” het dr. Ronel Retief, registrateur van die US, op die universiteit se webblad aangekondig.

’n Skakel na dié virtuele gradeplegtigheid sal Vrydagoggend op die US se webblad geplaas word. ’n Video-opname sal ook op die webblad beskikbaar gestel word vir diegene wat ná die afloop van die verrigtinge daarna wil kyk.

Kwalifikasies gaan deur die nuwe US-kanselier, oudregter Edwin Cameron, toegeken word.

Cameron, prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, asook Retief, gaan die verrigtinge aanlyn volg.

Te midde van landwye afsondering word die posdiens direk beïnvloed en daarom ook die aflewering van studente se graaddokumente. “Ons ondersoek tans die moontlikheid om sertifikate en ander dokumente elektronies te stuur aan diegene wat dit dringend benodig,” sê Retief.

Retief sê gegradueerdes sal steeds die geleentheid kry om aan die gradeplegtigheid in Desember deel te neem, na gelang van die stand van sake in daardie stadium.

“Ons wil u hartlik bedank vir u begrip tydens hierdie moeilike, onsekere tydperk. Ons onderneem om u te alle tye op die hoogte te hou van die verspreiding van u graadsertifikaat,” het Retief op die webblad gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.