Afsondering: Virussyfers ‘weerspieël’ gebiede waar regulasies oortree word

Bheki Cele, minister van polisie, tydens Vrydag se mediakonferensie. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Presies 57 dae nadat Suid-Afrika in ʼn staat van landwye afsondering weens die Covid-19-pandemie gegaan het, is nagenoeg 230 000 mense al vir oortredings van afsonderingsregulasies in hegtenis geneem.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag terugvoer gegee oor die polisie se optrede oor die afgelope sowat twee maande.

Waar daar teen die einde van April naastenby 107 000 sake aanhangig gemaak en 118 000 mense aangekla is van oortreding van afsonderingsregulasies, het dié syfer sedertdien bykans verdubbel, het Cele gesê. Dit sluit in drank- en sigaretverwante oortredings.

“Provinsies met die hoogste getal inhegtenisnemings vir oortreding van die afsonderingsregulasies weerspieël die provinsiale infeksiekoerse, met die Wes-Kaap heel voor, gevolg deur die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.”

Cele sê misdaadsindikate slaan munt uit die inperkingstyd, veral wat betref die smokkel van drank en sigarette. Daar was die afgelope paar weke ook ʼn toename in die smokkel van dié items tussen Suid-Afrika en Botswana, eSwatini, Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe. In Maart het die polisie beslag gelê op drank en sigarette van sowat R1,07 miljoen, terwyl dié syfer in April tot R1,6 miljoen gestyg het.

Ernstige en geweldsmisdaad

Cele het gesê daar was sedert April ʼn beduidende afname in kontakmisdade soos gesinsgeweld, kapings en rooftogte, hoewel dit onder vlak 4 van die afsonderingsregulasies nou weer ʼn effense styging begin toon.

Kontakmisdaad
 29 Maart tot 21 Mei 201927 Maart tot 19 Mei 2020 (afsondering)SakePersentasieverskil
Moord2 9701 072-1 898-63,9%
Verkragting5 350919-4 431-82,8%
Poging tot moord2 5711 132-1 439-56,0%
Ernstige aanranding22 1444 348-17 796-80,4%
Roof verswarend14 8225 397-9 425-63,6%

Misdaad soos kapings het ook begin toeneem.

Trio-misdaad
 29 Maart tot 21 Mei 201927 Maart tot 19 Mei 2020 (afsondering)SakePersentasieverskil
Voertuigkaping2 641773-1 868-70,7%
Rooftog2 9871 189-1 1798-60,2%
Huisrooftog3 0211 539-1 482-49,1%

Drank en sigarette

(Argieffoto: Facebook)

Wat betref die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol en sigarette, sê Cele die polisie pas bloot die wet toe.

Die minister sê gewone mense se toegang tot mediese dienste word belemmer deur diegene wat te veel drink en dan geskiet of gesteek word. Volgens hom gaan noodsaaklike beddens in hospitale deur slagoffers van dié soort voorvalle opgeneem word as die verbod op die verkoop van alkohol opgehef word.

“Dit is ʼn gesondheidskwessie. Alkohol kan verantwoordelik gebruik word, maar ons het ʼn probleem daarmee as dit inbreuk maak op ander se regte [op mediese sorg],” het Cele gesê.

Hy sê ook hoewel hy kan spekuleer oor vlak 3 van die afsonderingsregulasies – wat na verwagting teen die einde van die maand in werking gaan tree – is dit nie sy plek om ʼn aankondiging daaroor te doen nie.

“Wat lê voor op vlak 3? Ek weet nie. Ons sal dit implementeer soos nodig.”

Cele het ook gesê die onwettige handel in sigarette is nie iets wat onlangs kop uitgesteek het nie, maar ʼn probleem wat die polisie en bedryf al jare lank probeer hokslaan.

Beweerde hardhandigheid

Cele het ook gereageer op bewerings van polisiewreedheid en die 11 sterftes wat sedert die inwerkingstelling van die afsonderingstydperk voor die deur van die polisie gelê is.

