Afsondering: Misdaad neem toe, maar steeds geen buurt-, plaaswagte

Polisielede op patrollie in Limpopo tydens die afsonderingstydperk. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Die burgerregtegroep AfriForum sê buurt- en plaaswagte is nou meer as ooit nodig om gemeenskappe te help beveilig.

Dít nadat Bheki Cele, minister van polisie, Vrydag gesê het voorvalle van geweldsmisdaad begin weer toeneem. “Wat betref ernstige en geweldsmisdaad, het ons in April aangekondig dat daar ʼn groot afname in veral kontakmisdaad, wat gesinsgeweld insluit, asook in trio-misdade soos huis- en sakerooftogte en kapings was,” het Cele gesê.

“Ons het weer die misdaad tydens die afsondering met dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk en hoewel die syfers in vergelyking betreklik laag bly, het ons ʼn effense styging in sommige kategorieë gesien.”

Hy het gesê dit is moontlik toe te skryf aan die verslapping van die afsonderingsregulasies wat gelei het tot meer beweging van mense en voertuie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê baie van die misdaad wat nou weer begin toeneem, kan met die hulp van gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe soos buurtwagte bekamp word.

“In landelike gebiede skiet oesdiefstal die hoogte in – iets wat deur plaaswagte stopgesit kan word,” het Cameron gesê.

Cameron sê Cele se stelling dat daar vergeleke met verlede jaar se syfers ʼn algehele afname in misdaad was, is ʼn stelling wat AfriForum as ʼn onregverdige vergelyking beskou.

“Dit is logies dat wanneer daar minder beweging is, misdaad en ook die aanmelding daarvan tot ’n sekere mate sal afneem. Dit is egter nie ’n akkurate weerspieëling van die huidige situasie nie en beteken nie dat misdaad nie steeds ’n ernstige, voortslepende en toenemende bedreiging is nie.

“Die regering het eenvoudig nie die kapasiteit om misdaad alleen te bekamp nie en gemeenskapstrukture is belangrik in die geveg teen geweld en misdaad in Suid-Afrika. Waar die polisie nou hoofsaaklik ’n reaktiewe rol speel, speel buurt- en plaaswagte ’n groot proaktiewe rol,” het hy gesê.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het Vrydag gesê die polisie het die afgelope week oor die kwessie vergader en dat daar begin word met sogenaamde aanlyn gemeenskapspolisiëring. Sitole het gesê ʼn aksieplan sal voorgelê word wat sal uitstippel hoe die proses vorentoe lyk. Hy het nie meer besonderhede verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10
Nou pra' jý

Jy moet deel van Maroela-fontein wees om kommentaar te lewer.

of word deel

9 Kommentators

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Dit kan net een van twee dinge wees.
Deel van hulle komunistiese agenda of die onbevoegdheid om die sitsuasie te verstaan en iets daaromtrent te doen maar in beide gevalle is die slagoffers ge skaakmat.

Fedup

Up and down. Online, offline. Honestly mad hatter and his incompetence.

Hoekom

Hierdie tipe regulasie het niks te doen met die virus nie.

Danie

Kan jy jouself net vir ‘n oomblik verbeel wat die situasie sou wees as die land bevoegde, eerlike, ingeligte, vermoeënde mense , ongeag ras , wat passievol is vir die taak op alle terreine van die samelewing kon he?!!!Dink net waar sou ons na 26 jaar gestaan het!!! Kos niks om te droom. Ons is soo keelvol (sou graag sterker woord wou gebruik)vir die afgedwingde gemors waarin ons tans bevind

Leeuwyfie

Dis sleg as jou reg tot selfbeskerming van jou ontneem word.