Afsondering: Nuwe sportregulasies ‘irrasioneel, teenstrydig’

(Argieffoto: Jon Super/AP)

Die DA het die aankondiging van regulasies vir beroepsatlete op vlak 3 van die afsonderingsregulasies as onsinnig bestempel en sê dit is deurspek van teenstrydighede en irrasionele uitsluitings.

Nathi Mthethwa, minister van sport, het die regulasies wat die verspreiding van Covid-19 moet help stuit, Donderdag in die Staatskoerant aangekondig.

“Oefening en nie-kontak-sportbyeenkomste vir beroepsatlete mag hervat word in ooreenstemming met die gesondheidsprotokolle en sonder enige toeskouers,” lui Mthethwa se aankondiging.

Die minister het ʼn lys van 25 nie-kontaksportsoorte gegee wat nou weer op wedstrydvlak aangebied mag word. Dit sluit sportsoorte in soos gholf, fietsry, muurbal, roei, tennis en krieket.

Die DA sê ʼn sportsoort soos gewigoptel word ingevolge die regulasies egter nié toegelaat nie. Skaak word by die lys ingesluit, maar potspel en snoeker nie. Swem word nie by die lys ingesluit nie, maar die driekamp, waarvan swem een van die afdelings is, word wél ingevolge die regulasies toegelaat.

Sportkodes waarvan atlete toegelaat word om nét te oefen, is basketbal, skerm, sokker, hokkie, rugby, figuurskaats, atletiek, yshokkie, netbal en motorsport.

Die DA sê kragbootsport word ook heeltemal uitgesluit en atlete word nie eens toegelaat om te oefen nie.

“Die regulasies laat sportlui met meer vrae as antwoorde. Dit vererger ook die pyn en lyding wat die pandemie vir Suid-Afrikaanse sport veroorsaak het,” het Tshepo Mhlongo, die DA se woordvoerder oor sport, gesê.

Die DA sê Mthethwa moet duidelikheid oor die teenstrydighede in die regulasies verskaf.

(Foto: pixabay)

“Ons raak nou moeg vir die regering se arbitrêre regulasies wat geen grondslag in navorsing het nie, wat heelwat teenstrydighede bevat en wat ʼn bron van frustrasie vir die sportbedryf is.

“Die meeste atlete kon tydens die afsonderingstydperk nie ʼn bestendige inkomste verdien nie en die hervatting van nie-kontaksportsoorte gaan verligting bied,” het Mhlongo gesê.

Volgens hom het atlete sedert die aanvang van die afsonderingstydperk gely onder ʼn gebrek aan ondersteuning van die departement om verligtingsmaatreëls vir sportlui in te stel en dat atlete in die donker was wat inligting en hulp betref.

Ingevolge die regulasies word oefening en wedstryde steeds in sogenaamde brandpuntgebiede verbied. Organisasies moet ook ʼn Covid-19-plan vir atlete en sportbyeenkomste voorlê en moet aandui hoe oefening ingevolge gesondheidsprotokolle gaan plaasvind.

Die regulasies geld net beroepsatlete, wat gedefinieer word as ʼn atleet wat ʼn inkomste verdien deur aan sport deel te neem, of betaling vir ʼn vertoning by ʼn internasionale kampioenskap of verwante byeenkoms insluit. Dit geld ook voorbereiding vir die Olimpiese Spele en lede van ʼn oefengroep vir ʼn betrokke sportliggaam.

Dit sluit dus amateuratlete en diegene wat die sport as ʼn stokperdjie beoefen uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andre ·

Dis duidelik dat die opsteller nie veel van sport weet nie, maar wie het hom aangestel. En waarom?

Nie Verbaas ·

En die ANC slim sirkus duur voort. Lagwekkend maar terselfdertyd kommerwekkend.

Willem ·

Wat het ons verwag. Jy mag branderplank ry maar mag nie op strand gaan om in see te kom.

Marius ·

Ai tog , red n nasie en bou n volk met soveel breinkrag . Dit gaan bittttter moeilik gaan . Shame .

Johannes ·

Soms kan ‘n mens net jou kop in ongeloof sit en skud. Geen wonder ons is so diep in die moeilikheid nie.

twaalfboor ·

Eish nou verstaan ek nie. Rugby oefening word toegelaat maar nie wedstryde nie. Wat van “touch rugby”. Nope gaan ook seker nie werk nie.

wim ·

Die polisie verstaan beslis ook nie die reëls nie, en hul kan nie elke dag op hoogte bly nie, so verwag baie verskillende interpretasies.

Ek verwag kleiner privaatfasiliteite wat iets doen wat nie eksplisiet genoem is nie, gaan eenvoudig oopmaak. Groter plekke met takke kan en groter sigbaarheid sal toe bly.

Chris ·

Onsinnig? Vergelyk die verbod op verkoop van sigarette wat nou hoofsaaklik ten doel het om mense te laat ophou rook, met die verbod op drank verkope. Het die mense wat gewoonlik gedrink het, nou dat die vebod opgehef is, opgehou drink? Indien die regulasies sin maak, sal die al die ander en ook hierdie regulasies ook nie onsinnig wees nie. Ek reken “ons” verstaan net nie die regering nie, wees net baie, baie jammer en dan sal alles weer regkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.