Die minister sê in talle gevalle waar die polisielede van ʼn oortreding beskuldig word – en die saak na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) verwys word – word die beamptes later van blaam onthef.

Hy het bygevoeg dat vyf polisielede die afgelope twee maande in verskillende voorvalle dood is – in een geval is ʼn polisielid doodgeskiet toe hy op ʼn beweerde voorval van gesinsgeweld gereageer het – en dat daar nie van die polisie sondaars gemaak moet word nie.

Collins Khosa-uitspraak

Duisende mense is reeds vir oortredings van die Wet op Rampbestuur in hegtenis geneem en aangekla. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Nadat regter Hans Fabricius die polisie die afgelope week skerp gekap het in sy hooggeregshofuitspraak oor die dood van Collins Khosa, sê Cele die polisie voldoen tot dusver aan al die spertye wat die regter in sy uitspraak gestel het.

Khosa, ʼn man van Alexandra noord van Johannesburg, is dood nadat lede van die polisie en weermag hom glo op sy erf aangerand het vir ʼn beweerde oortreding van die afsonderingsregulasies.

Cele sê daar is egter sekere gedeeltes van die uitspraak waarteen die polisie beoog om te appelleer. Hy wou nie veel uitbrei hieroor nie.

Virus in polisiegeledere

Altesaam 611 polisielede het tot dusver positief vir Covid-19 getoets, die meeste van hulle in die Wes-Kaap. Ses polisielede het tot dusver weens die virussiekte gesterf, het Cele gesê. Twee van die sterftes was in die Wes-Kaap, een in KwaZulu-Natal en nog een in die Oos-Kaap.

Cele sê landwyd het lede by 121 polisiestasies of -eenhede positief vir Covid-19 getoets en verskeie polisiestasies moes tydelik uit ander persele werk nadat dit gesluit is om ontsmet te word.

Vuurwapenamnestie

Die vuurwapenamnestietydperk verstryk aan die einde van dié maand en Cele sê hy het reeds die parlement gevra dat die tydperk verleng word. “Waar daar aanvanklik duisende vuurwapens per maand ingehandig is, het dié getal tot net 305 in April gedaal. Dit kan moontlik wees omdat die inhandiging van ʼn vuurwapen nie as ʼn noodsaaklikheid beskou word nie,” het die minister gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

capie ·

Cele praat die grootste klomp twak wat mens nie eers kan rook nie. Alles net om sekere dele van die land ingeperk te hou vir hul onwettige optrede. Volgens inligting kan ‘n ramptoestand net 28 dae aangaan.

JohanR ·

Kom ons se die Wes Kaap is die enigste provinsie wat sy Corona statistiek reg aankondig, dan kan ons soe somme maak : WC Populasie 6,707,000 miljoen, 12153 gevalle, 235 sterftes. Gauteng Populasie 14,460,000 2453 gevalle, 27 sterftes. Dit is nou die syfers 21/05/2020. As ons nou se die WC verkondig hulle syfers korrek aan, en ons persentasie daai syfers uit met die WC syfers, dan moet Gauteng nou soe lyk: Gauteng Populasie 14,460,000 26201 gevalle, 507 sterftes. Iewers lieg iemand nie net oor Gauteng nie, maar oor al die ANC beheerde provincies. Ek het hier maar net my simpel berekening gemaak maar miskien kan ‘n prof of wiskunde deskundige dit nog verder neem. Al die ANC beheerde provincies sal na vlak 3 omdat hulle statistiek reg lyk, maar die WC sal op vlak 4 bly omdat hulle statistiek styg? Iewers gaan die verkeerde statistiek met die ANC opvang!

Emily ·

Nogal jmmer julle is nie so vining om moordenaars, verkragters ens. vas te vang nie.
Ek het geen respek vir die land se regering en sy korruptes nie.

PieterP ·

En steeds rook en drink die manne en voue in blou rustig voort. Waar is die statistiek van jou lede wat aangekla is en kastig dan onskuldig was? Jy dink ons almal dra hoed wat sirkulasie na die brein afsny. Gaan eerder op pensioen, treurig

Jaco ·

ek weet selfs van wit SAPD lede wat nou nog gereeld EN in uniform sigarette koop by winkels wat dit iewers onwettig kry.

