Afsondering: Munisipale hoës verbreek glo regulasies

‘n Padblokkade in KwaZulu-Natal waar motoriste ingevolge die afsonderingsregulasies voorgekeer word. (Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Die KwaZulu-Natalse premier, Sihle Zikalala, en die hoofadministrateur van die Tshwane-metroraad is nou ook in die pekel omdat hulle glo die bepalings van die afsonderingstydperk oortree het.

Die DA het ʼn klagte teen Zikalala ingedien nadat hy noodsaaklike werkers by die Clairwood-hospitaal byeengeroep het. Geen byeenkoms, behalwe ʼn begrafnis met minder as 50 mense, word in dié stadium toegelaat nie.

“Verbasend genoeg het die premier net [Sondag] aangekondig dat eThekwini die episentrum van die koronavirus in die provinsie bly. Dieselfde mens doen ʼn beroep op ʼn byeenkoms,” het Dianne Kohler Barnard, die DA se kieshoof in Durban, gesê.

Teen Sondagaand is 902 bevestigde gevalle van Covid-19 in KwaZulu-Natal aangemeld.

Kohler Barnard sê 67% van die gevalle in die provinsie is in eThekwini aangemeld en gevalle styg met sowat 10 per dag. Die provinsie het boonop die hoogste getal gesondheidswerkers wat die virussiekte opgedoen het. Sowat 15% van alle Covid-19-gevalle is gesondheidswerkers. Tog word hulle deur die premier byeengeroep.

“Hy het noodsaaklike personeel van hul belangrike pligte in [hospitaal-] sale en ambulanse weggeroep.”

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Kohler Barnard het gesê die polisie het aanvanklik geweier om hulle toe te laat om ʼn saak aanhangig te maak. “Die polisiebeampte het ons ingelig dat sy seniors vir hom gesê het daar is geen saak nie omdat sosiale distansiëring by die saamtrek toegepas is.

“Ons het eindelik ʼn saak geopen omdat die landswette oortree is. Daar is baie veelseggender maniere waarop die provinsie noodsaaklike werkers kon bedank. Hulle kon meer beskermende toerusting gekry het, veiliger werksomstandighede kon verseker word of meer werkers kon in diens geneem word. Dit is ʼn beter manier om noodsaaklike staatsgeld te bestee eerder as met ʼn verhoog en ʼn klankstelsel.”

Kohler Barnard sê die premier doen nie self wat hy aan ander voorskryf nie. “Almal is gelyk voor die reg en daar moet stappe teen die premier gedoen word.”

Intussen het die VF Plus die LUR vir samewerkende regering in Gauteng gevra om die hoofadministrateur van die Tshwane-metro, Mpho Nawa, dadelik uit sy amp te verwyder. Nawa het glo ook die inperkingsregulasies oortree.

“Nawa het dié week, in stryd met die inperkingsregulasies, ʼn openbare vergadering van sogenaamde veterane en oudstes (struggle veterans and elders stakeholder engagement) geadverteer en dit glo Donderdag aangebied terwyl die regulasies uitdruklik ʼn munisipaliteit verbied om enige vergaderings, insluitende konsultasieprosesse, tydens die inperkingstyd van 21 dae of die verlenging daarvan, te hou,” het Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng, gesê.

Lebogang Maile, die LUR vir samewerkende regering, het Gauteng verlede maand onder administrasie geplaas en Nawa as administrateur aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Onnie ·

Ek is siek en sat vir alle politieke partye wat heeltyd vuilspeel, soos mense met geen ruggraat en geen integriteit nie. Dit maak my naar. Dit sal maak dat ek nooit weer vir niemand stem nie. Dis n siek spul. Sies skaam julle. Mense is besig om by die hope te dood en julle redekawel oor strooi

Juffrou ·

Nee maar die politici doen nes hulle wil! Ons word gyselaar gehou, maar hulle hardloop los rond en skryf vir ons voor wat ons nie mag doen!

Karlahari ·

Gaan by die hope dood….
In een normale paas naweek gaan meer as 10x die huidige Corona totaal in SA dood.
Sien jy enige van die maatreëls om oad veiligheid te bevorder?
What is good for the goose is good for the gander.

Kobus ·

Hy mag,want hy het “mag” Meer en meer mense gaan die reels begin ignoreer

Sê Ook Maar Net ·

Wel as ek kyk na die verkeer, toe ek apteek toe was naby die Kollonade in Montana, is daar geen grendelgreep.
Ek het by die robot gestaan ses voertuie diep. Party voertuie Pa, Ma en drie kinders!! Waar ry almal so rond?

Die Premier het seker gesien almal ry rond en kom bymekaar toe dink hy die grendelgreep is verby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.