Afsonderingsregulasies: Regering gaan appelleer teen uitspraak

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: ANA)

Die regering is van voornemens om appèl aan te teken teen ʼn hooggeregshofuitspraak vandeesweek wat die afsonderingsregulasies as “ongeldig en onwettig” verklaar het.

Woordvoerder Jackson Mthembu het gesê dié besluit is Donderdag tydens ʼn spesiale kabinetsvergadering geneem. “Ons glo nie enige ander hof sal dieselfde uitspraak lewer nie,” het Mthembu gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag bevind die regering se afsonderingsregulasies vir risikovlak 3 en vlak 4 is ongeldig en ongrondwetlik, maar dit sal steeds vir minstens die volgende 14 dae van krag bly. Risikovlak 3-regulasies bly dus steeds van krag.

“Ons besluitnemingsproses was baie deursigtig en ons het nie enigiets gedoen wat die hof se uitspraak sal regverdig nie. Dit is hoekom ons appèl aanteken,” het Mthembu gesê. “Ons is vol vertroue dat dit wat ons gedoen het, hoe die vlakke saamgestel is, binne die trefwydte van Covid-19 val om lewens te red; dit is wat ons wil doen.”

Volgens hom het talle persone gesê Suid-Afrika vaar baie goed [in die stryd teen die koronavirus].

Die appèl sal by die Pretoriase hooggeregshof ingedien word en van daar waarskynlik na die hoogste hof van appèl oorgeplaas word.

Regter Norman Davies het bepaal die afsonderingsregulasies is ongeldig omdat dit indruis teen die fundamentele regte van Suid-Afrikaners op ʼn manier wat “uitermatig en irrasioneel” is. Hy het gesê die staat het ʼn plig om slegs tot die mees geringe mate moontlik in te druis teen menseregte om die land teen ʼn gesondheidsbedreiging te beskerm.

Davis het gesê dit wil egter voorkom of Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, ʼn benadering volg dat enigiets geregverdig word.

Die regter het bygevoeg dit is moeilik om regulasies te verstaan soos dié wat die kategorieë kleredrag beperk wat tydens vlak 4 verkoop kon word en skertsend bygevoeg dit is moeilik om te sien hoe die verkope van oop sandale of kortmouhemde kan bydra tot die stryd teen die pandemie.

Hy het gesê die regulasies bepaal ook dat talle persone langs die strand mag oefen, maar as iemand hul voet op die sand sou sit, sal dit tot ʼn “buitensporige” verspreiding van die virus lei.

Davies het die regering twee weke lank kans gegun om die regulasies te wysig.

Die uitspraak was in reaksie op ʼn aansoek tot die nieregeringsorganisasie Liberty Fighters Network en is een van verskeie hofsake waar die regering gedaag word oor die afsonderingsregulasies of ʼn verbod wat op aktiwiteit geplaas is, soos die verkope van tabakprodukte.

Die regering word deur twee afsonderlike hofsake in die gesig gestaar oor die verbod op die verkope van tabakprodukte: een van die Free-Trade Independent Tobacco Association en een van British American Tobacco South Africa.

Mthembu het, in reaksie op ʼn vraag, die deur oopgelaat dat die regering moontlik verdere regulasies in die Wes-Kaap kan toepas, aangesien die provinsie byna tweederdes van Covid-19-infeksies landswyd verteenwoordig.

Pres. Cyril Ramaphosa en gesondheidminister Zweli Mkhize sal Vrydag, saam met ʼn afvaardiging, die voorbereidings van die provinsiale regering in die Wes-Kaap ondersoek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Erica

Blablabla ja mors meer belasting geld. Dit kan julle goed doen.

Willem

So mors ons geld

Jaco

‘n wit regter lewer uitspraak ten gunste van ‘n wit organisasie. Hier kom nog groot lawaai met beskuldigings van rassisme en “white priviledge”

Alida

Nou gaan die poppe dans. Al die hangende sake gaan die dieselfde uitspraak he.

PH

Hoe voorspelbaar. Dit beteken dat die status 3 regulasies gaan nog vir baie lank geld