Afsondering: Oupa ry ‘Tour de Lockdown’ vir siekes

Danie Janse van Rensburg gaan 3470 km in die 21 dae van afsondering aflê (Foto: Verskaf)

Danie Janse van Rensburg (63) van Vanderbijlpark in Gauteng beoog om die Tour de France se afstand van 3 470 km tydens die 21 dae van afsondering op sy oefenfiets af te lê. Dít alles ten bate van mense wat aan seldsame siektes ly.

Dié kranige fietsryer het besluit om hierdie tog aan te pak ter bewusmaking van Rare Diseases South Africa, ʼn niewinsgewende organisasie wat mense met seldsame siektes help en ondersteun.

Dié organisasie lê Janse van Rensburg na aan die hart omdat sy kleindogter, Lumé Vlok (5), gebore is met ʼn seldsame siekte. Haar 18de chromosoom is gedeeltelik gedupliseer. Dié chromosoomafwyking is so skaars dat daar nog nie ʼn naam daarvoor is nie omdat geen navorsing al daaroor gedoen is nie.

“Sy het ʼn baie lae spiertonus en sukkel met asemhaling. Sy sukkel ook met voeding en eet nog sagte kos. Sy het swak balans en kan steeds as gevolg van haar swak mondspiere nie praat nie. Ons weet nie eintlik presies wat die toekoms inhou nie, maar is net dankbaar vir ’n gelukkige kind,” vertel Shilene Vlok, Janse van Rensburg se skoondogter en Lumé se ma.

Die geld wat Janse van Rensburg insamel, gaan direk na Rare Diseases SA ten bate van kinders met seldsame siektes en spesifiek ook Lumé. Hy het tot dusver R5 000 ingesamel.

Janse van Rensburg en sy kleindogter Lumé Vlok wat aan ‘n seldsame siekte ly (Foto: Verskaf)

Janse van Rensburg het sy “Tour de Lockdown”, soos hy dit noem, op sy oefenfiets in sy huis op die eerste dag van afsondering (26 Maart) afgeskop en sal die eindstreep op die laaste dag van afsondering (16 April) oorsteek.

Ná 12 dae het hy reeds 1 784 km afgelê, wat meer as die helfte van die algehele afstand is.

Janse van Rensburg probeer om daagliks verskillende afstande van tussen 160 km en 250 km af te lê. Hy probeer om elke uur ʼn vinnige breuk te neem en te strek. “Ek begin soggens 03:00 en probeer om so 12:00 klaar te maak. Die res van die dag verrig ek huistakies in en rondom die huis, soos dit enige goeie man van die huis betaam,” vertel hy.

Janse van Rensburg ry sedert 2016 jaarliks die 94.7-fietsmaraton ten bate van Rare Diseases SA (Foto: Verskaf)

Janse van Rensburg probeer om gemotiveerd te bly, al is daar oggende dat hy wil handdoek ingooi. “Ek luister musiek terwyl ek op die fiets is en bid elke oggend en vra dat God my krag gee. Ek sit ook elke oggend ʼn woord van bemoediging op my Facebook-blad en hoop dat dit iemand se hart sal aanraak.”

Hy het Maandag potte vol plante rondom die oefenfiets gepak om te voel asof hy in die natuur ry.

“Party dae is moeiliker as ander. Party oggende staan ek op en dan wil die ou bene nie saamwerk nie. Op moeilike dae herinner ek myself waarom ek dit doen; vir Lumé en almal met seldsame siektes wat elke dag van hul lewe moet ly,” sê Janse van Rensburg.

Janse van Rensburg ry sedert 2016 jaarliks die 94.7-fietsmaraton ten bate van Rare Diseases SA. Hy beoog om vanjaar 100 mense te werf wat dié maraton saam met hom sal aanpak ter bewusmaking van die onbaatsugtige werk wat dié organisasie doen.

Janse van Rensburg het potte vol plante rondom die oefenfiets gepak om te voel asof hy in die natuur ry (Foto: Verskaf)

In 2018 het ʼn koedoe voor Janse van Rensburg se fiets ingehardloop toe hy by Suikerbosrand-wildreservaat gaan oefen het. Hy het al twee sy handgewrigte en regterknie gebreek en was vir drie maande in ʼn rolstoel.

“ʼn Mens aanvaar jou alledaagse bestaan as normaal en besef nie eintlik hoe bevoorreg jy is om gesond te kan wees nie. Ek het ses maande ná die ongeluk weer op my fiets geklim met meer vasberadenheid en dankbaarheid as tevore,” vertel Janse van Rensburg.

Mense kan geld skenk vir elke kilometer wat Janse van Rensburg voltooi. Skenkings kan hier gemaak word.

Volg ook Janse van Rensburg se Tour de Lockdown-tog op sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Ruben

Ek het gister 30 sit ups gedoen by die huis