Afsondering: SOS maak plan vir skole bekend

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Reint Dykema)

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Maandag ʼn vyf-punt-plan aan die minister van basiese onderwys gestuur oor hoe kontakonderrig so vinnig moontlik op ʼn gesonde manier hervat kan word.

Die dokument is in samewerking met lede van die SOS se leierskapvereniging, lede van skoolbeheerliggame en die Solidariteit Beweging opgestel, ten einde ’n strategiese raamwerk vir die volgehoue en volhoubare hervatting van kontakonderrig daar te stel.

Skole is weens die tydperk van algehele afsondering reeds langer as ʼn maand gesluit.

“Hierdie insette word beoog as bydraend tot en in lyn met die DBO se nasionale strategie om die invloed van Covid-19 op onderwys aan te pak. Die voorstelle is daarop gemik om die verlies aan onderrigtyd so gou moontlik binne ’n veilige en gesonde skoolomgewing in te haal, sinvolle assessering moontlik te maak en die waarde van aanlyn onderrig as ondersteunend tot leer te optimaliseer,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

Die plan bestaan uit vyf verskillende aspekte:

  1. Die daarstel van goeie higiëne

Die SOS stel voor dat een personeellid aangewys word om as kontakpersoon op te tree, leerders wat simptome van Covid-19 toon, te verwys vir toetsing en verantwoordelikheid te neem van die reël van proaktiewe mediese dienste. Behoorlike sosiale afstande moet ook gehandhaaf word.

  1. Herstrukturering van die skoolkalender

Luidens die voorstelle kan die departement van basiese onderwys (DBO) 10 skooldae wen deur die Junie- en die Septembervakansie elk met een week te verkort. “Verlore onderrigtyd kan verder deur die verlenging van die skooldag tot 16:00 opgevang word. ’n Langer skooldag maak langer periodes moontlik. Twee periodes van 30 minute elk se werk kan in een langer periode van 45 minute ingepas word, omdat oorsig van die vorige periode onnodig is en tyd wat aan klaswisseling bestee word, uitgeskakel word.”

Volgens dié voorstelle behoort buitemuurse bedrywighede, uitstappies en sportgeleenthede wat klastyd beïnvloed, tot die minimum beperk te word om meer klastyd en geleentheid vir huiswerk en aanlyn onderrig toe te laat.

  1. Hersiening van skole se begroting
geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Talle skole ervaar dat ouers tydens die tydperk van algehele afsondering opgehou het om skoolfonds te betaal omdat hulle finansieel swaar kry. Daarom stel die SOS voor dat skole se begrotings hersien word om te verhoed dat beheerliggaamposte gesny word. Voorstelle in dié verband sluit in dat aansoeke vir volledige of gedeeltelike kwytskelding van skoolgeld op die korrekte manier ingedien en oorweeg word en dat agterstallige skoolgeld aktief ingevorder word in die geval waar ouers nie vir vrystelling aansoek gedoen het nie.

Skole moet ook uitgawes beperk tot die noodsaaklikste. “Skaal kapitaalprojekte af en verleen prioriteit aan die implementering van die digitale strategie,” lui die voorstelle. Voordat afleggings oorweeg word, moet skole ook alternatiewe ondersoek waarop die salarisrekening gesny kan word, soos belastingverligting en heronderhandeling van vergoeding aan personeel in diens van die staat. “Waar afleggings onvermydelik is, moet werknemers ondersteun en ingelig word oor hul regte en spesiale werkloosheidversekeringsvoordele.”

Die SOS is ook van mening dat ouers gedeeltelike vrystelling van koshuisgeld behoort te kry vir die ses weke wat leerders nie in die koshuis ingewoon het nie.

  1. Daarstel van ʼn digitale strategie vir skole

(Argieffoto: Pixabay.com)

“Die noodsaak van ’n digitale strategie vir skole in Suid-Afrika het tydens die staat van inperking duidelik geword,” lui die SOS se dokument. “Internettoegang om volgehoue kommunikasie en aanlyn onderrig moontlik maak, is nie meer ’n nuttige ekstra nie, maar noodsaaklik vir alle leerders. Die beskikbaarheid van leerhulpmiddels en -platforms om tegnologie optimaal te benut en ’n vervlegte leerbenadering te ondersteun, is net so ’n noodsaaklike deel van die digitale strategie. Die gehalte van beskikbare skoolhulpbronne en -platforms verskil baie en moet krities beoordeel word om te bepaal óf en hoe dit gebruik kan word om leer aan te vul.”

Die SOS stel verder voor dat tegnologie en ander hulpmiddels wat leerders tydens afsondering in staat stel om met onderrig voort te gaan, tot elke leerder se beskikking gestel moet word. Skole kan uitleensentrums of biblioteke vir die uitleen van dié tipe toerusting daarstel.

