Afsondering: Misdaad neem drasties af

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Daar is ʼn beduidende afname in misdaad sedert die tydperk van afsondering ingestel is. Só het Bheki Cele, minister van polisie, Woensdag tydens ʼn inligtingsessie by Centrum Park in Durban gesê.

Dié aankondiging berus op bevindings wat gemaak is nadat ʼn ontleding gedoen is van die getal misdade wat in die afsonderingstydperk (27 Maart – 20 April) aangemeld is, teenoor die getal misdade tydens dieselfde tydperk verlede jaar.

Volgens dié ontleding het die getal moordklagte van 1 542 in 2019 na 432 (72%) in 2020 afgeneem. Verkragtingsake het van 2 908 in 2019 na 371 (87,2%) vanjaar afgeneem, terwyl die aantal poging tot moord- sake van 1 300 in 2019 na 443 (65,9%) vanjaar afgeneem het. Klagte van aanrandings met die doel om te beseer het ook van 11 876 verlede jaar na 1 758 (85,2%) in 2020 afgeneem. Sake van roof met verswarende omstandighede het van 6 654 in 2019 na 2 022 (69,6%) in 2020 afgeneem.

Cele verwelkom ook die afname in verskeie trio-misdade. Daar is bevind dat voertuigkapings met 80,9% (van 1 146 na 219), rooftogte by woonhuise met 53,8% (van 1 437 na 664) en rooftogte by sakeondernemings met 56,5% (van 1 345 na 464) afgeneem het in vergelyking met verlede jaar.

Die aantal klagte wat ingedien is rakende huishoudelike geweld toon volgens Cele ook ʼn merkbare afname. Die totaal van 9 990 gevalle tussen 29 Maart en 22 April verlede jaar het na 3 061 gevalle tussen 27 Maart tot 20 April vanjaar afgeneem. Dit dui op ʼn landsye afname van 69,4%.

Cele sê in vier van die gevalle van huishoudelike geweld wat ten tyde van die afsondering aangemeld was, is kêrels glo deur hul vriendinne vermoor. In twee van dié gevalle het ʼn bakleiery oor drank tussen pare uitgeloop op moord.

In terme van die oortreding van regulasies van die landwye algehele afsondering, is daar in die eerste 21 dae byna 107 000 sake by die polisie aanhangig gemaak. Meer as 118 000 mense is aangekla vir die oortreding van dié regulasies en 42 388 het reeds in verskillende howe regoor die land verskyn. Dié sake sluit in drankverwante oortredings, onwettige byeenkomste, versuiming om tuis te bly, mense wat oor provinsiale grense beweeg het, sakeverwante oortredings, vervoerverwante oortredings en die misleiding van wetstoepassers.

Altesaam 131 wetstoepassers is ook in dié tyd in hegtenis geneem op verskeie aanklagte. Cele het onder meer die aandag gevestig op die twee polisiebeamptes van Katlehong in Gauteng wat vasgetrek is nadat hulle glo omkoopgeld van R12 000 geëis het van ʼn sakeman wat die regulasies oortree het.

Van die ander beamptes wat aangekla is, staan ​​tereg op verskillende aanklagte wat verband hou met die verbod op die verkoop van drank, korrupsie, die reël van byeenkomste asook die versinning van inbrake in die Wes-Kaap om só alkohol uit drankwinkels te buit.

Cele sê daar is daagliks meer as 190 padblokkades en 681 voertuigkontrolepunte landwyd opgerig.

Hy sê daar was ook die afgelope week talle navrae en klagtes van ouers wat toestemming verlang om hul kinders in ander provinsies te gaan haal. “Sommige ouers is later by padblokkades teruggestuur huis toe of selfs in hegtenis geneem.

“Lede van die veiligheidsmagte soos ontplooide lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) het sover daagliks die strate gepatrolleer. Daar is ook klopjagte uitgevoer waarin daar onder meer op talle onwettige drankverkooppunte en die bedryf van nienoodsaaklike dienste toegeslaan is,” sê Cele.

Cele het bevestig die gesondheid en welstand van wetstoepassers word in dié tyd geprioritiseer.

“Alle voertuie, geboue en toerusting word deurlopend skoongemaak en ontsmet. Persoonlike beskermingtoerusting, handskoene, maskers, ontsmettingsmiddels, weggooipakke en ander nodige artikels is voorsien om te verseker dat dienslewering in geen stadium in die gedrang kom nie.”

Cele het ook sy medelye betuig met die gesinne van die vyf polisiebeamptes wat ten tyde van die afsondering gesterf het.

Hy het ook al die wetstoepassers geloof vir hul toewyding en veerkragtigheid om seker te maak die regulasies word nagekom ter ondersteuning van die regering se pogings om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

marius ·

Waarom ? Want die land is onder beleg . Geen ander rede nie.

Willem ·

Ai is dit so moeilik om te verstaan dat misdaad sal afneem as niemand daar buite is nie. Dink n graad 3 onderwyser moet virdie hanswors verduidelik

Burgermeester ·

Natuurlik sal daar ‘n afname in sekere misdade wees, a.g.v. die inperking. Jy het geen kritiese denke nodig om daai afleiding te maak nie. Dink Cele werklik die afname in misdaad is deur sy te doen? Dit is net ‘n jammerte dat hy nie die syfers bekend maak aangaande winkel-stropery nie.

Gerhard ·

Wat van die syfers rakende plaas-aanvalle gedurende die tyd, Alcapone ??

