Afsondering: Studente is bekommerd oor prakties

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Verenigde Nasies het aangedui dat meer as 1,6 miljard leerders en studente oor 161 lande heen nie in dié stadium kan studeer weens die Covid-19-pandemie nie. Dit is meer as 80% van die wêreld se leerders en studente wat tans ingeskryf is om onderrig te ontvang.

Suid-Afrikaanse universiteite beraam tans planne om studente in spesifieke studierigtings by te staan terwyl die praktiese deel van hul studie nou agterweë moet bly weens die algehele landwye afsondering. Studente is egter steeds bekommerd oor hoe hulle die mas gaan opkom wanneer die afsondering eindelik opgehef word.

Die 20-jarige Bea Wiid, ’n derdejaar- mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus, sê derdejaarstudente in die mediese rigting begin in hospitale roteer om ondervinding op te doen in die verskillende mediese velde.

Volgens Bea word die teoretiese en praktiese afdelings van die kursus dan in “blokke” van vier weke op ’n slag opgedeel wat behels dat derdejaarstudente vier weke op kampus studeer waarna hulle vier weke lank in hospitale werk. Dit kan egter nie voortgaan weens die afsondering nie.

Die US het nou besluit dat die groep studente al die teorie in die eerste semester moet afhandel deur middel van aanlyn klasse, waarna hulle ’n eksamen in Junie sal moet aflê. Dié klasse begin eerskomende Maandag.

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

“Ons is baie bly ons kursus kan geskommel word sodat ons nie langer hoef te swot nie, maar ons is bekommerd aangesien daar nie nou meer ’n afwisseling gaan wees nie en die rotasies uitputtend is. Dit sal op sy eie manier baie uitdagend wees,” verduidelik Bea.

Sy vertel dat hulle ook op kampus op kadawers sou werk om die menslike anatomie te leer ken. Dit sal egter nie nou moontlik wees met die aanlyn klasse nie. “Dit is heeltemal anders om dit in ’n aanlyn klas te leer as om dit self te doen. Dit help ook baie om op kampus te wees, maar ek dink almal probeer positief bly. Ons is almal saam in hierdie ding en die universiteit probeer dit so maklik moontlik vir almal maak.”

Volgens Bea het die US ook skootrekenaars aan studente beskikbaar gestel wat nie skootrekenaars het nie, sodat hulle by die aanlyn klasse sal kan inskakel.

Andries Wiese (21) is ’n vierdejaar- mediese student aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy verduidelik dat hul hospitaalrotasies ook stilstaan weens die afsondering hoewel hul teorie sal kan voortgaan deur middel van aanlyn klasse.

Volgens Wiese is daar reeds aan hulle gesê dat hulle nie juis vakansie gaan kry vir die res van die jaar nie, om werk in te haal. “Daar is ruimte om op te vang mits die afsondering nie weer verleng word nie. Die groot bekommernis is egter dat ons nie ons jaar gaan kan voltooi nie en dit moet herhaal. Medies is al klaar ’n baie lang kursus.”

Lindokuhle Ntshangase (Foto: ANA)

Lindokuhle Ntshangase, ’n finalejaar- mediese student aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), meen hoewel die afsondering noodsaaklik is om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan, is die onsekerheid wat daarmee gepaardgaan kommerwekkend.

Dit is veral vir Ntshangase (24) in sy finale jaar belangrik om praktiese ure in hospitale op te doen sodat hy betyds sy mediese graad kan verwerf. “Die afsondering het ’n groot invloed op die akademiese kalender, veral vir mediese studente. Ons leer langs ’n hospitaalbed. Daar is geen manier dat ons vaardighede deur die internet kan aanleer nie. Dit moet prakties wees,” verduidelik Ntshangase. “Dit is ’n angstige en onsekere tyd vir almal.”

Die sussies Megan (22) en Kristin Naude (20) studeer onderskeidelik BSc Chemie en Drama aan die UP. Megan doen tans haar honneurs in BSc Chemie. Dié honneurs behels twee groot projekte wat grootliks in ’n laboratorium op kampus gedoen moet word.

“Ons kan glad nie nou aan ons projekte werk nie, omdat die projekte gebaseer is op data wat in die laboratorium verkry word. Ons het ook sekere toerusting nodig wat net op kampus is,” verduidelik Megan aan Maroela Media.

Megan Naude (Foto: Verskaf)

Sy vertel dat sy bekommerd is oor haar honneurs aangesien die projekte ontsettend baie krediete tel. Sy is veral bekommerd dat sy haar honneurs sal moet herhaal weens die Covid-19-pandemie.

“Dit gaan ’n groot aanpassing wees. Ek het beplan om volgende jaar te werk.”

Sy vertel dat daar ook baie studente op kampus is wat staatmaak op hul werk as tutor om hul studies te betaal. Dié studente ontvang natuurlik nie ’n inkomste gedurende die afsondering nie.

Kristin is ’n tweedejaar-dramastudent – ’n kursus wat baie praktiese ure behels, verduidelik sy. Om sake te vererger was die UP se dramadepartement in die assesseringsweek toe die universiteit noodgedwonge moes sluit. Die departement het nou bepaal dat studente hul teorie in die eerste semester aanlyn sal afhandel, waarna die prakties in die tweede semester ingehaal sal word.

“Dit is ’n groot uitdaging. Ons prakties word in vier dele ingedeel waarvan dans een is. Ek het probleme met my rug en die klasse het daarvoor gehelp. Ek raak nou weer uit oefening en dit plaas baie druk op ’n mens.”

Marli Buys (19) is ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Marli Buys (Foto: Verskaf)

Haar kursus behels dat sy twee keer per jaar vir drie weke by skole gaan proef om praktiese ervaring op te doen. Marli en haar klasmaats sou direk ná die vakansie proef en kan dus nou nie meer nie, weens die afsondering.

“Dis nie vir ons lekker nie, maar ons het dit aanvaar. Die universiteit doen egter ongelooflik baie moeite om ons te help en stel inhoud aanlyn beskikbaar. Ons is ook aangesê om lesplanne uit te werk en onsself op te neem vir assessering,” vertel sy.

Volgens Marli kan studente ook maklik met hul selfone toegang tot die inhoud kry en opdragte en toetse op hul selfone indien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

ek sien n hele paar wit name in hierdie berig. waar gaan hulle nogal eendag met hulle wonderlike grade werk kry? Dit was voor inperking reeds moeilk vir wit mense om werk te kry. na inperking gaan dit net 100 maal moeiliker wees.
Moenie dink hulle kan almal ïn die buiteland” werk kry nie. dis ‘n baie moeliker en duurder proses as om net gou australie toe te vlieg en daar by n werk in stap.
ek het later nie meer op my CV vermeld dat ek universiteitsgrade het nie. slegs aangedui dat ek 4 jaar op universiteit was maar niks bereik het nie.
Vreemd, maar deur so “dommer” te lyk, het ek met net matriek en my wit vel darem ordentlike werk gekry. maar die skade van jare se werkloosheid is gedoen. daars GEEN kans van aftree op 60 of 65 nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.