Werner ·

Die hoe syfers is waar die mense kan tel die ander provinsies sukkel hulle nog om die telrame te bemeester daar is nie n manier dat Mpumalanga so laag kan wees nie

Mariana ·

Ja nee sekere gebiede nê. Dis hoe dit gedoen word in sekere gebiede, toetse word gedoen sodat die wat positief is uitgewys word sodat hulle die nodige behandeling kan kry. Dit word nie weggesteek nie.

Harold ·

Wees asb. spesifiek.Kyk in watter areas die Hotspots is.Dit is hulle wat nie dissipline het!!!

Jan ·

Ai Cele ek dog die mense was gehok. Net jou spul was daar buite. Laat mens wonder. Jy se jy het net oor die milloen rand se sigarette gekomverskeur . Ai cele ons het die ander 30 biljoen rand sin gekoop . Laat mens ook wonder wie smokkel die goed so in . Hoop jy kan lig op die o derwerp plaas .maar hou so aan onwettige sigarette is baie goedkoper

katerinadiekat ·

Werklik?? My man het n paar dae terug R80 n pakkie betaal vir sigarette. In normale tye kos dit R25 n pakkie.

Hendrik Petrus ·

Baie goeie syfers vir die oortreding van die nood regulasies. Nou vertel vir ons hoeveel is al gearresteer vir staatskaping en korrupsie Mnr Cele? Jammer vir jou , ek het nooit die wet oortree nie , maar vanwee julle belaglike en drakoniese regulasies doen ek dit deesdae gereeld, dit nog met ‘n ” smile op my dial”

marius ·

Hulle weet nou presies dat hulle die hele land se mense met mag soos ‘n trop skape kan beheer . Hul leermeesters kom binnekort saam aan die feestafel sit . Glo dit maar.

Elsa ·

Inperking? Dit bestaan nie regtig, veral in Pretoria Noord, Tileba en n paar aner gebede. Openlik word Dwelms, sigarette, drank in die munisipale parke verkoop.
Nie SAPD of Metro Polisie lig n vinger.

Jaco ·

nou gaan die wit mense en kleurlinge in die wes-kaap seker geblameer word vir oortreding van inperkingsreels.

Hoekom ·

Hy moet dalk sy kop dekolonialiseer deur daardie hoed af te haal. Hy dink seker hy was ‘n mafia baas in sy vorige lewe…of dalk is hy een in sy huidige lewe…

Willem ·

Feite Johan . Daar word met syfers gespeel om die Wes Kaap op vlak 4 te hou

Morné ·

Luister Freddie Kruger!!! Kyk waar spesifiek is die areas wat jy van praat!! Dan sal jy nou mooi sien by wie lê die probleem……of sal iemand maar n prentjie moet teken.

Willem ·

Cele is nie lekker by nie ,nou is die Wes Kaap weer volgens hom die stoutste

Kokerboom ·

Dis net vir my verbysterend dat die intelligensie en verantwoordeliksheidsvlakke van die gemiddelde man in die straat so onderskat en laag aangeslaan word deur die regering. Roekelose en dwase uitsprake en besluite is aan die orde van die dag. Die gesegde: Uit die mond van die dwase borrel die sotheid is soo van toepassing.Die mense en veral die kleinsake kry bitter swaar, krepeer en gaan onder. GEEN EMOSIE van kaders in beheer. Neem ASB hul salarisse weg.

KB ·

Minister Cele: ” Waar is al daardie drank, tabak en dwelms waarop julle beslag gelê het NOU?
Lewer ook vir ons bewys dat dit veilig in bewaring is en bly, of vernietig is.”

(Ek dink nie hy kan onteenseglik bogenoemde vrywaring gee nie).

Dus, hoekom sal enige nugterdenkende (wettige) Suid-Afrikaanse burger jou (of jou SAPD) glo?

Sien jy nou, minister, hoe belangrik eerlikheid en respek is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.