Willem ·

Oom Cele. Daar kan nie kapings wees nie want daar is nie veronderstel om motors op paaie te wees nie. So moenie dat die syfers jou hoed deurmekaar krap nie

Albert Willem ·

Ja maar moorde en diefstalle neem toe,, hyt geen benul waarvan hy praat nie

Pietertjie ·

Dit laat my terugdink aan my kinderdae en die aandklok-reël…

Strandloper ·

Sjoe..daai foto…ek dink die artikel moet n ouderdoms beperking kry van 300 jaar

Scalla ·

Ek dink sy hoed onderdruk sy brein, die groot probleme kom nog, en van sy vooraf gekeurde wetstoepassers is deel van die probleem en die voorbokke.

Michael 1 ·

Dit is net jammer dat ons elke dag lees van polisie wat by diefstal,korrupsie en aanranding betrokke is.

Jax ·

Snert! In ons area het inbrake met Meer as 50% gestyg. Dis tyd dat ons regering oopkaarte met ons speel. Regtig nou genoeg van al die gelieg!!

Nie Verbaas ·

Mnr Cele, daar is veronderstel om geen misdaad te wees nie. Die statistiek is nog steeds skokkend vir n tyd waar almal veronderstel is om by die huis te wees. Behalwe natuurlik noodsaaklike dienste.

Marinda ·

Ai nee regtig. Wat van al die onlangse plaas moorde en aanvalle op bejaardes. Inbrake in winkels veral drankwinkels en Checkers aflewerings trokke wat aangeval word. Is dit nie deel van dit. Nog erger ten minste 20 skape wat geslag word net langs ons plaas. Hulle was nog besig toe hulle betrap word. Is dit nie deel van dit. Ons weet nie van ‘n kwart van alles wat aangaan nie.

Johanncb ·

Misdaad neem moontlik af, maar ons frustrasie neem toe! Om wetsgehoorsame burgers te wees, eis ook sy emosionele slagoffers. Die inperking duur darem nou té lank – begin dit verslap!

Chris ·

Hoop nie dit gaan jou aanmoedig om ons nog baie langter toe te sluit nie

Cornelis ·

Vee en wild diefstal is seker met 200% op in ons omgewing. Daar is daagliks gevalle van mense wat met honde en strikke beeste en wild vang. Ons moet probeer voedsel produseer en tussen in moet ons rond jaag om die diewe te probeer afskrik en van ons plase af jaag. En om te dink ons is nou maar net aan die begin daarvan…

KB ·

Daar is egter nuwe misdaad wat bygekom het, soos plundering en smokkelhandel, wat nie vermeld word nie. Ek glo gesinsmisdaad (aanranding, seksuele misbruik en selfs poging tot moord, of selfs moord) gaan toeneem, indien die regering nie binnekort verslappings gaan maak in sommige van die inperkingsreëls (wat oordrewe is) nie.

PieterP ·

Absolute useless info. Dink die nar dit is omdat die polisie goeie werk doen? Ek kan oe glo dit kry eers nuusdekking nie

Pio ·

Hoe gouer Ramaphosa van hierdie cowboy ontslae raak hoe beter. Kry asb. ‘n persoon wat respek inboesem!

Hans ·

Yip as n dwaas sy mond oopmaak vloei dwaasheid daaruit. Hy hou daarvan om op tv te praat met n masker oor sy mond alleen. Kan iemand tog net aan hom verduidelik dat jou neus ook deel van jou lugweg vorm. Tussen hom en Filile kompeteer hul nou sterk vir nominasie vir die toekenning van dwaas van die jaar

donsie ·

Persoonlik dink ek dit het alles met die verbod op alkohol te doen, die meeste moorde en aanrandings en verkragtings was mense wat by ‘n taverne of onwettige drinkplek dronk raak en stry gekry het of “sterk” geraak het en dan die misdade gepleeg het, dalk moet ons die verbod permanent daar hou …GRAPPIE…

Pim ·

Niemand mag buite hulle huise nie, dis hoekom misdaad af is. Regtig om so trots te wees daarop is nie regtig ‘n prestasie nie. Ek verstaan dat die feit dat misdaad afneem omdat mense ook nie drink nie want brannas het nie brieke nie en ek verstaan die regulasies oor drank verkope. Mense wat nie kos het nie koop 85% van die tyd eerder drank en sigarette voor hulle vir hulle kinders kos koop.

Nicholaas ·

Rerig nou wie probeer hy flous of beindruk, n mens moet brein dood wees as jy nie kan dink dit oor inperking wat dit sal afneem.

Johan ·

Die hele SA sal sien hoe baie C.I.T rooftogte gaan weer plaasvind sodra die inperkings verby is, die grootkoppe wat daarby betrokke is se drank kabinette is nou naby leeg en hulle kort daai vinnige cash

Jan ·

Dit lyk asof dit net staats amptenare is wat nou gevang word . In Natal vat hulle die drank dan verkoop die sap dit weer. 89 gevang. Wat no Cele

Genis ·

Ag regtig Cele, jy is besonders slim… wow pluimpie in jou hoed… STOP PLAAS MOORDE!

Pieter J ·

Ek dink dit sal baie beter wees vir “Bekkie” Cele se openbare beeld as hy liewers net swyg.

Yvonne ·

As dit 72% af geneem het dan wil ek nie die ware syfer van voor die inperking weet nie…skrikwekkend

Oujongvrou ·

Soos gewoonlik weet die man nie waarvan hy praat nie. Sy lede staan en toekyk hoe die plunderaars roof en afbrand.

johan ·

voorstaander van “rook” verbod, ek kom nou eers agter hoe lekker dagga is..

Jaques ·

Ek wil net weet of die plaasmoorde deel vorm van hierdie statistieke?

Martie Smartie ·

Mnr Cele, jou syfers is nou maar eenmaal nie betroubaar nie. Hou tog op hanswors speel.

charmaine ·

Maar nog steed word wit oumense vermoor?? Ai hoe stupid van my dit word mos nie getel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.