Afsondering: Menigte WVF-eise weens Covid-19 verwag

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het Dinsdag gesê een van die groot uitdagings wat tydens die tydperk van algehele afsonderingondervind word, is dié met verlof. Volgens die minister het die departement reeds talle klagtes ontvang – van werkers en vakbonde – dat sommige werkgewers die las op werkers wil afskuif.

“Ons ontvang veral klagtes van werkers dat hul werkgewers hulle gedwing het om onbetaalde verlof te neem. Ons besef wanneer verlof bepaal word, kan werkgewers werkers dwing om enige tyd wat hulle goed dink, verlof te neem.

“Hierdie is egter ʼn unieke situasie wat van almal van ons verwag om op te tree op ʼn manier wat maatskaplike solidariteit bevorder.”

Nuwe stelsel vir eise weens Covid-19

Nxesi sê die departement het ʼn direktief uitgereik wat die proses om eise by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) in te dien uiteensit en het reeds ʼn Covid-19-nasionale rampvoordeel bekend gestel om die gevolge van moontlike afleggings weens die afsonderingstydperk teen te werk.

Die minister sê dit is belangrik om te verstaan dat die WVF egter nié miljoene individuele eise sal kan verwerk nie omdat dit tot enorme vertragings gaan lei.

“Ons het ʼn stelsel in werking gestel waarvolgens WVF-voordele deur maatskappye, sektorale verenigings en bedingingsrade betaal gaan word.”

Nxesi sê daar word dus wegbeweeg van die tradisionele model van individuele eise deur die arbeidsentrums – wat bloot oorweldig sal word. Hy sê dit sal dié sentrums ook in virus-brandpunte omskep, omdat dit groot skares mense sal lok. Die departement het Vrydag reeds al sy arbeidskantore gesluit.

(Foto: Facebook)

Die DA het egter ʼn beroep op die departement gedoen om sy arbeidsentrums in alle provinsies te heropen. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, stem saam dat daar na verwagting ʼn massa vir werkloosheidsversekering ingedien gaan word en waarsku dat dié eise boonop spoedig hanteer moet word.

Die DA sê hoewel daar nie fout gevind kan word met die regering se pogings om die Covid-19-pandemie te help stuit nie, het dit diegene wat die departement se dienste desperaat nodig het, in ʼn ernstige penarie gelaat.

Talle eisers het nie rekenaars of toegang tot aanlyn dienste nie. “Dit móét vir die departement moontlik wees om ʼn afgeskaalde kantoordiens te lewer terwyl steeds streng gehoor gegee word aan distansiëring en higiëne maatreëls,” het Cardo gesê.

ʼn Groot getal kleinsake-eienaars wat tydens die isolasietydperk nie hul werkers se salarisse gaan kan betaal nie, sal moet aansoek doen vir die WVF se sogenaamde Temporary Employer-Employee Relief Scheme-voordeel (Covid-19 TERS). Dié voordeel betaal ʼn gedeelte van die salarisse van werkers by ondernemings wat tydelik moet sluit.

Cardo sê egter een e-pos-adres en ʼn enkele kontaknommer is nie naastenby voldoende nie.

Volgens die minister moet ʼn samewerkingsooreenkoms vir groep- of gesamentlike betalings aangegaan word én dat die verskillende sektore se gebruik van die geld onderhewig aan ʼn oudit is.

“Dit het tot teenkanting van sommige werkgewers gelei. Ons moet almal verstaan dat dit staatsgeld is wat ingevolge wetgewing geoudit moet word. Ons gaan dus aandring op die inwerkingstelling van behoorlike bestuur in dié verband. Ons het geen ander keuse in die saak nie.”

Hy het ʼn beroep op betrokkenes gedoen om so gou moontlik samesprekings te voer sodat die betaling van die geld aan diegene wat dit die nodigste het, gedoen kan word.

“Ons wil dié werkgewers bedank wat reeds maatskaplike verantwoordelikheid en solidariteit aan die dag gelê het deur werkers nie net hul volle salarisse te betaal nie, maar ook aangebied het om as betalingsagente in dié tyd op te tree.”

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Werkgewers oortree die wet

Volgens Nxesi dwing sommige werkgewers wat nié noodsaaklike dienste lewer nie, oënskynlik ook hul werkers om aan te meld vir diens.

Die minister waarsku dít is ʼn strafregtelike oortreding wat nie net ʼn gevaar vir die betrokke werkers inhou nie, maar ook vir almal met wie hulle in kontak kom. Dit is ook heeltemal teenstrydig met die oproep om in dié tyd so ver moontlik tuis te bly.

Die Vergoedingskommissaris het vroeër vandeesmaand ook ʼn kennisgewing uitgereik wat dit nou vir bepaalde beroepe makliker maak om vergoeding te eis indien hulle die nuwe koronavirus (wat die siekte Covid-19 veroorsaak) by die werk opgedoen het. Dié beroepe sluit in dokters, verpleegkundiges, ambulanspersoneel en werkers in lykshuise.

