Afsondering: Só maak kerke tydens Paasfees  

Deur Elaine Krige en Tania Heyns

(Argieffoto: pixabay)

Die tydperk van algehele afsondering wat tans in Suid-Afrika geld maak dit onmoontlik vir Christene om bymekaar te kom vir Paasfees en kerke wat jaarliks groot byeenkomste hou, soos die Zionist Christian Church (ZCC) wat na Moria in Limpopo reis, moes noodgedwonge hiervan afsien.

Dit het kerke egter nie ontmoedig om steeds Paasdienste aan te bied en saam met lidmate nagmaal te vier nie, al is dit net oor die internet. Vir sommige kerke, soos die Morawiese Kerk in Wuppertal, is die tydsberekening van die tydperk van algehele afsondering egter ʼn groot slag.

“Dit sal die eerste keer in 560 jaar wees dat mense nie in die week vóór Paasfees bymekaar kom vir die daaglikse leesdienste van die lydensgeskiedenis nie. Ons is ook heeltemal afgesonder hier en het nie toegang tot behoorlike internetverbinding om ons dienste uit te saai nie,” sê eerwaarde Jasmine Redcliffe.

Die 1830 Morawiese kerk (Foto: RoepTV.com)

Hy sê duisende mense van in en om die dorp stroom jaarliks na die kerk vir die Paasfees. “Ons sal ook nie Sondag die voorlesing by die begraafplaas kan doen waar ons gewoonlik die name lees van almal wat die afgelope jaar oorlede is nie. Dit het regtig ʼn impak op ons gemeenskap om nie vanjaar al ons aktiwiteite te kan uitvoer nie,” sê Redcliffe. Nietemin word gesinne aangemoedig om steeds op hul eie huisgodsdiens te hou en vir mekaar voor te lees uit die lydingsgeskiedenis.

Gemeentes van die NG Kerk het Vrydag elk hul eie boodskappe aanlyn gelewer op die Kerkbode-webtuiste.

“Dit is fantasties om te sien wat hulle beplan. Die gemeentes raak baie kreatief tydens die algehele landwye afsondering, veral die jong dominees, het dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Paasbolle (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Volgens Claassen maak sommige gemeentes ook van die nagmaal gebruik tydens die aanlyndienste. Lidmate word gevra om brood en wyn vooraf te berei en byderhand te hou gedurende die diens.

Die NG Kerk het vandeesweek van Sondag wat bekend staan as Palmsondag (die Sondag voor Paasfees) die heilige week gevier, waartydens sommige gemeentes tekste en ander video’s aan lidmate gestuur het. Die boodskappe vandeesweek het gehandel oor Jesus se lyding tot en met die kruisiging.

Every Nation Tshwane het ook op Goeie Vrydag verskeie aanlyndienste gehou.

Volgens Retief Burger, die geestelike sanger en leraar, sal die dienste deur vier of vyf mense op die aanlyn platform Zoom fasiliteer word. Die persone sal dan na mekaar die lofsang, boodskap, nagmaal en afsluiting lei. Diegene wat inskakel op die dienste word vooraf gevra om brood en wyn tuis voor te berei en byderhand te hou vir die diens.

Die kerk het ook reeds ʼn program vir kinders uitgewerk wat ouers ná die dienste met hul kinders kan volg, verduidelik Burger.

Kerke soos Lewende Woord en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het ook op Goeie Vrydag eredienste aanlyn beskikbaar gestel.

Die nuwe aanlyn televisiekanaal TruthTV het Christene op Paasfees tegemoet gekom deur bepaalde inhoud dié naweek gratis aan te bied. Kykers kan van Vrydag tot Sondag na twee rolprente vir Pase en twee episodes van die reekse “Wat glo jy?” en “Superbook” gratis kyk.

Skep ʼn persoonlike profiel met jou e-posadres en ʼn wagwoord van jou keuse om na die rolprente te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Die Morawiese Kerk is een van die oudste Protestandse denominasies in die wêreld en dateer uit die 15 de eeu,vandaar die 560 jaar.

Raadslid ·

En ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons spreek daaroor soos hulle daaroor gespreek het.

Mt. 26:26-28; Mk. 14:22-24; Lk. 22:19-20; 1 Kor. 11:23-26. Joh. 3:5-6. Joh. 5:25. Joh. 6:48-51. Joh. 6:63; Joh. 10:10b. Joh. 6:40,47. Joh. 6:55; 1 Kor. 10:16. Efés. 3:17. Joh. 3:8. Ps. 110:1; Mk. 16:19; Hand. 2:34. Rom. 8:32; 1 Kor. 10:3-4. 1 Kor. 2:14. Lk. 22:21-22; Hand. 8:13,21. Joh. 3:36. Hand. 2:42; Hand. 20:7. Hand. 2:46; 1 Kor. 11:26.

Katjie ·

Ek en my gesin het gister na ons dominee via youtube geluister en saam nagmaal gebruik. Dit was anders, nie waaraan ons gewoond is nie en Jesus was daar teenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.