Afsondering: Ouers nader hof oor besoek aan siek dogter

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

ʼn Ouerpaar van Pretoria wat weens regulasies tydens die afsonderingstydperk nie hul siek dogter mag besoek nie, het in die Pretoriase hooggeregshof toestemming gekry om tussen provinsiale grense te reis. Hul dogter ly aan ʼn outo-immuunsiekte.

Die ouers en hul dogter het die ministers van onderskeidelik polisie, gesondheid en vervoer hof toe gesleep in die aansoek. Die ouerpaar woon in Gauteng en hul dogter woon alleen in die Wes-Kaap.

Die ouers het aangevoer dat die regulasies wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake afgekondig het – wat beweging tussen provinsies grootliks verbied – hul dogter in ʼn kwesbare posisie plaas.

Megan Pires, die ouers se regsverteenwoordiger, het gesê die feit dat die dogter aan ʼn outo-immuunsiekte ly, beteken dat sy ʼn groter kans het om Covid-19 op te doen as sy haar woonplek vir watter rede ook al sou moes verlaat.

“Net op dié grondslag het sy die hulp van haar ouers tydens die afsonderingstydperk nodig. Die dogter se dokter het die aansoek gesteun,” het Pires gesê.

Die 21 dae lange tydperk van algehele afsondering het om middernag op 26 Maart in werking getree en is nou tot die einde van April verleng. Dit is ingestel as ʼn manier om die verspreiding van die nuwe koronavirus te bekamp.

Regter Cassim Sardiwalla het die ouerpaar se aansoek Donderdag toegestaan.

“Die eerste en tweede applikant het toestemming om vir die duur van die afsonderingstydperk by hul dogter te woon. Die eerste en tweede applikant het toestemming om tydens die afsonderingstydperk na enige mediese fasiliteit te reis sou dit nodig wees om namens hul dogter mediese hulp te soek,” het Sardiwalla bevind.

Hy het die ministers ook beveel om die ouers se koste vir die aansoek te betaal.

“Ons kliënte is verlig en dankbaar dat hulle nou noodsaaklike sorg aan hul dogter kan gee op ʼn tyd wat sy dit baie nodig het. Dit is belangrik om kennis te neem dat die bevel net toestemming aan die aansoekers verleen en nie vir almal geld nie.

“Partye wat toestemming wil hê om iets te doen wat buite die bepalings van die regulasies is, moet die hof nader,” het Pires gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

I take my hat off for you, Cassim. At least one human in our courts.

Mieke ·

Dis so jammer dat daar nie ‘n bietjie menslikheid en buigbaarheid is teenoor sulke gevalle is nie.. Dit wil voorkom of baie van die polisie en weermaglede eenvoudig nie die vermoë het om hulle eie diskresie kan gebruik nie. -of nie weet hoe om regtig verantwoordelik te reageer en op te tree nie, maar eerder alle bevele slaafs sal navolg al maak dit in sekere gevalle geen sin nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.