Afsondering: Verwarring oor moontlike terugkeer na vlak 4

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die afsonderingsvlakke skuif. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Verwarring heers oor die moontlike handhawing van vlak 4-afsonderingsmaatreëls vir distrikte met ʼn hoë voorkoms van koronavirus-gevalle terwyl die res van die land aanbeweeg na vlak 3

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat die hele land van 1 Junie af oorskakel na vlak 3. Terselfdertyd het hy benadruk dat die regeringsbeleid nog deurgaans behels het dat ʼn gedifferensieerde benadering gevolg sal word, naamlik deur distrikte wat as brandpunte beskou word op hoër afsonderingsvlakke te hou as distrikte waar die voorkoms van die koronavirus minder is.

Maar Dinsdagoggend het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, in ʼn skriftelike voorlegging tydens ʼn virtuele sitting van die Nasionale Raad van Provinsies aangedui dat vlak 4-inperkings sal bly geld vir gebiede wat as knelpunte beskou word.

Dit was nie uit Mkhize se uitlatings oor die saak duidelik wanneer so ʼn vlak 4-besluit geneem sal word nie. Sommige waarnemers het dit verstaan as ʼn teken dat die skeiding reeds op 1 Junie sal gebeur, wat teenstrydig met Ramaphosa se antwoord sou wees.

Ander het aangeneem dat dit beteken daar sal ná twee weke ʼn bestekopname volg oor watter afsonderingsvlakke in watter distrikte sal geld. In so ʼn geval strook Mkhize se stellings met Ramaphosa s’n.

Nkosazana Dlamini-Zuma sou Woensdag die land toespreek oor regulasies in verband met vlak 3 van afsondering, maar die geleentheid is vir ʼn tweede keer onverwags en onverklaarbaar uitgestel. ʼn Nuwe datum is ook nog nie daarvoor bekendgemaak nie.

ʼn Aanduiding van die verwarring wat oor die kwessie heers, is dat nog nie een van die vyf grootste politieke partye (ANC, DA, EFF, IVP of VF Plus) hulle teen Dinsdagaand oor die kwessie uitgespreek het nie.

Voorts was die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko, asook die departement van gesondheid se woordvoerder, Popo Maja, die hele middag en aand nie beskikbaar vir kommentaar nie.

(Foto: Wikimedia Commons)

Intussen het Mkhize gewaarsku dat die ergste nog voorlê vir Suid-Afrika wat die koronavirus betref.

Hy het uitgewys dat 45% van die land se totale Covid-19-gevalle van meer as 24 000 in die afgelope twee weke aangeteken is, wat beteken die kurwe styg skerp. Die Wes-Kaap het nou 65% van die land se gevalle, gevolg deur Gauteng met 13%, die Oos-Kaap met 12%, KwaZulu-Natal met 8%, die Vrystaat met 1%, Limpopo met 0,6%, Noordwes met 0,5%, Mpumalanga met 0,4% en die Noord-Kaap met 0,2%.

Bronne in die Wes-Kaapse regering het aan Maroela Media gesê die provinsie is onseker oor hoekom sy syfers soveel hoër is as ander provinsies s’n, terwyl sy mediese dienste en regering volgens alle meetbare maatstawwe die beste in die land is.

ʼn Eerste moontlikheid is dat daar die een of ander onbekende natuurlike rede is hoekom soveel Wes-Kapenaars die siekte opdoen. Die tweede moontlikheid is dat die Wes-Kaap se kurwe die res van die land s’n voor is, en dat die provinsie se draaipunt dus nader is as die res van die land s’n.

ʼn Derde moontlikheid is dat die provinsie strenger, meer aggressief en meer gefokus toets vir die virus – dat daar proaktief gesoek word na virusdraers in gemeenskappe met ʼn hoë voorkoms van die virus.

Mkhize het gesê dit is ʼn “mite” dat die Wes-Kaap se toetsing beter is as die res van die land en dat hulle meer gevalle het omrede hulle nie kontak tussen positiewe gevalle en ander mense nagespoor het nie.

Mkhize het hom ook uitgelaat oor die bohaai rakende die voorsitter van die Mediese Navorsingsraad (MNR), dr. Glenda Gray, se uitsprake dat daar nie genoegsame wetenskaplike grondslag is om die landwye afsondering te verleng nie. Mkhize het gesê hy en Gray het die aangeleentheid bespreek en dat sy binnekort ʼn openbare aankondiging oor die kwessie sal doen wat hy nie wil vooruitloop nie.

Die MNR het intussen besluit om die saak nie verder te ondersoek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Nog nooit so dom spul gesien nie

Wilhelm

Dit maak my naar dat hierdie mense oor my regeer en heers

Schalk

Die tipe verwarring is net ‘n refleksie van die verwarring, interne kompetisie, silo’s en kwaadwillige rugstekery wat in die ANC aangaan. Ramaphosa se een ding, en die interne interpretasie tussen zol, hoed, dr. Death en hoeterkop is totaal chaos.

Boortor

Hulle het hulle self in n knoop in gelieg en bedrieg en nou weet hulle nie om daar uit te kom nie! Hulle kan mos nou nie die waarheid vertel nie want dan is dit die einde vir hulle. Shame man! Ek kry hulle amper jammer!

Piet

Dit is ‘n swak bedekte dreigement. Aan die ander kant – om probleemgebiede te delinieër is gesonde verstand. Dan moet hulle die kapasiteit hě om die ge-isoleerde gebiede te monitor en te polisieĕr. Dan kan die land aangaan om weer te groei.
Probleem is opportunistiese kriminele wat weer besig is om die situasie uit te buit. Geweldige eerlikheid vanaf die regering – gaan saam met, praat uit een mond en besluit wie die “baas” is.
Tyd dat die kapers en openlikke diewe toegesluit word. Soos in nou.