Afsondering: Polisie nie opgewasse vir dié taak – kenners

Skare plunder goederetrok in Bishop Lavis. (Foto: Verskaf)

Kenners betwyfel die bevoegdheid en kapasiteit van die polisie om afsonderingsmaatrëels behoorlik toe te pas.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moes reeds bontstaan met die plundering van verskeie winkels, die roof van nagenoeg 16 drankwinkels en massa-optogte deur desperate inwoners in informele nedersettings. Maandag is vier goederetrokke in afsonderlike voorvalle op Robert Sobukwe-weg in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte deur inwoners met klippe bestook en geplunder. Vier verdagtes is in hegtenis geneem.

Verskeie klagtes van polisiebrutaliteit is boonop sedert die begin van die tydperk van algehele afsondering by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld. Hiervan word vier klagtes van moord en ses gevalle van aanranding ondersoek. Verskeie ongevraagde uitlatings deur Bheki Cele, minister van polisie, het die wenkbroue laat lig en vrae laat onstaan of die SAPD toegerus is om die land teen Covid-19 te help beskerm deur regulasies behoorlik af te dwing.

ʼn Betroubare bron het kort ná die eerste insidente van plundering in die Wes-Kaap vertroulik aan Maroela Media gesê dat die polisie gewaarsku is teen opstande en plundertogte, maar dat daar nie planne beraam is om effektief daarteen op te tree nie.

Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus asook lid van die portefeuljekomitee van polisie in die parlement, meen die Covid-19-krisis het ʼn tweede krisis ontbloot; die onbevoegdheid van die ANC-regering.

Jongste plundering voorval in Bishop Lavis. (Foto: Verskaf)

Groenewald sê hy het op 18 Maart, tydens ʼn vergadering met pres. Cyril Ramaphosa en politieke leiers in die parlement, Ramaphosa daarop gewys dat die polisie, asook die weermag (SANW), nie vir die nasionale ramp voorbereid is nie.

“Die houding waarmee die polisie die regulasies probeer handhaaf is totaal verkeerd. Die minister van polisie, Bheki Cele, dink hy kan ʼn polisiestaat afdwing in Suid-Afrika. Die regulasies wat afgekondig word deur ministers, en die interpretasie daarvan deur die polisie is ook in baie gevalle teenstrydig met mekaar”.

Groenewald verwys na ʼn insident Sondag nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die reisverbod op kinders verslap het.

’n Gautengse man, glo op pad na Klerksdorp om sy kind te gaan oplaai, is deur polisie in Noordwes voorgekeer. Die man het sy kind se geboortesertifikaat gewys waarna hy toegelaat is om weer te ry. In Gauteng het die polisie die man egter afgetrek en byna toegesluit. Op grond van ʼn video wat aan die polisie gewys is oor die minister wat die regulasie verduidelik, kon die man sy reis voortsit.

“Dit is onbevoegdheid. Die polisie maak hulle eie reëls. Met so ʼn ramptoestand en inperking het ʼn mens spesifieke opleiding nodig oor hoe om die publiek te hanteer.”

Groenewald wys met kommer daarop dat die polisie ná 1994 sy opleiding vir skarebeheer tot niet laat gaan het en eers weer in 2007 aandag hieraan geskenk het.

“Maar dit is beperkte opleiding. Net sowat 4 000 lede is in skarebeheer opgelei, met die gevolg dat die polisie totaal onvoorbereid is.”

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), skryf in ʼn onlangse artikel dat uitdagings vir wetstoepassers tydens die tydperk van afsondering onvermydelik is, aangesien daar beperkte tyd vir beplanning, organisering en opleiding van polisiëring in Suid-Afrika was. Burger meen met net nagenoeg 150 000 SAPD-lede beskikbaar is dit te verwagte dat daar probleme sal opduik wanneer hulle buiten hul normale verpligtinge moet seker maak 60 miljoen landsburgers gehoorsaam die wet. “Boonop is sommige aspekte van die regulasies wat toegepas moet word, onduidelik,” skryf Burger.

