Afsondering: R40 miljard se WVF-eise reeds uitbetaal, maar …

(Foto: Maroela Media)

Terwyl die regering spog met die R40 miljard wat hy reeds uitbetaal het in tydelike verligting aan werkers wat deur die afsonderingstydperk geraak word, sit duisende mense hande in die hare oor agterstallige betalings.

Volgens die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, is meer as 9 miljoen van die sogenaamde TERS-uitbetalings deur amper 780 000 maatskappye wat eise namens hulle ingedien het, aan werkers uitbetaal.

“[Donderdag] het ons daardie towersyfer bereik waartoe ons verbind was om die lewe van werkers in die land makliker te maak deur harde kontant in die ekonomie in te pomp deur uitbetalings aan diegene wat bydraes lewer,” het Nxesi gesê.

“Ons het ons tot R40 miljard verbind en ek is gelukkig om te kan sê ons het ons belofte gestand gedoen.”

Nxesi het gesê die departement werk ook om te verseker alle geldige uitstaande eise word betaal sodra al die nodige inligting daarvoor ontvang is.

Uitbetalings sluit R1,5 miljard in wat betaal is aan buitelanders met werkspermitte wat weens die afsonderingstydperk hul gereelde inkomste kwyt is. Meer as R200 miljoen is aan huiswerkers betaal.

Die proses verloop egter allermins glad.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, sê die TERS-skema loop Saterdag ten einde, maar Julie-aansoeke het nog nie eens geopen nie.

Volgens Nxesi sal die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) Maandag begin om eise vir Julie en Augustus te verwerk, terwyl uitstaande betalings vir April, Mei en Junie “spoedig afgehandel” gaan word.

Cardo sê wat selfs groter kommer wek, is die feit dat betalings vir April en Mei oënskynlik opgedroog het en betalings vir Junie net drupsgewys gedoen word.

Volgens ʼn opname van die nasionale werkgewersvereniging (Neasa) het 12% van werkgewers teen Donderdag steeds nie hul TERS-uitbetalings vir April ontvang nie. Uit die 88% wat dit wél gekry het, het net 66% die bedrag waarvoor hulle ʼn eis ingedien het, ontvang.

Die syfer vir Mei lyk nie juis beter nie. Altesaam 20% van werkgewers het volgens die Neasa-opname nog nie TERS-uitbetalings vir Mei gekry nie en net 63% van diegene wat reeds betaal is, se eise is ten volle betaal.

Die situasie versleg selfs verder vir Junie-uitbetalings. Tot 37% van werkgewers het steeds nie betalings ontvang nie. Uit die 63% wat wel betaal is, is 66% se eise nie ten volle betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Dit terwyl elke minister, die president en al die regerings amptenary hul vol salarisse getrek het! Hoe lekker om te spog oor die MILJOENE rande se hulp, maar dit vergelyk nie met ‘n werk en gewone salaris nie! God slaap nie… Hy kan nie, en hy verhoor nog gebede in AFRIKAANS!

Nie Verbaas ·

Behalwe vir regering se ou mensies wat vol betaal word om niks te doen nie so ek weet nie waaroor spog die onbeholpe persoon nie want almal is nog in elk geval nie betaal nie.

Pieter ·

En so word ons belasting geld uit gedeel vir our people en hulle dink hulle ANC regering gee dit vir hulle die land is n grap

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.