Aftreeoord bekom interdik teen stakers

‘n Polisievoertuig voor Huis Herfsblaar in Pretoria. (Foto: Tania Heyns)

Huis Herfsblaar, ’n aftreeoord in Queenswood in Pretoria, het ’n interdik van die arbeidshof bekom wat enige verdere stakings deur ontevrede werkers verbied.

Werknemers van die oord staak sedert verlede week weens loongeskille en die EFF het selfs Dinsdag gedreig om na die aftreeoord op te ruk, indien die bestuur nie aan werkers se griewe gehoor gee nie.

Die regsfirma Couzyn Hertzog & Horak Ing het gevolglik ’n dringende aansoek om ’n interdik namens die oord by die hof ingedien en dit is Dinsdag toegestaan. Hiervolgens word die stakings as ʼn onbeskermde staking beskou en word werknemers, of enigiemand anders wat namens die werkers optree, verbied om verdere onwettige stakings te onderneem. Dit sluit enige betogings op die aftreeoord se terrein in. Ontevrede werknemers word ook daarvan weerhou om ander werknemers te verhoed om hul pligte uit te voer. Die interdik geld tot 1 Desember, waarna die respondente redes moet verskaf oor waarom die interdik nie permanent behoort te geld nie.

Werknemers het reeds op 19 Julie begin staak.

Die EFF het vandeesweek olie op die vuur gegooi en bewerings van rassisme by die aftreeoord op sosiale media geopper. Lede van dié party het gedreig om (Woensdag) na Huis Herfsblaar op te ruk. Teen Woensdagmiddag was daar egter nog geen teken van EFF-lede naby die oord nie.

Huis Herfsblaar in Pretoria. (Foto: Tania Heyns)

Verskeie gemeenskapslede en polisievoertuie, waaronder ’n njala, het Woensdagoggend oorkant Huis Herfsblaar gereed gestaan om inwoners te beskerm, sou die EFF opdaag.

Van die bejaardes leef glo die afgelope week in vrees en verskeie inwoners se familie het hulle reeds tydelik uit die oord verwyder.

Die DA het Woensdagoggend die EFF se beplande optog veroordeel en gesê dit het “minder met rassisme en meer met politieke opportunisme te doen”.

Cilliers Brink, die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake, sê in ’n verklaring die EFF is bereid om weerlose en bejaarde mense te teiken en te intimideer in die hoop om sy politieke agenda te bevorder.

Brink het voorts daarop gewys dat die laaste keer dat die EFF ’n ouetehuis in Pretoria op dié manier geteiken het, die ouetehuis ontruim moes word terwyl sommige personeel hul werk kwyt is weens hul betrokkenheid by die EFF.

Huis Dawitdtz in Pretoria het in 2018 deurgeloop, toe werknemers van dié tehuis ook gestaak het weens arbeidskwessies en die EFF toe ook betrokke geraak het.

’n Polisiebeampte het die gemeenskapslede daarvan verseker dat die polisie die nodige voorsorg getref het en dat geen betoger die geleentheid gegun sal word om moeilikheid te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

EFF het gesien hulle het meer afgebyt as wat hulle kan kou

Cindy ·

ek hoop jy praat tong in die kies, want anders het jy duidelik geen benul van die huidige finansiele stand van sake vir amper elke onderneming in SA nie….

Persheks Adri ·

Die ondankbare werkers stel die oumense se lewens in gevaar! Daar’s baie mense wat wil werk magtag man. Iemand moet ernstig die EFF’ers in hulle bekke ruk en gou ook!

Mallie ·

Wys jou hulle is n regte klomp lafaards om weerlose ou mense te dreig.

Mrs H ·

En by skole ook ja. Die EFF laat n mens skaam kry vir SA pollitiek. Stel n vrot voorbeeld, en tree erg uit plek uit op. Nie om eers van hul swak keuse van kleredrag te praat nie…

gatgogga ·

Die werkers by Herfsblaar staak weens ‘n loongeskil, maar die EFF probeer dit verander in ‘n rasgeskil.
Dienooreenkomstig probeer Ramaphosa om die redes vir die plundering en brandstigting te verander in rasse wrywing.
En die plaaslike drie TV nuuskanale is altyd maar te gretig om die verdagmakery aan die groot klok te hang.

Ovelia ·

Dank di af wat ontevrede is mt hul werk en hou.polisie daar eff is nes n foxterier hond . Al wat hul doen is aanhitsing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.