  1. Hersiening van die nasionale kurrikulum

“Die verlies aan onderrigtyd as gevolg van Covid-19 en gevolglike inperking, skep die noodsaak (en geleentheid) om die oorvol KABV te hervorm,” meen die SOS. “Onderwysers kla reeds ’n geruime tyd dat die kurrikulum dikwels te wyd en oppervlakkig is. Om te verseker dat leerders noodsaaklike kennis en vaardighede as boustene vir die volgende jaar se werk ontwikkel, is ʼn herverpakking van die kurrikulum nodig.”

Luidens die voorstelle moet die departement van onderwys dít identifiseer wat as boublokke vir opeenvolgende konsepte dien en wat tersiêre onderrig gaan ondersteun. Die SOS stel ook voor dat die Junie-eksamen geskrap word en klem geplaas word op formatiewe assessering pleks van summatiewe assessering. “So kan leerders steeds kernvaardighede in elke fase bemeester, terwyl tyd gewen word deur die administratiewe las wat eksamens meebring, te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Annelie ·

Skool tot 16:00 verleng?????? Dis kinders, nie robotte nie!!!!! Wat van buitemuurse aktiwiteite buite skoolverband???? Swem, dans, perdry, tennis???? Klavierlesse en so kan ek aangaan… dis ook “besighede” wat dan n inkomste gaan verloor… nee regtig!!!

Cecilia ·

Ek is ‘n graad 3 onderwyseres in een van die minderbevoorregte skole waar ons gemiddeld met 40+ leerders sit. Ek stem ook nie saam met die verlenging van skoolure tot 16:00 uur nie. Die kinders is teen 13:00 uur al moeg en uitgeput en kan nie meer konsentreer nie en dan praat ek nie eens van die onderwysers wat dissipline moet toepas en leerders moet onderrig nie. Die klein kindertjies sal dit nooit kan volhou nie en ek glo van die groter kinders ook nie

Warrior ·

Ons gestremde leerders sukkel om wakker te bly tot half 2…

Rudi ·

Dalk moet die departement by ons tuisskolers kom leer hoe dit gedoen word.

Jax ·

Regtig? Ongelooflik kortsigtig! Ek kan nie glo dat mense kan dink dit is n goeie idee nie. Mense sit in hulle kantore, totaal afgesny van wat buite aangaan en sit en dink hierdie snert uit! Hoe gaan hulle dit regkry om die kinders se aandag te behou. Nie alle kinders is A-kandidate nie – wat gaan word van die kinders wat reeds aandagafleibaar is?
Dis tyd dat die kurrikulum drasties aangepas moet word. Dit gaan my verstand te bowe om te sien hoe hierdie kinders inligting moet inprop! Ons kinders word reeds te veel en te erg gedruk!
Die huiswerk/klaswerk wat n Graad 1 leerling moet baasraak, is skokkend. Wanneer ek my kleinkinders in die middae oplaai, is hulle doodmoeg – Dan wag die berg huis werk nog!
Dit is tyd om regtig alles te her-oorweeg! Vir die plan-makers is die kinders net n getal/n nommer – vir my is dit twee Baie spesiale kinders wat gretig is om te leer maar te moeg is vanwee die reuse hoeveelheid wat hulle moet inneem.

Shaunette ·

Ek stem ???? saam met jou! Dis belaglik hoeveel werk my 2 kleinkinders ( gr1 en gr5) moet baasraak. Hulle lyfies en breine is teen eenuur al gedaan. In hierdie inperkings tydperk word hulle alreeds toegegooi onder al die werk, soveel so dat my dogter die gr1’tjie help en ek die gr5. Wat dink hulle?hoe gaan ons kleintjies hierdie moordende pas volhou??

Marius ·

Wys my een skool wat higiëne kan toepas op ons kinders. Ons betaal skoolfonds maar daar is nie seep, en in baie gevalle eers toilet papier in die badkamers nie. Wie sal sy hand opsteek in hierdie tyd en sê “ek sal my kinders skool toe stuur”. Jy moet regtig nie wel wees nie om dit te doen. #losonskinderstuis2020

Cherry ·

Ek wens ek kan vir jou ń 100 likes gee ek stem saam met jou. My kind bly tuis!!!!

Warrior ·

Alles klink goed en wel… nie alle huisgesinne beskik oor internet nie.
Wat van spesiale skole? Waar kinders met rolstoele gestoot moetword – 1.5m afstand? Versorging v die gestremde kinders, doeke wat geruil moet word, wat gevoer moet word.
Erg verstandelike kinders verstaan nie van distansie, hul kan nie self hul neuse blaas nie? Wonder maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.