Afsondering: Tente, nie skole, nou vir haweloses gebruik

Kwesbare groepe soos hawelose mense word tydens die afsonderingstydperk in tente gehuisves. (Foto: Twitter)

Die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng het uitgevaar teen skole wat volgens hom weier om haweloses tydens die staat van afsondering te huisves.

Die skole is geïdentifiseer as skuilings, maar skole en belanghebbendes was bekommerd oor die besluit en het talle vrae daaroor aan die LUR van onderwys Panyaza Lesufi gestel.

Woensdag het Lesufi op Twitter gesê “mede-Suid-Afrikaners moet in tente gehuisves word terwyl openbare bates soos koshuise leeg staan omdat selfgesentreerde skoolbeheerliggame weier om skole oop te stel om ons mense te akkommodeer. Is dit omdat hawelose mense nie volwaardige mense is nie?” het Lesufi gevra.

Lesufi het ook aangevoer Fedsas, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, het sy lede aangeraai om nié haweloses op staatseiendom te akkommodeer nie.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê Lesufi se twiet is nie die volle waarheid nie. “Lesufi het een bladsy van ons regsmening getwiet. Ons staan glad nie ongevoelig teenoor die dilemma van weerlose mense of die krisis wat die land in die gesig staar nie.

Die hawelose mense sal vir die duur van die staat van algehele afsondering hiér gehuisves word. (Foto: Twitter)

“Ons bly steeds in ʼn regstaat. Selfs in ʼn krisistyd moet jy prosedures volg,” het Deacon gesê.

“Daar is sekere goed wat nagekom moet word. Die noodtoestand en krisis hef nie ons almal se verantwoordelikheid op om die reëls van ʼn regstaat na te kom en te verseker dat ons optrede ten alle tye regmatig, redelik en prosedureel billik is nie.”

Deacon het gesê daar is talle vrae wat beantwoord moet word voordat ʼn besluit geneem kan word en dat dit kwaadwillig van Lesufi was om sy stellings op ʼn enkele bladsy te grond.

“Skole sou die kwessie waarskynlik gunstig hanteer het as daar behoorlike oorlegpleging was, maar daar kan nie net koöptering van die LUR wees nie.”

Hy het gesê daar moet onder meer uitsluitsel wees oor wie die koste van water, elektrisiteit of toiletware moet dra; wat gebeur as die persone weier om ná die afsonderingstydperk die perseel te verlaat; wie aanvaar verantwoordelikheid vir enige skade; wie verskaf kos en wat gebeur met diegene, soos onderwysers, wat reeds op die perseel bly?

Volgens Deacon is kinders se belange ingevolge die Grondwet deurslaggewend en moet dit beskerm word.

Panyaza Lesufi (middel), die LUR vir maatskaplike ontwikkeling. (Foto: Twitter)

Thabiso Hlongwane, woordvoerder van die departement, wou by navraag nie bevestig dat die versoek dat skole gebruik word, heeltemal opgeskort is nie. “As daar koshuise leeg staan, waarom moet mense in tente woon? Dit is onmenslik. Dit is abnormaal.”

Volgens Hlongwane het verskeie kerke en ander organisasies hul deure vir kwesbare mense oopgestel.

“Hulle het geen heenkome nie. Die regering word die enigste tuiste wat hulle het. Dit is onmenslik van skole, of universiteite, of kolleges om nie in te stem nie.

“Die virus is ʼn internasionale krisis en húlle [skole] is nie die enigstes in gevaar nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

donsie ·

Wie dink julle gaan betaal vir die skade wat aangerig word in die koshuis, vuil mure, grafitti, gebreekte vensters en spieels, matrasse ens. Ek weet… die ouers van die kinders wat in die koshuise is, sal maar net weer moet opdok om die skade te betaal. koshuisgeld is alreeds onbekostigbaar duur, nou wil julle die ouers nog meer belas. Wie se skuld is dit in elk geval dat die mense op straat is en nie werk of blyplek het nie??

George ·

Hoe gaan van hulle ontslae raak wanneer die lockdown verby is? Hulle sal staak en die plek afbrand en “DEMAND” om te bly!!!!

Brakenjan ·

En dan wanneer “lockdown” verby is en die mense wil nie uit nie. Ek dan word die skole verplig om alternatiewe huis vesting vir hul te gaan soek…volgens die Wet.

Stefan ·

Ek sou sè ‘n tent (met kos wat uitgedeel word) is al reeds baie beter as onder ‘n brug waar vir hulle self gekies het om te bly.

katerinadiekat ·

Wel ek weet nie of die meeste van hulle gekies het om haweloos te wees nie Maar ja n tent is 100% beter as op straat, dis vir seker.

JC Venter ·

Lesufi het dieselle ingesteldheid as die man met die vilthoed, as die hoed pas, sit hom op Lesufi. Hehehe …. dit moet seker wees, as die skoen jou pas, maar in hierdie geval volstaan ons maar met ‘hoed’. Miskien moet ons vir die ATR vra of hulle dit nie as ‘n nuwe uitdrukking in die AWS kan opneem nie.

“As die hoed jou pas Lesufi, sit dit op!”

Johan ·

Die kempton park hospitaal staan al lankal leeg hoekom gebruik hulle dit nie eerder as ons gemeenskap sale en skole nie

Michael 1 ·

Hoeveel kan lesufi by sy privaat woning akkommodeer ,laat hy die voorbeeld stel.

Grassie ·

Dit lyk vir my ou Lepufi het ‘n toets gedop hier, net toe hy begin dink het sy woord is wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.