Afsondering: Tegnologie nou die sleutel tot oorlewing

Argieffoto

Al meer sakeondernemings en skole wend hulle tot tegnologie in die tyd van algehele afsondering. Dít, sê kenners, sal lei tot nuwe denkwyses en bevordering van tegnologiese gebruike. Daar is wel ʼn kans dat onvoldoende infrastruktuur in Suid-Afrika sal sukkel om die bykomende druk op die stelsel te hanteer en kenners waarsku daar kan onderbrekings wees.

Vir die volgende drie weke word Suid-Afrikaners verplig om so min as moontlik uit hul huise te gaan, ten einde die verspreiding van Covid-19 te verhoed. Baie meer mense werk dus nou van die huis af en gaan skool met behulp van die internet of televisieprogramme.

Dr. Lize Barclay, senior lektor in toekomsstudies en sisteemdenke aan die Universiteit van Stellenbosch se bestuurskool, sê hoewel onderskeie diensverskaffers ernstig besig is om netwerke by te werk om die verhoogde gebruik te hanteer, is dit uit ʼn sisteemoogpunt net te verwagte dat daar probleme kan wees. “Ons kan enigiets van stadige internet tot die tydelike onderbreking van diens verwag,” sê sy.

Die Wacs-kabel (Wes-Afrika-kabelstelsel), wat Suid-Afrika deur Brittanje aan die internet verbind, het juis die afgelope naweek weer gebreek. Lede van die publiek is deur aanlyn diensverskaffers soos Axxess Saterdag ingelig dat stadige internetspoed weens die gebreekte kabels verwag kan word.

Die vraag is nou of Suid-Afrikaanse skole en ondernemings gerat is om deurlopende wisselwerking met betrokkenes aanlyn te handhaaf.

Kind_Ipad_tegnologie.jpg

Foto: o.canada.com

Tegnologie in die onderwys

Angie Motshekga, minister vir basiese onderwys, het die afgelope week leerders en ouers probeer gerusstel dat die departement nou saamwerk met sleutelrolspelers om opvoedkundige inhoud aan leerders beskikbaar te stel. Dié inhoud behoort vanaf 1 April op onder meer die SAUK se televisie- en radioplatforms, DStv, en elektronies op Vodacom-, MTN-, Telkom- en Cell-C-verbruikers se selfone beskikbaar te wees.

Curro, een van die grootste verskaffers van onafhanklike onderwys in Suid-Afrika, het in ʼn onlangse mediaverklaring sý versekering gegee dat die groep bevoeg is om deur middel van tegnologiese hulpmiddels voort te gaan met die meeste akademiese aktiwiteite. Dít danksy die aanlyn leerbenadering wat al vir jare ontwikkel word. Luidens die verklaring sal Curro-onderrig deur middel van ʼn virtuele en afstand-leerstrategie plaasvind.

Volgens die uitvoerende direkteur van die onderwysvakbond Naptosa, Basil Manuel, is skole wat wel afstandonderrig kan toepas, in die minderheid.

“Daar is derduisende kinders wat teruggestuur is platteland toe weens skole en koshuise wat gesluit is. Op die platteland het die kinders nie toegang tot tegnologiese hulpmiddels nie. Vir kinders wat ʼn rekenaar en internet by die huis het, is dit baie makliker om te kan aangaan met aktiwiteite en skoolwerk. Daar is skole wat dit graag sal wil doen, maar bloot nie die infrastruktuur daarvoor het nie.”

Naptosa het onlangs ʼn reeks nuusbriewe uitgestuur om ouers in te lig oor waar om aanlyn skoolwerk gratis af te laai. Maar Manuel voeg by: “Weereens werk dit ook net vir mense wat toegang het tot die internet.”

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Kaboompics/Karolina/Pexels.com

Tegnologie en sakeondernemings

Dié uitdaging is ook ʼn werklikheid vir verskeie ondernemings landwyd. Die African News Agency (ANA) skryf dat die koronavirus wat tot Covid-19 lei elke onderneming in die kern van die vierde industriële rewolusie geplaas het. Tegnologie is nou die sleutel tot oorlewing, meen ANA.

Terwyl Suid-Afrikaanse ondernemings, op mikro- en makroskaal, die invloed van Covid-19 tasbaar voel, kan die gebruik van aanlyn platforms die uitwerking op geslote ondernemings verminder.

“Verskeie aanlyn en sagtewareprodukte soos Zoom en MS Teams, wat werkers in staat stel om aanlyn met mekaar te kommunikeer, het die afgelope weke onder druk verkeer, weens die skielike toename in mense wat van die huis af werk,” sê Barclay.

Andrew Bourne, ʼn woordvoerder van Zoho Afrika, een van die wêreld se grootste sagtewareverskaffers vir ondernemings, meen terwyl sommige ondernemings reeds die regte tegnologie in die werkplek aanwend, is daar menige wat nog nie die noodsaaklike tegnologiese aanpassings aangebring het nie.

“Ondernemings begin nou eers die belangrikheid van tegnologie besef.” Bourne sê die gebruik van die regte tegnologiese toebehore kan ʼn maatskappy se doeltreffendheid en produktiwiteit aansienlik verbeter. “Byvoorbeeld vergaderings wat aanlyn gehou word, kan ondernemings tyd én geld spaar,” sê hy.

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, sê om aanlyn of van die huis af te werk verminder ook verkeersopeenhopings en bespaar tyd en vervoerkoste na en van die werk.

studeer-studies-skootrekenaar-tegnologie

Foto: Christin Hume/Unsplash.com

Tegnologiese vooruitgang danksy Covid-19

Die omstandighede waarbinne skole, ondernemings en mense hulle nou tot tegnologie wend, kan positiewe gevolge inhou. Kenners meen ʼn koersverandering in die gebruik van tegnologie in Suid-Afrika is onafwendbaar, dit is net ʼn kopskuif weg.

“Voorheen het personeel weerstand gebied teen verandering en nuwe tegnologie, nou word hulle gedwing om dit te gebruik in ʼn poging om aan te hou werk tydens die krisis,” sê Bourne.

Manuel meen ook al meer skole sal hulle nou daarop toespits om hulself toe te rus vir die vierde industriële rewolusie. “Dit is ʼn heel nuwe wêreld. Die spel het nou verander. Mense besef nou eers werklik hoe tegnologie kan help.”

Doris Viljoen, ʼn senior navorser by die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit van Stellenbosch, meen digitale geletterdheid (digital fluency) onder Suid-Afrikaners gaan drasties toeneem. “Verbruikers gaan meer selfversekerd met hul tegnologiese toestelle te werk gaan, juis omdat hulle die toestel in groter mate verstaan.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bloedhond ·

Die mees insigewende berig wat ek in’n baie lang tyd gelees het. Ek lees nou meer as in die afgelope 2 jaar saam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.