Afsonderingsregulasies: Luukse busbedryf lamgelê

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Busoperateurs van luukse en semi-luukse busse is hande in die hare omdat hulle weens Covid-19-afsonderingsregulasies tien maande gelede laas werk gehad het. Hulle moet boonop steeds derduisende aan die regering opdok om buslisensies te hernu en pleidooie aan die departement van vervoer val op dowe ore.

Dít terwyl die regering finansiële hulp aan die taxibedryf verleen wat ongehinderd kan voortgaan om passasiers gedurende hierdie tyd te vervoer. Gevolglik sukkel operateurs om salarisse te betaal en Maroela Media verneem duisende busbestuurders is reeds afgedank.

Belanghebbendes in die bedryf versoek reeds maande lank dat die geldigheid van lisensies waarvoor hulle kort voor die afsondering vooraf betaal het, bloot verleng word totdat hul busse weer kan ry.

Fiona Brooke-Leggatt, voorsitter van die Private Charter Passenger Association (PCPA), vertel dat die busoperateurs van die nie-gesubsidieerde luukse en semi-luukse busbedryf verlede jaar R23 miljoen vooraf aan die departement van vervoer betaal het vir hul toerisme- en charter-lisensies.

Die bedryf se busse word gebruik om toeriste mee rond te rits, leerders gedurende skooltoere aan te ry, asook die werksmag van en na konferensies te vervoer. Hulle benodig dié lisensies om die bedrywighede te kan voortsit.

Busoperateurs se charter-vloot staan egter die afgelope tien maande al geparkeer by hul depots aangesien daar geen vraag na hul dienste gedurende die afsonderingstydperk is nie. Tog word hulle steeds verplig om vanjaar weer sowat R52 000 per bus in lisensiegelde te betaal.

Die helfte van dié gelde moet elke ses maande betaal word sodat ’n bus se padwaardigheidsertifikaat geldig bly.

Brooke-Leggatt sê sy moes in Maart verlede jaar meer as R900 000 vooraf vir ’n vloot van 22 busse betaal.

Om sake te vererger, word busoperateurs boetes opgelê indien die gelde nie betyds betaal word nie. Rente word boonop op die boetes gehef totdat dit betaal word. Só ’n boete kan dus tussen R6 000 en R7 000 per bus beloop, verduidelik sy.

(Foto: Coachman Coaches)

Sonja le Roux van die busoperateur Coachman Coaches vertel op haar beurt dat hulle R500 000 per jaar vir hul vloot van 18 busse betaal, waarvan hulle R48 000 per jaar vir hul grootste bus moet betaal.

Le Roux sê Coachman Coaches was dus genoop om al sy personeel af te lê en het reeds ’n bus verkoop om al hul lisensies op datum te bring en geld te kry om hul personeel te kon aflê.

Brooke-Leggatt wys ook daarop dat busoperateurs die afgelope tien maande sukkel om sonder enige inkomste hul busse se paaiemente, personeel se salarisse en versekering te betaal, wat nog van lisensies vir bedrywighede wat nie kan voortgaan nie.

Volgens Brooke-Leggatt is daar sowat 3 500 luukse en semi-luukse busse in Suid-Afrika waarvan elke bus ’n bestuurder vir aandskof en oggendskof het. Sowat 7 000 busbestuurders het dus nie in dié stadium werk nie en die meerderheid is afgelê.

Die probleem kring boonop uit na werktuigkundiges en voertuigskoonmakers wat op dié busse staatmaak vir werk.

Banke staan ook nie gedurende die tyd lenings aan busoperateurs toe nie aangesien hulle geen inkomste vir die afgelope tien maande verdien nie.

PCPA vra nou dat die departement ’n busoperateur 12 maande krediet gee as hy 12 maande vooruit betaal het. Hulle versoek ook dat geen boetes aan busoperateurs van luukse en semi-luukse busse opgelê word totdat die busse weer kan ry nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Brooke-Leggatt sê PCPA het reeds verskeie prokureursbriewe aan die minister van vervoer gerig en selfs aan die president geskryf. Die briewe het almal onbeantwoord gebly.

“Dit lyk of hulle absolute minagting vir die private sektor het,” meen Brooke-Leggatt.

“Ek is doodmoeg gesukkel.”

Daar word nou gevrees dat die bedryf eindelik bankrot gaan speel indien daar nie vinnig gehoor gegee word aan hul versoeke nie.

“Wat gaan gebeur as toeriste weer vervoer moet word, leerders weer op skooltoere moet gaan en mense na konferensies vervoer moet word? Dink jy hulle gaan in Putco-busse of taxi’s wil klim?”

Le Roux is oortuig dat daar oor ’n jaar geen luukse of semi-luukse busse meer in Suid-Afrika gaan wees indien die departement nie vinnig tot hul redding kom nie.

Maroela Media het ’n navraag aan ’n woordvoerder van die departement asook die Southern African Bus Operators Association (SABOA) vir kommentaar gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anthony ·

Hulle is mos nou nie gepla of ek en jy ok is nie. Solank hulle sakke gelaai is.

Mariana ·

Die regering sorg net vir sy kaders. Hulle leef soos konings terwyl die mense in die land krepeer van ellende. Hulle gee nie om wat van die land word nie, solank hulle kan inpalm.

Piet ·

Ek hoop werklik dat die spoorweg weer sy glorie herwin. ‘n Mens behoort tot op meeste dorpe in die land te kom met die trein en dit behoort baie meer bekostigbaar te wees. Hierdie luukse busse is ook maar vrek duur, kan net sowel vlieg.

Ou bees ·

Nou wat het julle gedink dis deel van hulle planne om besigheid in wit besit lam te lê

Samuel ·

Die busbedryf is ‘n noodsaaklikheid. Die minister van vervoer moet liewer van die taxi kaders vergeet en mense wat ‘n eerlike bestaan wil maak, tegemoedkom. Ten minste betaal busoperateurs lisensie gelde.

Jaco ·

“die regering weier skynbaar om vergunnings vir dié bedryf te maak”. Wat dan nou van hulp wat wel aan BEE besighede gegee word? Baie van dié besighede is tog sekerlik BEE compliant. Ek kan verstaan dat wit busdrywers maar moet swaarkry. In dié anti-wit SA is daar mos ‘n “ewige straf” op wit mense vir apartheid. Maar ek wonder net hoekom kry swart werkers ook swaar? Vir watse apartheid word hulle dan gestraf?

Blikkantien ·

Seker omdat hule dit durf waag om vir wit besighede te werk

gatgogga ·

Alles deel van CR se onderduimse plan om Covid te gebruik om wit ondernemings te kelder. Dan word dit oorgeneem deur swartes, geborg met my en jou belastinggeld.

Hennie J ·

So sal ons julle een vir een vernietig totdat our people oorvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.