Afsondering: Só gaan vlak 3 werk

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die nasionale bevelsraad het Donderdag gesê vlak 3 van die afsonderingstydperk is die grootste heropening van die ekonomie nóg sedert die algehele landwye afsondering 63 dae gelede ingestel is. Sowat 8 miljoen mense in Suid-Afrika sal na verwagting op 1 Junie terugkeer werk toe wanneer dié vlak ingestel word.

Brandpunte sal wel gemonitor word en die minister van gesondheid is gemagtig om strenger maatreëls by brandpunte in te stel indien nodig.

Die metrogebiede wat reeds tot brandpunte verklaar is, is Tshwane, Johannesburg, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Kaapstad.

Ander gebiede is die Weskus-, Overberg- en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap, Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap en iLembe-distrik in KwaZulu-Natal. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het Donderdagmiddag meer duidelikheid verskaf oor die nuwe maatreëls wat gedurende vlak 3 sal geld.

Die werksplek

Ebrahim Patel. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Suid-Afrikaners sal vanaf 1 Junie toegelaat word om terug te keer werk toe mits die nodige veiligheidsmaatreëls by die betrokke werksplek ingestel word. Dit sluit in ’n Covid-19-veiligheidsplan en die aanwys van ’n beampte wat leiding onder werknemers sal neem om te verseker daar word aan die nodige maatreëls voldoen.

Volgens Dlamini-Zuma word Suid-Afrikaners ouer as 60 jaar, asook diegene met bestaande mediese toestande, egter versoek om van die huis af te werk. Diegene wat in dié stadium van die huis af kan werk, word ook versoek om dit te doen.

Goeie handhigiëne asook ’n gesonde sosiale afstand van 1,5 m tussen werknemers moet ten alle tye by ’n werksplek gehandhaaf word, het Dlamini-Zuma gesê.

Die volgende sektore maak oop

Volgens Patel sal die meerderheid sektore gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk op volle kapasiteit bedryf word. Dit sluit in myne, staalaanlegte, chemiese aanlegte asook die kleinhandelsektor.

(Foto: pixabay)

Dit beteken dat alle winkels onder vlak 3 toegelaat sal word om oop te maak. Die verkoop van produkte word nou weer toegelaat. Dit sluit in enigiets van klere tot meubels.

Restaurante, sjebiens, tavernes, kroeë, fliekteaters en casino’s bly egter gedurende vlak 3 gesluit. Restaurante word wel toegelaat om wegneemetes te bedien. Die etes kan afgelewer word of deur klante by die betrokke restaurant afgehaal word. Haar- en skoonheidsalonne bly ook steeds gesluit, maar die regering het beloof om besondere aandag aan dié kwessie te gee ten einde ’n oplossing hiervoor te vind. Die nuwe regulasies maak geen melding van huishulpe en tuindiensverskaffers nie, maar Patel het aangedui dat dié werkers wel mag terugkeer mits daar aan streng regulasies voldoen word. Die besonderhede hier rondom sal na verwagting binne die volgende paar dae bekendgemaak word.

Koop en verkoop van alkohol, tabak

(Foto: pixabay)

Dlamini-Zuma het gesê alkohol sal voortaan vanaf Maandae tot Donderdae tussen 09:00 en 17:00 verkoop word. Alkohol mag egter nie in die openbaar of op die perseel waar dit verkoop word, gedrink word nie.

Die koop en verkoop van tabakprodukte bly egter verbode gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk. Die uitvoer van tabakprodukte word wel toegelaat.

Reis tussen provinsies

Die reis tussen provinsies bly verbode vir mense wat nie oor ’n geldige permit beskik nie. Permitte sal slegs aan diegene uitgereik word wat ’n noodsaaklike diens lewer, asook aan diegene wat tussen provinsies moet reis om te trek, mediese behandeling te kry, ’n begrafnis by te woon of vir werksdoeleindes.

Leerders wat in verskillende provinsies woon en skoolgaan, sal ook gedurende vlak 3 toegelaat word om tussen provinsies te reis.

Die land se grense bly gesluit hoewel die minister van binnelandse sake vergunnings sal maak vir mense wat gerepatrieer word, asook diegene wat oor landsgrense moet reis vir humanitêre werk. Mense wat tans in die buiteland woon en moet terugkeer na Suid-Afrika om te werk, sal toegelaat word om die land binne te kom.

Die in- en uitvoer van produkte word toegelaat.

’n Datum sal later bekend gemaak word oor wanneer plaaslike vlugte hervat sal word.

Skole

Skole begin op 1 Junie met die stelselmatige infasering van grade. Leerders in gr. 7 en gr. 12 word eerste toegelaat om skool toe te gaan. Daar is nog geen besluit oor die heropening van kleuterskole en dagsorgsentrums geneem nie.

Kerke

Karoo_kerk_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kerke en plekke van aanbidding sal toegelaat word om hul dienste te hervat hoewel dit onder streng maatreëls sal geskied.

Reëlings rakende begrafnisse bly dieselfde.

Oefentye, aandklokreël

Die oefentye word gedurende vlak 3 verleng. Suid-Afrikaners sal vanaf 1 Junie toegelaat word om soggens vanaf 06:00 tot 18:00 saans te oefen. Die dra van ’n masker en die handhawing van sosiale afstand is egter verpligtend.

Oefening in georganiseerde groepe word nie toegelaat nie. Gimnasiums bly gesluit. Mense wat professionele sport beoefen, kan voortgaan, mits sosiale afstand behou word en geen toeskouers teenwoordig is nie.

Die aandklokreël sal ook nie meer gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk geld nie.

Die dra van maskers

Die dra van maskers in die openbaar bly verpligtend. Dit sluit in winkels, openbare vervoer en die werksplek.

Akkommodasie

Alle akkommodasiegeriewe soos gastehuise en hotelle sal gesluit bly vir ontspanningsdoeleindes. Diegene wat vir werk reis, sal wel toegelaat word om by ’n gastehuis of hotel oor te bly.

Dit geld ook vir toeriste wat tans in isolasie of kwarantyn is en nie na hul tuisland kan terugkeer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
PieterP

Ai foeitog julle self morsdood gedink. Hoop dat die verbod van vervoer van alkohol ook opgehef is

Michael 1

Ek dink jou huishulp en kinders wat terug gaan skool toe gaan die grootste probleem wees met die verspreiding van die virus ,as die mense net hulle luiheid wil laat staan en self hulle huis skoonmaak behoort dit goed te gaan.

marius

Myne op vol kapasiteit met 1.5 m sosiale distansiering ? Uitvoer van tabak word toegelaat ? Dit is mos duidelik dat die een vet bedrogspul is !

Schalk

En daai paar versimpelde reels het vir Dr. Zol vier dae gevat om uit te dink……

Louise

Wil net weet hoekom mag mens nie op die strand gaan stap nie