Afsondering: Visvang, wildritte nou weer toegelaat

Selfbestuur-wildritte word op vlak 3 van die afsonderingsregulasies toegelaat. (Foto: Dinokeng Game Reserve/Facebook)

Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat nou al weke lank weens die landwye staat van algehele afsondering in hul huise vasgekeer voel. Jag, selfbestuurbesoeke aan private of openbare wildreservate en nasionale parke, asook visvang vir ontspanningsdoeleindes word op vlak 3 van die afsonderingsregulasies weer toegelaat.

“Alle visvang, ook vir ontspanning, maar met die uitsondering van huur-visvanguitstappies, word toegelaat,” het min. Barbara Creecy aangekondig.

Hengelaars moet verseker hulle het ʼn geldige permit en alle maatreëls oor afstandhandhawing, gesondheidsprotokol, die beweging van mense asook die verbod op groepe en byeenkomste moet steeds nagekom word.

Selfbestuur-wildritte word ook voortaan toegelaat en SANParke sal ʼn lys van toegangsbeheerde parke publiseer wat binne die volgende paar dae vir besoekers sal heropen. Besoekers aan nasionale parke word aangeraai om vooraf te bespreek en te betaal voordat hulle op ʼn wildrit vertrek.

Die iSimangaliso-vleilandpark in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook)

Die iSimangaliso-vleilandpark het Maandag al begin voorberei om besoekers terug te verwelkom. Werkers het reeds vir diens aangemeld en kantore en openbare fasiliteite word behoorlike skoongemaak en ontsmet. Wildbewaarders sal bome begin terugsny en stompe uit paaie verwyder.

Nadat aan alle maatreëls voldoen is en die park veilig vir besoekers verklaar is, sal die publiek sewe dae kennisgewing kry oor die heropening vir selfbestuur-uitstappies, het die departement gesê.

Die Dinokeng-wildreservaat heropen Dinsdag al sy selfbestuurroetes vir besoekers. Die reservaat sê kaartjies kan by sy Tau-, Ndlovu- en Wilderness Way-hekke gekoop word. Piekniekplekke bly gesluit tot verdere kennisgewing.

“Ons verstaan baie natuurliefhebbers is gretig om terug te keer na ons nasionale parke en wildreservate, maar dit is raadsaam om te wag tot die betrokke owerhede gemaklik is met hul voorbereidings om besoekers terug te verwelkom,” het Creecy gesê.

“Die gewone maatreëls oor sosiale afstandhandhawing, die ontsmetting van hande en die dra van maskers sal ten alle tye geld.”

Wildleweveilings mag aanlyn gehou word. Indien dit nie moontlik is nie, word veilings met minder as 50 mense toegelaat.

Jag vir die pot word nou ook weer toegelaat, mits die nodige permitte daarvoor bekom word.

Die in- en uitvoer van lewende en dooie plantmateriaal of -monsters mag weer hervat word, onderworpe aan bepalings van die minister van handel, nywerheid en mededinging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sylvia ·

Visvang? Wildritte? Rugby?, ens., solank jy net nie rook of dalk gholf wil speel nie

Jims ·

Beteken dit nou ek mag vanaf my woning in Worcester ry na Struisbaai om n galjoen te gaan vang?

Hexadane ·

Waar kan ek n jag permit kry om in Limpop te gaan jag? Dit is nou te se as mens vanuit gauteng mag ry.

Karin ·

Wel dit help niks as ek nie oor grense kan beweeg nie, ook nie as ek nie kan kamp of oorslaap nie……….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.