Afsondering: Mense gaan sterf weens ‘gebroke ekonomie’

Kenners waarsku steeds dat die koste van die afsonderingstydperk in Suid-Afrika veel meer lewens kan eis as die virus self. Hier wag inwoners van Sukhulumi vir kospakkies om deur die regering uitgedeel te word. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Terwyl die idee van ʼn staat van landwye afsondering teen die einde van Maart dalk nog gewild onder talle Suid-Afrikaners was, waarsku kenners dat dié ingesteldheid intussen beduidend verander het.

Die ekonoom en strateeg Russel Lamberti sê daar moet weggedoen word met die idee dat lewens vir geld verruil word wanneer gevra word dat die afsonderingstydperk opgeskort word.

“Ekonomiese inkrimping veroorsaak lewensverlies. Armoede moor,” het Lamberti Dinsdag tydens ʼn aanlyn paneelbespreking met die DA-leier, John Steenhuisen, gesê.

Lamberti is een van verskeie kenners wat deel vorm van die organisasie Pandemic Data & Analysis, oftewel Panda, wat probeer om besluitnemers van berekende data oor die koronavirus en die uitwerking daarvan op Suid-Afrikaners se inkomste te voorsien.

Volgens Steenhuisen het Suid-Afrika tot dusver die langste en strengste afsonderingstydperk wêreldwyd gehad.

Suid-Afrika is vandag reeds 75 dae lank in ʼn staat van inperking. Teen Maandagaand is 50 879 gevalle van Covid-19 in die land aangemeld en die sterftesyfer staan op 1 080.

Talle kenners maan egter steeds dat daar ʼn enorme oorreaksie op die Covid-19-pandemie was en dat mense weens ʼn gebroke ekonomie, eerder as Covid-19, gaan sterf.

Nick Hudson, ʼn aktuaris en koördineerder van Panda, sê terwyl sommige modelle tot 360 000 sterftes weens die siekte vir Suid-Afrika voorspel, bereken hulle dié syfer op sowat 10 000 – en nie meer as 18 000 nie.

Die regering het die sterftesyfer intussen aangepas en volgens modelle wat die staat gebruik, word tussen 40 000 en 45 000 koronavirussterftes steeds vir Suid-Afrika voorspel.

“Wat ons tot dusver wêreldwyd gesien het, was waansinnig. Ons het die wiskunde gedoen en voorspel 500 000 sterftes wêreldwyd. Dit moet gesien word teen ʼn wêreldbevolking van 7,8 miljard mense,” het Hudson gesê.

Verskeie kenners sê daar is geen grondslag vir die bewering dat die inperkingstyd die infeksiekurwe laat afplat het nie. (Foto: Tracey Adams/ANA)

Hudson waarsku dat kankertoetse wat nou nie meer so gereeld gedoen word nie, diarree by kinders en inentingsprogramme wat agterweë gelaat word, uiteindelik ʼn veel groter tol as Covid-19 kan eis. Hy sê selfs siektes soos kwasjiorkor (ʼn kindersiekte wat deur wanvoeding veroorsaak word) kan weens die afsonderingstydperk weer in Suid-Afrika kop uitsteek.

Hudson sê daar is wêreldwyd geen behoorlike aanduiding dat ʼn afsonderingstydperk enigsins die kurwe van infeksies afplat soos hier aangevoer word nie.

Ian McGorian, ʼn wiskundige en statistiese kenner en lid van Panda, sê die sterftesyfers vir Suid-Afrika is aanvanklik bereken op ʼn geraamde infeksiekoers van onderskeidelik 10%, 20% en 40%. Maar nie eens in twee van die lande waar die virus die swaarste getref het – Italië en Spanje – was dít die infeksiekoers nie. Die koers in dié lande was nagenoeg 2,5%.

McGorian sê dit maak dus geen sin dat ʼn infeksiekoers van selfs 10% vir Suid-Afrika voorspel is nie.

Hy glo dat die landwye afsondering nooit in Suid-Afrika ingestel moes word nie.

Ook Lamberti sê ingevolge wetgewing – die Wet op Rampbestuur wat nou geld – mag rykdom in die vorm van goedere en dienste in dié stadium nie geskep word nie. En hy waarsku dat Suid-Afrika tussen 10% en 15% van sy Bruto Binnelandse Produk (BBP) weens die afsonderingstydperk kwyt kan wees.

Wat is 10% van Suid-Afrika se ekonomie? Lamberti verduidelik dat die wêreldwye ekonomiese resessie in 2008 ʼn hap van nagenoeg 2% uit die ekonomie geneem het. ʼn Inkrimping van 10% in die BBP is nagenoeg R500 miljard en kan belastingverliese van tussen R200 miljard en R400 miljard vir die staatskas beteken. Dit kan dus tussen vyf en selfs tien keer erger as die 2008-resessie wees.

Sakeondernemings gaan in hul honderde vou en die ironiese gevolg hiervan is dat dit ongelykheid gaan bevorder, sê Lamberti.

Hy sê die regering het ʼn besluit geneem wat die drie dinge waarteen die staat so hard veg – armoede, ongelykheid en werkloosheid – gaan vererger.

Kenners waarsku dat die afsonderingstydperk groter ongelykheid, werkloosheid en armoede gaan veroorsaak. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Lamberti sê die ooglopende besluit is om die afsonderingstydperk summier op te skort en mense toe te laat om te werk. Dit sluit diegene in die persoonlikedienste- en gasvryheidsbedryf in. Hy meen ondernemings sal self slim stappe doen om hul werkers te beskerm.