(Skermgreep: Twitter)

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê egter polisie-eenhede is opgelei om spesifieke situasies en omstandighede te hanteer. “Ons het die vermoë en kapasiteit om tydens Covid-19 teen plundertogte op te tree, en ons het al daarteen opgetree.”

Naidoo sê Cogta, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, se nasionale rampbestuursplan word gevolg. In hierdie plan word die polisie se optrede tydens die staat van inperking uiteengesit. Volgens Naidoo is plundering ʼn verskynsel wat buite die inperkingstyd ook plaasvind en het die polisie eenhede om daarop te reageer. Volgens Naidoo het die polisie vinnig gereageer op insidente waar plundering plaasgevind het en is verdagtes vasgetrek.

Of die SAPD addisionele planne het om plundering en opstande in gemeenskappe te help beveg kon Naidoo nie bevestig nie. Hy sê “daar is verskillende kategorieë van polisiëring. Vir Covid-19 het ons ʼn benadering van hoë sigbaarheid en -densiteit om te verseker mense slaan ag op regulasies. Ons het taktiese reaksiespanne en nasionale ingrypingseenhede.”

Brig. Mathapelo Peters, waarnemende woordvoerder vir die minister van polisie, het by navraag oor die SAPD se plan van aksie gesê die polisie tree slegs op volgens die rampbestuurplan, soos uiteengesit deur Cogta.

Die polisieminister kon nie bereik word vir kommentaar oor die kwessie of sy kantoor vooraf gewaarsku is teen die huidige plundering en opstande nie.

Naidoo meen daar sal nie nóg plundering en betogings plaasvind nie, omdat die publiek volgens hom nou bewus is van die polisie se reaksietyd en reaksievermoë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Genis ·

Die SAPD is oor die algemeen onbevoeg, moeswillig en onbeskof… Hulle het n houding van ‘you can wait for me”. Dis pateties, maar ja, n vis vrot van sy kop af…

Rodger17 ·

As die polisie hulle ophou toespits op die versameling van drank en sigarette sal hul ander goed onder beheer kry!Cele ek dink julle drankversameling is nou volledig,try nou bietjie misdaad bekamp en hou op deel wees daarvan!

Anoniem ·

As hulle nou so goed opgelei is soos wat die agbare brigadier Naidoo se hoekom net 4 inhegtenis geneem. Daar is seker n honderd by daai trok en hulle neem 4 inhegtenis. Jammer brigadier maar dit klink vir my nie of julle opgewasse is nie.

Nie Verbaas ·

Brig. Naidoo, as die polisie effektief was het die plundering nie eers plaasgevind nie. Effektief is ook nie om net vier van talle plunderaars in hegtenis te neem soos in sommige gevalle nie. As polisie effektief was sou mense nie buite gewees het wat skole verwoes het nie. Erken maar, ANC het weereens gefaal.

Peet ·

Ons moet maar net aanvaar dat polisie beteken eintlik die polisie is nie en klaar.

Jan ·

As jy n Sap lid wil wees moet jy oorgewig wees . Jy moet iemand ken wat kan lees. As jy rang wil he moet jy iemand ken wat kan lees en skryf. As jy n groot kop wil wees moet jy iemand ken wat kan lees ,skryf en engels kan praat. Want meeste van die tyd kan hulle nie die wet lees of toepas nie . Lyk asof daardie persoon nou afwesisig is

Michael 1 ·

Die publiek vertrou nie die polisie nie en die hoofrede is hulle onbevoegdheid om hulle werk te doen.

Fedup ·

Oh please, the police have been incompetent and corrupt for the past 20 years. What makes you think they can handle a lockdown? They themselves cannot even understand or follow rules and regulations themselves. Did not get the memo. And don’t get me started on the army. Exactly the same, if not worse.

Scalla ·

Selfs die ministers praat nie uit een mond uit nie en implimenteer dit verskillend, kyk bv na ons permit stelsel vir boerdery bedrywighede, een se so en more weer anders, verstaan hulle ooit waaroor dit gaan.

Gerhard ·

Naidoo, bly eerder stil…julle was nog nooit in beheer van enige situasie nie. Wie dink jy gaan jou glo dat dat nie nog plunderings en betogings gaan plaasvind nie ?? Hierdie was maar net die begin…watch this space…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.