Maak só om ʼn eis in te dien:

Stap 1: Dokumente wat benodig word

  • Magtigingsbrief, op ʼn amptelike briefhoof van die maatskappy waarin toestemming aan ʼn individu gegee word om ʼn eis namens die maatskappy in te dien.
  • Die ooreenkoms tussen die WVF, die Bedingingsraad en die werkgewer.
  • Die voorgeskrewe vorm met die werkgewer se inligting.
  • ʼn Bewys/betaalstrokie van die werker se laaste drie betalings.
  • Bevestiging van bankbesonderhede in die vorm van ʼn gesertifiseerde bankstaat.

Stap 2: Indiening

  • Stuur al die dokumente (soos uiteengesit in Stap 1) na die WVF by die e-pos-adres [email protected]
  • Indien alles behoorlik ingevul, akkuraat en geldig is, word ʼn outomatiese berekening gedoen van die bedrag wat oorbetaal gaan word.

Stap 3: Gevolgtrekking

Die departement waarsku dat betaling net sal geskied nadat die WVF en die werkgewer of Bedingingsraad ʼn ooreenkoms oor die vergoeding bereik het.

Navrae:

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

My besigheid pas nie regstellende aksie en BEE reg toe nie, so ek gaan nie staatshulp na lockdown kry nie. Dis OK; seker maar die “straf” vir apartheid.
Maar wat van my werkers? 2 swart en 2 kleurling
Al werk hulle nou vir ‘n wit rassis vol wit monopolie kapitaal, kan hulle nog steeds by die WVF eis?

Michael 1 ·

Jaco,net soos jy geforseer word deur die regering van vandag om dinge te doen waarmee jy nie saamstem nie net so was jy deur die vorige regering geforseer,so my punt is die np regering moet geblameer word vir albei,niks met ons te doen nie .

Erica ·

Nee almal kan dit doen. Ons is ook besig daarmee. Die groot probleem kom as jy jou krediteure bel en se ek kan julle nie betaal vir Mei md nie want ek gaan nie n salaris kry nie. Die een het regheid vir my gese ek gee nie om nie ek soek my geld. Nog nooit n md gemis of enige iets nie. Ek dog ek moet hulle inlig. Hulle sal maar n lee bank rek kry.

Chris ·

Die werkers is huistoe sonder toegang tot elektroniese kommunikasie – so werker moet inkom kantoor toe om magtigingsbrief te teken en bank toegaan om gesertifiseerde bankstaat te kry – hoe nou gemaak?

Fedup ·

Ja nee. Maak nie saak watter kant jy na toe draai nie, byt gaan hulle byt. Verwag die onmoontlike. Wens ek kan hulle leer hoe dit in die werklike lewe werk. Tap, skop en kielie daai klip, jy mors net jou energie.

Carina ·

Die regering maak dit vir die werkgewers uiters moeilik. Ons arbeids konsultant en ons “health & Safety” maatskappy het ons die volgende lysie van dokumentasie gestuur wat ons moet invul vir elke personeellid wat van die UIF moet eis in die tyd:

4.1 Vir tydelike aflegging:
• UI 19 en UI 2.7 voltooi deur Besigheid.
• UI 2.1b.
• UI 2.8 voltooi deur die bank.
• Brief van Besigheid om kort ure te bevestig.
• Afskrif van ID
Nou is dit alles bymekaar en die mense is reeds huis toe. Dit verskil nou weer heeltemal van die lys wat hier bo aangegee word.

1. Magtigingsbrief, op ʼn amptelike briefhoof van die maatskappy waarin toestemming aan ʼn individu gegee word om ʼn eis namens die maatskappy in te dien.
2. Die ooreenkoms tussen die WVF, die Bedingingsraad en die werkgewer. Waar kry ons dit?
3. Die voorgeskrewe vorm met die werkgewer se inligting. Watter vorm is dit?
4. ‘ʼn Bewys/betaalstrokie van die werker se laaste drie betalings.
5. Gesertifiseerde bankstaat.

So wat doen ons nou?

Brian ·

Carina, die Covid-19 TER is nie dieselfde as soos per bo deur jou verwys. Die TERS proses is juis daar gestel sodat die werkgewer die “bulk” aansoek namens die werknemers kan doen, en is slegs van toepassing indien werknemers glad nie kan werk tydens die tydperk nie (bv kitskos bedryf). Let wel dit is noodsaaklik dat jou besigheid vir UIF geregistreer is en al jou betalings op datum is. Die fonds betaal tot 60 % van salaris tot maksimum van ongeveer R17 000. Werknemers hoef NIE enige vorms te teken nie

Om al die nodige vorms te kry indien die opsie van toepassing is, stuur epos na [email protected]. Dis outomatiese epos diens sal dan alle nodige vorms en vereistes terugstuur- dit neem paar ure. Let ook dat aparte bankrekening nodig is (het my uur gevat by FNB om so rekening te open), en al die geld word daarin betaal, en werknemer betaal dan diensoorkomstig aan werknemers. Daar is ook hulplyn wat jy kan skakel, maar wees geduldig want jy wag lank tot iemand jou help

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.