Afsondering: Oorwinning vir Polokwane-sakeondernemings

Foto: polokwane.gov.za

Die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, het die bevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor beveel om te verseker dat beamptes onder sy beheer nie eienaars van sakeondernemings of hul werknemers wat tans wettig sake doen, teister, intimideer of in hegtenis neem nie.

Regter MG Phatudi het terselfdertyd die Polokwane-munisipaliteit en die munisipale bestuurder verbied om sogenaamde “tydelike bedryfslisensies” aan sakeondernemings uit te reik.

Die uitspraak volg nadat ʼn sakeman van Polokwane, Imraam Ally, en van sy werkers deur die polisie en munisipale amptenare sowel as verkeersbeamptes in hegtenis geneem is omdat Ally se ondernemings nie in besit van sodanige tydelike bedryfspermit van die munisipaliteit was nie.

Hulle moes glo eers lank in ʼn vangwa wag, waarna almal na die plaaslike polisiekantoor geneem is en saam met 20 ander persone in ʼn beknopte ruimte vir meer as ʼn uur aangehou is. Geen klag is teen hulle gelê nie en almal is later vrygelaat.

Ally en drie van sy maatskappye het gevolglik vroeër die week in ʼn dringende aansoek gevra dat die hof moet beslis dat ʼn tydelike bedryfslisensie nie nodig is nie en dat hulle toegelaat moet word om sake te doen.

Die minister van polisie, Bheki Cele, en die minister van kleinsake-ontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, was die ander respondente in die saak.

Volgens die hofstukke vereis die Polokwane-munisipaliteit tans sonder enige regsgronde of magtiging dat alle bestaande ondernemings wat volgens die huidige inperkingsregulasies wel sake mag doen, ook tydelike bedryfslisensies moet hê. Dit terwyl daar nie so ʼn vereiste in die gepubliseerde regulasies is nie en dus nie deur die munisipaliteit as ʼn vereiste gestel kan word nie.

Argieffoto

Ally sê in sy beëdigde verklaring dat die plaaslike polisie hom en ander sakemanne juis daaroor in hegtenis geneem het en ook verder geweier het om hul permitte te aanvaar wat deur ʼn bevoegde persoon uitgereik is.

Die regulasies wat tans van krag is, sê onder andere dat ’n persoon wat tydens die inperking ʼn spazawinkel of ʼn informele besigheid bedryf, dit reeds voor die rampmaatreëls wettig moes gedoen het met ʼn permit wat van die munisipaliteit verkry is. Dit bly van krag tot ʼn maand ná die ramptoestand beëindig is.

“Die enigste bykomende vereiste is nou dat goedere aflewer moet word,” aldus Ally se verklaring.

Een van sy ondernemings voorsien materiaal vir die vervaardiging van maskers, ʼn tweede verkoop gebottelde water wat ʼn noodsaaklike item is en die derde verskaf kosvoorraad, maar nie voorafvervaardigde maaltye nie. Alles word afgelewer.

Hy sê in sy verklaring die polisie en munisipale beamptes het hom egter nooit tydens sy inhegtenisneming gevra wat die aard van sy besigheid is nie en het daarop aangedring dat hy ʼn permit van die munisipaliteit moet hê, waarna hy in hegtenis geneem is.

Later, by die polisiekantoor, het hy sy prokureur, Arshad Chayya, gekontak wat met die munisipale amptenare probeer onderhandel het. Een van hulle het glo geëis dat die aangehoudenes ʼn afkoopboete betaal, anders sou hulle in aanhouding bly tot hul in die hof om borgtog kon aansoek doen. Almal het geweier om die boete te betaal en is uiteindelik deur die polisie vrygelaat nadat die amptenare vertrek het.

Die Polokwane-munisipaliteit het die volgende dag ʼn verklaring uitgereik wat behels dat kruidenierswinkels en groothandelaars, insluitende spazawinkels en informele handelaars, wat tydens inperking wil sake doen, steeds om tydelike bedryfspermitte kon aansoek doen. Dit omdat die tydperk vir sulke aansoeke verleng is.

Ally sê in sy verklaring die gevolg daarvan is dat ondernemings steeds deur die polisie getreiter word as hulle nie tydelike bedryfspermitte het nie. Hy en ander besigheidseienaars is dus in ʼn onmoontlike situasie, hoewel hulle ʼn duidelike reg het om sake te doen sonder om geïntimideer of onwettig in hegtenis geneem te word.

“Die optrede van die munisipaliteit en die polisie verhoed dat besighede oral in Polokwane oopmaak, hoewel hulle dit volgens die regulasies mag doen,” sê hy.

Regter Phatudi het beslis dat die besighede volgens die regulasies wat op 29 April afgekondig is, mag sake doen en dat geen tydelike bedryfspermit daarvoor nodig is nie.

Ally en 12 ander sakemanne beoog nou om ʼn siviele eis teen die respondente in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Swart ANC beheerde munisipaliteit teen ‘n Indiër sakeman. Dus slagoffer van apartheid teen ‘n ander slagoffer van apartheid. Vreemd…

Anel ·

Aan die een kant geniet ek dit si as hulle bloedneus kry. Net jammer dat dit ten koste van onskuldige mense moet geskied. Daar gaan soveel siviele eise wees dat die regering nie meer geld gaan hê vir kos vir die land se mense nie. STOP DIE MAGSMISBRUIK, LIG DIE GRENDELSTAAT sodat ons kan LEWE!!!

Misky ·

Welgedaan Mr. Ally, ons moet terugbaklei en nie net alles aanvaar en lê terwyl hulle ons vertrap en probeer afbreek nie.

Koos ·

Hierdie was ‘n poging vd amptenare om ‘n paar rand in die sak te sit.Gelukkig het die sakemanne nie daarvoor geval nie.

Wielspore ·

Maak soos die res van Afrika, as jy ‘n uniform dra maak jy jou eie reels, hef on the spot boetes uit wat direk aan die man in uniform betaalbaar is.

Adam Adriaan ·

Hoop die eise wat ingestel word teen die struikrowers sal slaag en hulle ‘n ordentlike les leer.

JohanR ·

Net weer ‘n bewys. Daar is nou net een ding om te doen teen die ANC in die tyd van Covid-19 en dit is om hof toe te gaan. Sal nie altyd wen nie, maar ‘n wen nou en dan teen die ANC is lekker.

pokkel ·

ek sien ‘n klomp mense lag lekker vir John Steenhuisen op Twitter oor hy die lockdown wil beeindig, kom ons hoop maar vir hul part hul het volgende jaar steeds rede om te lag, maklik om nou te sê die regering se harde lockdown het gewerk as mens na bevestigde infeksie getalle kyk, maar ons sal seker eers teen volgende jaar die groter prentie begin sien wat meer as infeksie getalle behels

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.