Tersius du Plessis (36) wat vroeër in soveel woorde gesê het dat hy Johanna Rossouw by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni vermoor het, het Maandag vir die eerste keer in die hooggeregshof op Middelburg in Mpumalanga verskyn.
Die saak is egter binne minute uitgestel nadat Du Plessis aangedui het dat hy ongelukkig is met sy regsverteenwoordiger van die regshulpraad.
“Ek wil ’n prokureur hê wat my in die oë kan kyk en sê hy glo my,” het hy aan die regter gesê.
Du Plessis meen daar is ’n kommunikasieprobleem tussen hom en sy regsverteenwoordiger en hy het gevra vir ’n Afrikaanssprekende prokureur.
Die regter het aangedui dat hy welkom is om ’n prokureur van sy keuse op eie onkoste aan te stel. Sou hy egter steeds van regshulp wil gebruik maak, is ’n tolk beskikbaar om die kommunikasieprobleem te help oorkom.
Die saak is tot later vandeesweek uitgestel sodat Du Plessis met sy huidige prokureur kan vergader.
Rossouw (86) is op 31 Januarie in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Sy is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.
Du Plessis het glo ná die moord met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat. ’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.
Du Plessis het hom kort daarna by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee en tydens sy eerste hofverskyning in die plaaslike landdroshof gebieg dat hy Rossouw vermoor het.
“Ek is skuldig,” was sy woorde.
Du Plessis staan tereg op aanklag van moord en motordiefstal.
Hy bly in aanhouding.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Hoekom n ou tannie vermoor kon jy nie maar net gevat het wat jy wou hê nie. Hoop jy word lewenslank toe gesluit.
Wat moet die prokureur ‘glo’ wanneer hy hom in die oë kyk? ‘n verwronge waarheid?
Wat het hy nou 2 keer gedink oor sy lot. Sies man skaam jy jou nie, dit ‘n ou tannie.
Hy is siek in sy kop. Weet nie een hoekom ‘n moordenaar ‘n regsverteendwoordiger moet kry met ons taks geld as hy skuld erken nie. Sluit hom toe en gooi weg die sleutel
Geen simpatie my maat, jy het ‘n weerlose ou tannie vermoor. As jy onskuldig was het ek jou dalk jammer gekry, maar soos jy self gesê het, jy is skuldig. Vat jou pak soos ‘n man.