Afsondering: Toerismeverblyf daal met 95% – StatsSA

(Grafiek: pixabay)

Statistieke SA (StatsSA) het Maandag net weer bevestig watter omvattende uitwerking die landwye staat van afsondering, wat sedert 27 Maart geld, op die land se ekonomie gehad het. Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdagaand aangekondig Suid-Afrika se afsonderingsregulasies word nou na vlak 2 verslap. Dit beteken onder meer die verbod op die verkoop van tabak en alkohol word opgehef, interprovinsiale reis word weer toegelaat en die plaaslike toerismebedryf word oopgestel.

Laasgenoemde was sedert die afsonderingstydperk in ʼn stryd om oorlewing gewikkel en kenners het gemaan die bedryf gaan nie veel langer kop bo water kan hou nie.

StatsSA se jongste syfers oor toerismeverblyf skets ʼn droewige prentjie van wat die afgelope paar maande in die bedryf gebeur het. Statistikus-generaal Risenga Maluleke het Maandag gesê die toerismeverblyfsektor se algehele inkomste het teen Junie vanjaar met 95,3% gedaal in vergelyking met die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Die inkomste vir akkommodasie het op ʼn jaargrondslag met 94,5% gedaal weens ʼn daling van 92,3% in die aantal verblyfnagte wat verkoop is. StatsSA sê die gemiddelde inkomste per oornag-eenheid wat verkoop is, was boonop 29,5% minder.

Volgens StatsSA het alle soorte akkommodasie ʼn groot negatiewe jaar-op-jaar-groei in akkommodasie-inkomste ondervind.

Hotelle was verantwoordelik vir die grootste bydrae tot dié daling (ʼn daling van -93,9% wat -61,9 persentasiepunte tot die algehele daling bygedra het), terwyl ander soorte akkommodasie met 95,2% (oftewel -27,3 persentasiepunte) afgeneem het.

Soort akkommodasieJan. ’20Feb. ’20Mar. ’20Apr. ’20Mei ’20Jun. ’20
Hotelle3,85,5-43,2-97,9-98,2-93,9
Woonwaparke en kampeerterreine22,025,4-24,6-99,6-99,5-99,6
Gastehuise en gasteplase-25,5-26,0-55,3-98,9-99,4-97,5
Ander akkommodasie12,222,4-35,9-97,9-97,4-95,2
Totale inkomste uit akkommodasie4,7%8,1%-41,7%-98,0%-98,1%-94,5%

Dié syfers sluit die inkomste van restaurante en kroeë en ander verwante verkope uit.

StatsSA het bevind Suid-Afrika se akkommodasiebedryf het tussen April en Junie vanjaar maar R172,6 miljoen verdien, in vergelyking met die meer as R5,5 miljard wat hy in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar verdien het. Dit is ʼn daling van 96,9%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.