Afsondering: SAL help buitelandse burgers terugneem

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het onderneem om buitelanders wat steeds in die land vasgekeer sit, na hul tuislande te repatrieer. Talle buitelanders se planne om terug te keer na hul tuislande is gekelder weens die instel van die algehele landwye afsondering op 26 Maart.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur SAL se sakereddingspraktisyns gaan die repatriasie van Duitse burgers eerste geskied. Dié burgers sal na verwagting Vrydag van Johannesburg na München asook van Kaapstad na Frankfurt reis.

Verteenwoordigers van verskeie buitelandse regerings het met SAL se sakereddingspraktisyns vergader om dit te oorweeg om hul burgers na hul onderskeie tuislande terug te neem. Dié besluit moes egter eers deur die Suid-Afrikaanse regering goedgekeur word, aangesien streng reisbeperkings deur die departement van vervoer ingestel is.

Ná samesprekings met verskillende ambassades en in oorleg met die betrokke regeringsdepartemente, het die SAL ooreengekom om vlugte vir repatriasie aan verskillende internasionale bestemmings te lewer.

SAL se sakereddingspraktisyns én die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het aan Maroela Media bevestig onderhandelinge met ander lande se regerings is tans aan die gang oor die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, wat steeds in ander lande gestrand sit.

SAL het onderneem om onderhewig te wees aan alle gesondheids- en veiligheidsbepalings wat ten tyde van die afsondering geld. Geen passasiers wat positief vir Covid-19 getoets het of griepsimptome toon, sal dus op die vlug toegelaat word nie. Alle passasiers sal voor die vlug eers getoets word.

“SAL is in hierdie moeilike tyd daartoe verbind om met al sy vennote en belanghebbendes saam te werk in die stryd om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Daarom sal die lugredery sorg dat die passasiers veilig en gesond hul bestemmings bereik. Ons bedank ook alle SAL-werknemers wat dié taak behartig,” het SAL se sakereddingspraktisyns gesê.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cecil ·

Ek wonder wie betaal vir die repatriasie. SAL het nie die fondse nie. Daar moet verseker gekyk word na n terug vrag. Baie SA burgers is oorsee gestrand vernaam London.

JC Venter ·

Die kaders wurg die geld uit die onderdane wat belasting betaal.

marius ·

Waarom nie net die ander lande toelaat om met hul eie vliegtuie hier te land , hul mense oplaai en terug vlieg nie ?

koos10 ·

IOL het berig dat die Duitse Owerheid die koste sal dra vir sy burgers.
Net so sal SA die kostes vir sy burgers moet dra.
Dalk sal hulle dit so uitwerk dat elke land net die kostes van 1 vlug en nie retoer sal dra nie. (SAL na Duitsland om Duitsers af te laai en dan na Engeland om SA burgers op te laai en dan terug na JHB.)

Stefan ·

Hierdie trippie het ons 10000 SAL werknemers se aansienlike maandelikse salarisse gekos, waarskynlik so R500 miljoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.