Afsondering: Só lyk universiteite se planne vir nuwe kwartaal

(Argieffoto)

Universiteite skop vandeesweek vir die tweede kwartaal af. Hoewel studente weens die staat van algehele afsondering steeds nie klasse kan bywoon nie, gaan die meeste universiteite op tegnologie staatmaak om onderrig voort te sit.

Van die universiteite stel inhoud beskikbaar op webtuistes wat geen data benodig nie en deel skootrekenaars aan minder bevoorregte studente uit. Sommige universiteite gaan studente egter steeds die geleentheid gee om die jaar te herhaal.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) sê die algehele afsonderingstydperk wat weens die Covid-19-pandemie in werking gestel is, is ʼn “ongekende stap” en een wat hom gedwing het om na aanlyn lesings oor te skakel. Die universiteit sê hy is bewus van die uitdagings, ongelykheid tot toegang, asook die angs en onsekerheid wat dié soort onderrig veroorsaak.

UJ het Maandag na aanlyn klasse oorgeskakel en sê hy is daartoe verbind om te verseker dat al sy studente toegang tot die nodige toerusting en data het. Die universiteit verskaf reeds 30 GB‑data aan elke student, het 1 750 skootrekenaars aan NSFAS-studente verskaf en het nóg 4 000 beskikbaar om aan studente beskikbaar te stel.

Herman Esterhuizen, UJ-woordvoerder, sê die universiteit is ook in gesprek met dataverskaffers om selfs meer data aan studente beskikbaar te stel.

“Ons besef sommige van ons studente bevind hulle in omstandighede wat nie leer bevorder nie. Vir die volgende twee weke gaan daar geen formele assesserings of take wees nie,” sê hy.

Die Universiteit van die Vrystaat sê hy begin ook Maandag met aanlyn lesings en sal dié manier van onderrig gebruik om die res van die eerste semester af te handel.

Volgens prof. Francis Petersen, rektor van dié universiteit, is die UV bewus van die probleme wat sommige studente kan ondervind om aanlyn klasse te volg en dat studente en dosente nuwe metodes vir leer en onderrig onder die knie moet kry.

Die universiteit sal ʼn oorgangstydperk gebruik om vas te stel watter verbindingsprobleme ondervind word, wie toegang tot die nodige tegnologie het en hoe om hierdie uitdagings te oorkom.

selfoon-selfoondata-slimfoon

(Foto: Pexels.com)

Studente sal ook 30 GB‑data kry en studiemateriaal word herverpak, terwyl die universiteit in gedagte hou dat nie alle studente deurlopend toegang tot die internet het nie.

Die UV sê eksamens by die universiteit sal van 3 tot 22 Augustus plaasvind deur deuroplende aanlyn assessering. Die derde kwartaal begin op 31 Augustus met ʼn mengsel van aanlyn lesings en die gewone klasse.

Unisa sê eksamens by dié universiteit gaan in Mei en Junie voort, maar dat geen eksamen in persoon by ʼn eksamenlokaal afgelê sal word nie. Studente sal gebruik maak van “alternatiewe assesseringsformate” vir dié eksamen, sê Tommy Huma, Unisa-woordvoerder.

Die universiteit sê dosente sal individueel aandui watter soort eksamen afgelê moet word vir elke module.

Huma sê studente wat nie die eksamen kan aflê nie, sal outomaties na die Oktober-November-eksamen aangeskuif word. Daar sal geen koste of straf aan verbonde wees nie.

Die Noordwes-Universiteit het al verlede week met ʼn oriënteringsproses begin om te verseker studente kan aanlyn klasse volg, het prof. Dan Kgwadi, adjunkrektor van die NWU, gesê.

“Ons gaan alles moontlik doen om te verseker dat geen student agterweë bly nie. Vir studente wat nie toegang tot aanlyn onderrig het nie, of indien die afsonderingstydperk verleng word en die universiteit nie van afstandonderrig kan gebruik maak om dié studente te bereik nie, berei fakulteite reeds voor vir ‘opvangprogramme’,” sê Kgwadi.

Ook dié universiteit sê toegang tot data is een van studente se grootste hindernisse. Sommige van die universiteit se subwebwerwe en portale benodig reeds geen data nie en die NWU sal die datakoste dra vir studente se toegang tot sekere ander webwerwe.