“Soveel as wat Marxiste dit wil glo, wil maatskappye nie hê hul werkers moet sterf nie en werkers self wil ook nie sterf nie. Maatskappye kan hul eie risiko’s bestuur,” sê hy.

Volgens hom bestaan daar tans die opvatting dat ʼn sentrale owerheid, die regering, aan elke mens kan voorskryf hoe om ten beste te leef en sy eie risiko’s te bestuur. “Ons het nou ʼn een-grootte-pas-almal-benadering vir 60 miljoen verskillende mense.”

Hy maan dat die idee dat die ekonomie toegelaat moet word om in duie te stort en dat ʼn sogenaamde feniks-ekonomie – wat billik en regverdig is – uit die as daarvan gaan herrys, verwerp moet word.

“As jy met ʼn voorhamer op die ekonomie lostrek, val jy die organisme aan wat lewe onderhou. Ek kan net nie aanvaar dat dít beskou word as lewens teen geld nie,” sê Lamberti.

“Jy kan ook net ʼn openbare gesondheidsreaksie uit ʼn funksionerende ekonomie finansier.”

Lamberti sê in veral landelike gebiede moet mense beweeg om ʼn inkomste te verdien – hulle moet letterlik hul huise verlaat om te gaan soek na werk – en die afsonderingstydperk het dít onmoontlik gemaak.

“Uiteindelik gaan die armes ly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Die drakoniese stupid maatreëls is fataal. Mr Ramaposa is besig om alles wat leef en beef te vernietig, insluitende die bestaan van die mees kwesbares wat hy so graag wil ophef . Hy faal en verander weer sy storie na wit kapitaal.
Ag shame

JohanR ·

Die ding is op die aand van die 23ste Maart het Cyril goed begin, en daar was net op die ommiddelike probleem van Covid-19 gekonsertreer. Maar toe…..begin hulle allerander ander slim planne uitdink, en nou is hulle te ver in om kop uit te trek. Hulle “scorched earth” beleid is aan die gang, en ons sal sien hoe en waar dit opeindig. Die President van die land toe hy gevra is waaneer die verbod op sigarete gelig sal word, het hy gese HY weet nie. ‘n President weet nie!

Anel ·

Die rykstes, die regering word al ryker, want hulle gee nie ‘n sent vir enige hulpprojek nie, en die armstes word nog armer want hulle deel die laaste bietjie wat hulle het met ander.

Ivana ·

Hulle kan nie eers die weer ordentlik voorspel nie, hoe kan hulle se hoeveel sterftes daar kan wees. Ons regering is die grootste oorsaak van armoede en werkloosheid. n Spul magsbehepte patete wat nog elke mnd hulle miljoene R trek en hul eie mense laat doodgaan van honger, vee voor jul eie deur oor wit rykdom wie het hul wit rykdom gedeel, wat julle nou uitgee op lenings

Karel Kobus Kruger ·

n Paar maande gelede het (amper) alle “deskundiges” voorspel hoe dodelik covid gaan wees en dat ons by ons miljoene gaan dooi. Nou voorspel “deskundiges” weer hoe geweldig sleg dit vir die ekonomie gaan wees. Is beide groepe nie maar net 2 kante van dieselfde munt nie? Die gemiddelde mens hou mos daarvan om te oorreageer en melodramaties te wees.

Mense gaan beslis sterf agv covid en mense gaan beslis hul besighede en werk verloor agv covid. Maar sal dit regtig so erg wees soos wat die “deskundiges” voorspel? Dalk. Dalk nie.

Althes ·

Die inperking ontwrig almal se lewens en het ñ geweldige groot geestestoestand op Suid-Afrikaners

Kobus2 ·

Hierdie “Covid-19” klug is presies waarvan Karl Marx gepraat het baie dekades gelede. Ek onthou nie die presiese aanhaling woordeliks nie, maar hy het basies iets gesê soos “If you create a serious enough situation world wide, the people will embrace the New World Order far easier.”
Ek sê nie daar is nie ‘n virus nie, maar dit is NIE so dodelik soos daar beweer word nie. Terwyl ons in ons huise teen ons wil aangehou word, manupileer narre soos Ramaphosa en kie die media en statistieke SOOS HY DEUR DIE WÊRELD GESONDHEID ORGANISASIE (WGO) BEVEEL WORD OM TE DOEN.

Jan ·

Die media en die ANC dra die verantwoordelikheid vir ellende wat inperking veroorsaak. Reeds in Maart het ekonome gewaarsku dat inperking katastrofiese ekonomiese gevolge gaan hê op besighede en werkloosheid. Ook oor enorme oorreaksie op Covid-19 en ‘n gebroke ekonomie wat meer sterftes as die virus sal veroorsaak. Die vreesaanjaende mediaveldtog is egter ook meedoënloos voortgesit.
Inperking is gemotiveer met soveel as 360 000 sterftes wat nou geraam word op 10 000 maar hoogstens 18 000. Selfs die regering praat nou van slegs 40 000 tot 50 000.
Nogtans het die regering die langste en strengste inperking in die wêreld ingestel in ‘n land wat dit die minste kon bekostig en hulle gaan daarmee voort. Dis ‘n doodsvonnis vir die ekonomie en tallose inwoners deur armoede, wanvoeding en geweld. Daar is ook steeds geen getuienis dat inperking die infeksiekoers afplat nie.
Suid Afrika se infeksiekoers was op 10% tot 40% geraam, maar selfs in Italië en Spanje het dit nie 2,5% oorskry nie.

Alleen Wolf ·

Almal weet dit behalwe die klomp in die regering, en hulle het nie juis daarin geslaag om iets noemenswaardig te bereik nie, 50 ventilators ge installeer tot en met gister

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.