Afsondering: Sakelui kan hier onvanpaste optrede van wetstoepassers aanmeld

(Argieffoto)

Die organisasie Sakeliga sê hy berei voor vir regstappe om die permitstelsel wat tydens die staat van landwye afsondering vir sakeondernemings geld, te laat afskaf of versag. Hy sê die doel daarmee is om mense se reg om te werk en sake te doen te herstel wanneer die regering of wetstoepassers dit deur onregmatige permitte en papierwerk belemmer, of selfs mense in hegtenis neem.

Sakeliga sê hy nooi ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk om gevalle van permit- en papierwerkverwante obstruksie deur wetstoepassers by hom aan te meld. Die voorvalle moes tussen 11 en 15 Mei 2020 plaasgevind het en moet verband hou met permitte wat nie deur ʼn hof uitgereik is nie. Dit sluit in CIPC-sertifikate, munisipale permitte, permitte om oor munisipale of provinsiale grense te reis, permitte vir informele handelaars en permitte om koshulp te versprei.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hul regspan wil van die ernstigste gevalle by die saak insluit. “Ondersteunende verklarings kan ons saak versterk en ons versoek graag die publiek se bystand.”

CIPC-sertifikaat

Sakeliga sê hoewel daar só ʼn indruk geskep is – deur die regering en in polisie-optrede – is daar geen vereiste vir organisasies om in besit van ʼn CIPC-sertifikaat te wees nie. Die organisasie sê hy is deur senior advokate geadviseer dat wetstoepassers geen reg het om die aktiwiteite van ʼn organisasie vanweë die beskikbaarheid of nie van ʼn CIPC-sertifikaat te beperk nie.

“Om ʼn CIPC-sertifikaat te bekom is vir die meeste ondernemings onmoontlik, maar selfs met die sertifikaat het hulle weinig beskerming teen vervolging. Ons versoek in besonder ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk om voorvalle waar wetstoepassers van hulle vereis het om CIPC-sertifikate te toon of waar hulle met verwysing na die afwesigheid of nie van CIPC-sertifikate belemmer is, aan ons te rapporteer,” het Le Roux gesê.

Niemand kan byhou

Sakeliga sê hy het die afgelope ruk gesien hoe die regering ʼn nuwe, arbitrêre en ondeursigtige regulatoriese raamwerk opstel. “Ingevolge dié nuwe stelsel is basies alles wat nie uitdruklik deur die regering toegelaat word nie – en op een of ander wyse met ʼn permit bestempel nie – verbode. Die regulasies sentraliseer alle mag in die hande van die uitvoerende gesag, met die regering en wetstoepassers wat eensydig as regter, wetmaker en toepasser optree.”

Le Roux sê dit is bykans onmoontlik vir gewone mense om op die hoogte van die voorskrifte te bly.

“Dit is noodsaaklik dat ons, terwyl die herinnering aan merendeels regmatige en konstitusionele optrede deur die regering nog lewend is, die howe met ʼn versoek om regshulp teen die permitstelsel en die sentralisering van mag in die uitvoerende deel van die staat nader.”

Regstappe

Sakeliga sê sy plan is om kernbelangrike onregmatige en skadelike regulasies of ingrypings te teiken sodat vryheid geskep kan word om te werk en handel te dryf.

“Ons litigasiespan beweeg so vinnig as wat hulle kan, wetende dat ons met ʼn regering werk wat sy regulasies in die hardloop aanpas om by sy onaanvaarbare optrede te pas, in stede daarvan om sy gedrag aan te pas na vereistes van regmatigheid, redelikheid en konstitusionalisme. Die regering se regulatoriese knip-en-plakkery bemoeilik die poging, maar ons het deurlopend vordering gemaak en versoek nou die publiek om gevallestudies by te dra.”

Le Roux sê die regering het tot dusver nie geantwoord op briewe of instellings oor die regulasies geraadpleeg nie. “Die regering is klaarblyklik nie tot reaksie in staat nie. Selfs voormalige sleutel-ANC-ministers soos Trevor Manuel spreek hulself nou in die openbaar teen die regulasies uit.”

Daar is in dié stadium verskeie hofsake teen die regering oor spesifieke afsonderingsbepalings.

Le Roux sê hoewel regstappe belangrik is, die verandering aan amptelike regulasies net een deel van ʼn plan is om die konstitusionele orde en openbare welstand in die land te herstel.

“Die tweede – en meer belangrike – deel is vir gemeenskappe, ondernemings, individue en selfs provinsies en plaaslike munisipaliteite om op vindingryke wyses hul lewens te hervat en hul ekonomieë oop te stel. Dit vereis dat hulle hul blootstelling aan die nou bekende risiko’s van staatsverval en regulatoriese vergrype beperk. Die uitvoer hiervan is in persoonlike sowel as openbare belang, ongeag Covid-19 en bly onmisbaar vir die welstand van alle gemeenskappe in Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Die land bly maar net n sirkus.Die ANC dink suid afrika is china

Trotse Boervrou ·

In watter land in die hele wêreld moet die bevolking hulself teen die wetstoepassers beskerm ten tye van hierdie inperking? Dit begin nou ‘n algemene verskynsel raak in Suid-Afrika. Gaan die inperking nie juis om lewens te beskerm nie? Nou moet die bevolking hul teen die vergrype van die Gereg beskerm en in vrees leef. Ek praat nie eens van die korruptes onder hierdie selfde Wetstoepassers nie. Die Regering dink tog seker nie dat die situasie nie kookpunt gaan bereik nie. Hierdie magsvertoon en korrupsie onder sekeres van hulle is ‘n groter probleem as die virus self. Is die Regering nie in staat om hulle te beheer nie? Moet asb nie reageer op my vraag nie, ek ken die antwoord.
Dankie aan die jarelange, getroue Wetstoepassers. Ons verstaan jul frustrasie. Jammer dat sommige van jul kollegas jul so in die skande steek en jul met rooi gesigte laat rondloop. Ons is werklik jammer vir julle maar waardeer jul absolute lojaliteit teenoor die publiek.

Anel ·

Nou wonder ek wst sal gebeur as ons almal net môre opstaan en normaalweg begin aangaan met ons lewens. Almal gaan terug werk toe en skool toe en universiteit toe en winkel toe. Gaan hulle die hele bevolking toesluit? Hierdie regering het nie beheer oor hom self nie. Hoe wil hy ‘n land regeer! Wel, na dese gaan daar niks meer oor wees om te regeer nie. Dan gaan die Chines en Kubane seker maar kom probeer oorvat. Daar moet op getree word en nie wanneer nie, NOU!!!!!

Robert ·

Daar het mos onlangs so opstand in die VSA gebeur in een van die deelstate… die goeverneur moes vinnig haar deuntjie verander die die mense opdaag met hul bakkies en vuurwapens.

Oom Hennie Pennie ·

Dit is kommerwekkend dat daar nie hofsake is van ander en opposisie partye nie.

Pietie ·

Ek sou sê stel als oop elkeen moet sy masker en handskoene dra afstand hou. As jy nie wil dra die gevolge. Ek het ookal daaraan gedink wat as mense besluit bogger die besigheid en samelewing gaan voort soos gewoonlik. Die maak mens sielkundig siek.

Boortor ·

Voor julle al die dinge doen onthou tog net om n permit te kry wat jou toelaat om n permit te kry, anders gaan jy niks regkry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.