Die NWU sê studente gaan nie aan die einde van die eerste semester ʼn konvensionele eksamen aflê nie en die universiteit gaan ook van assesserings gebruik maak.

entrepreneur-onderneming-rekenaar-selfoon-skootrekenaar-skryf-notas

(Foto: Pixabay)

Praktiese werk sal in die tweede semester hanteer word.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn oorhoofse institusionele komitee vir bedryfskontinuïteit tot stand gebring om toesig te hou oor 11 subkomitees, wat elkeen konsentreer op kernfasette van die universiteit se werksaamhede wat deur die pandemie geraak word: fasiliteite en sekuriteit, internasionale aangeleenthede, studentebehuising, registrateursaangeleenthede, menslike hulpbronne, studentesake, kommunikasie, aanlyn leer en assessering, inligtingstegnologie (IT), mediese aangeleenthede, en navorsing.

Die US het ook 1 500 skootrekenaars beskikbaar gestel aan sosio-ekonomies benadeelde studente wat nie onder die huidige omstandighede toegang tot aanlyn leermateriaal het nie, sê prof. Stan du Plessis, voorsitter van die institusionele komitee.

Die universiteit het ook ʼn lys van webwerwe beskikbaar gestel wat sonder enige datakoste besoek kan word.

Die universiteit sê klasse, toetse en eksamens word herskeduleer. “Selfs al het ons verskeie maatreëls in werking gestel om ons studente na akademiese sukses te ondersteun, weet ons dat sommige studente gaan sukkel om die akademiese jaar suksesvol af te lê,” het die US gesê.

Studente sal dus in 2021, ongeag hul akademiese prestasie vanjaar, weer vir hul akademiese programme kan inskryf en hul studies kan voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zulk ·

Wat van sloerdery by UNIVERSITEIT PRETORIA- Hul het eers begin datum uitgestel en nou weer nie vandag begin: verskonings oor aanlyn klasse- laat ons kinders wat kan solank aanlyn klasloop asb! Jul gaan hul n jaar kos . Meeste ander universiteite kry dit reg…

Willem ·

Indien alle universiteite aanlyn klasse kan aanbied gaan dit n groot verligting wees. Dan kan niemand aandring op verblyf en kos wat gratis verskaf moet word. Gaan duimvas hou

Everest ·

Tuks sê niks. Solank ouers betaal is hulle gelukkig. Swak!

Burgermeester ·

Weereens suig ons Suid Afrikaanse universiteite aan die agterspeentjie. Ek wonder wie se skuld is dit? Ek doseer tans aan ‘n universiteit in die buiteland. Alle maatreels en reelings was in plek gesit voor die inperkingstydperk begin het. Toe dit tyd word dat die universiteit sluit vir die inperkingsperiode, het alles sonder enige probleme aanlyn geskuif. Ek gee klas aanlyn, ons doen vergaderings aanlyn, en die studente skryf eksamens aanlyn sonder enige probleme.
Dit is hier waar die mense gaan agterkom dat #feesmustfall nie gaan werk nie. Universiteite het finansies nodig om goeie stelsels in plek te he vir tye soos die. Jy koop nie ‘n renperd met ‘n donkie se prys nie!

Pim ·

Universiteit van Pretoria is besig om ook skootrekenaars aan studente te verskaf. Studente gaan ook verniet data kry maar hulle begin eers 4 Mei. Dan gaan hulle werk dat dit klap. Hierdie inligting is vir al die Tuks studente gestuur. My kind het dit gekry.

Theo ·

Centurion Akademie (CA) met sy verskeie kampusse het reeds op 30 Maart ten volle aanlyn gegaan. CA se stelsels is van so aard dat dit saam met al die nuwe tegnologieë dit gemaklik kon maak om al ons studente te hanteer. Studies gaan aan sonder onderbreking terwyl die studente veilig tuis kan studeer , toetse en eksamens te kan aflê. Net soos die groot universiteite het CA ook uitdagings en ‘n Trustfonds wat al in 2008 gestig is word weer gebruik om fondse in te samel om rekenaars en data vir minder bevoorregte studente te kan koop. Ook is dit broodnodig aangesien die meeste van ons ouers eie besigheideienaars is en nie meer fooie kan betaal nie. CA wil ook hiermee help, alle bydraes sal verwelkom word aangesien die regering se fondse nie na ons ouers uit kom nie. Ons wens al die studente by al die universiteite sterkte toe met die aanlynstudies en vir elke ouer om hulle daarin te kan ondersteun. Besoek ons gerus by http://www.ca.ac.za

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.