Afsondering: Pa en dogter wat kamp ‘verdwyn’

Argief (Foto: Pixabay)

ʼn Pa en dogter wat tydens die landwye afsondering in ’n afgeleë gebied in Wildernis in die Wes-Kaap gaan kamp het, is Dinsdagmiddag as vermis aangemeld.

Garth Dominy, bevelvoerder van die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die NSRI het Dinsdagaand omstreeks 19:00 langs die Silwerrivier in Wildernis ʼn soektog begin om die pa (34) en dogter (11) op te spoor.

Die pa en dogter het glo besluit om te gaan kamp tot die afsonderingstydperk opgehef word.

Die man se suster het die NSRI verwittig dat haar broer en sy dogter net voor die instel van die afsondering gaan kamp het, maar intussen soos mis voor die son verdwyn het. Sy het hulle verlede week Donderdag by die beginpunt van ʼn staproete gaan aflaai, waar hulle vort is om ʼn geleë plek te vind om kamp op te slaan.

“Die man het blykbaar sy suster Dinsdagmiddag gebel om te sê dat hulle rantsoene begin min raak. Voor die einde van die oproep, het die sein opgebreek. Daar was toe geen verdere kontak tussen hulle nie. Die suster het begin bekommerd raak omdat sy niks van hulle hoor nie,” vertel Dominy.

Die man se broer is intussen ook van die situasie in kennis gestel. Hy kon ’n beter aanduiding gee van waar die presiese ligging van die kampeerterrein is.

Die NSRI het die inligting aan die Wes-Kaapse nooddienste en die Wildernis-soek-en‑reddingspan (WSAR) deurgegee en ʼn soektog is van stapel gestuur. Die plaaslike polisie is ook van die saak verwittig.

Dominy sê die aanvanklik soektog het Dinsdagaand tot 23:00 geduur, waar dit toe eers gestaak is weens die digte plantegroei in die gebied wat dit onveilig gemaak het om snags voort te gaan met die soektog.

“Dit het gedurende die nag onder ons aandag gekom dat die pa en dogter hul hond en kat saam met hulle by die kampeerterrein gehad het,” vertel Dominy.

Bemanningslede van die NSRI Wilderness, noodreddingswerkers en lede van WSAR het die soektog Woensdagoggend voortgesit. George se brand- en reddingsdiens is ook Woensdagoggend ontbied.

“Ons het die oggend toestemming gekry om deur private grond te stap om by ’n afgeleë en digte bosgebied uit te kom, waar die kampeerterrein moontlik geleë was.”

Die soekspan het toe die pa en dogter in hul kampeerterrein gevind. Hulle was ongedeerd en uit die veld geslaan dat ʼn hele soekspan op hul spoor was.

“Hulle het heeltyd om verskoning gevra dat almal verniet op hol gejaag was. Hulle was ook dankbaar dat die familie wel so besorgd was oor hulle,” vertel Dominy.

Dominy sê toe die soekspan hulle gevind het, was hulle besig om op te pak om terug te keer huis toe. Die soekspan het gehelp om die kampeerterrein vinnig op te ruim. Hulle is toe saam met die man se suster huis toe.

“Die storie het darem ʼn gelukkige einde gehad. Selfs die hond en kat is ongedeerd en veilig by die huis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Wat sê jy van daai ene! Gelukkig is hulle veilig . ‘n Mooi storie:-)))

Blikkantien ·

Ek sou graag hulle rantsoene wou sien. Bly hulle is almal veilig.

Sarel ·

Verhaal met Positiewe einde en baie dankbaar. Die Pa & dogter moet besondere verhouding hê. Die Kommentaar is egter teleurstellend. Was die verhaal nie so piditief nie dan sou dasr beslis meer kommentare gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.