Aftreeoord-moord: ‘Ek is skuldig’  

Tersius du Plessis het skuld beken aan die moord op die 86-jarige Johanna Rossouw. (Foto: Tania Heyns)

Tersius du Plessis het Vrydag in soveel woorde aan die landdros in die Witbank-landdroshof in Mpumalanga gesê hy is die een wat die 86-jarige Johanna Rossouw op 31 Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord op dié dorp vermoor het.

Du Plessis (36) het vlugtig in die beskuldigdebank verskyn waartydens die landdros hom gevra het of hy regsverteenwoordiging nodig het.

“Maar ek is skuldig,” het ’n emosionele Du Plessis geantwoord. “Ek het gebieg.”

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het homself Woensdag by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee.

Die landdros het Du Plessis daarop gewys dat hy deur ernstige aanklagte in die gesig gestaar word waarna Du Plessis ingestem het om van sy reg op regsverteenwoordiging gebruik te maak.

Hy staan tereg op aanklag van moord en motordiefstal.

Du Plessis het aangedui dat hy vyf vorige veroordelings het waaronder die besit van dagga, diefstal en huisbraak. Hy het in dié stadium geen hangende sake teen hom nie en het aangedui dat hy nié aansoek om borgtog gaan doen nie.

Die saak is tot 8 April uitgestel vir verdere ondersoek. Du Plessis bly tot dán in aanhouding.

Familie van Rossouw het Vrydag in ’n kort verklaring gevra dat hulle die geleentheid gegun word om oor die dood van hul “geliefde ma, ouma en oumagrootjie” te rou. Hulle wou dus nie op die gebeure in die hof kommentaar lewer nie.

Rossouw is Sondag in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Sy is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.

Du Plessis het na bewering met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat. ’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.

Dit is nie in dié stadium duidelik of Du Plessis aan Rossouw bekend was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Sarel ·

Wat se Spesie is dit?
Reeds vyf vorige veroordelings…..SA se goeie Strafstelsel

Inge ·

Ek is stom geslaan, ek weet nie meer wat aangaan met die mensdom nie.

Zacahara ·

Daar word baie vinnig na sg. menseregte “gegryp” as daar van die doodstraf gepraat word. Intussen is daar gebeure soos hierdie: wat het geword van Tannie Rossouw se reg om te lewe & haar naasbestaandes & vriende se reg om hul familielid & vriendin nog by hulle te hê? Hoe kan Du Plessis dan nog enigsins aanspraak maak op lewe as hy die Tannie se reg op lewe so gruwelooslik misken het? Dieselfde kan gevra word vir ons boermense wat so gruwelik afgeslag word!!! Daar was ‘n tyd wat ek ook anti-doodstraf was, maar genoeg is genoeg. Sulke moordenaars het, wat my aanbetref, nie meer enige regte wanneer so-iets gepleeg word nie!!! Wat my aanbetref is dit hoogverraad teenoor die mensdom & derhalwe strafbaar met slegs die dood as die enigste regverdige opsie. Sal interessant wees wat ander mense dink.

Daniel ·

Walglik tot in die ergste graad!
So ‘n ou persoon is totaal weerloos en kwesbaar.

JohanR ·

30 keer gesteek. Die nie moord nie. Dis die werk van ‘n kraaksinnige!

Stefan ·

Doodstraf klink vir my ook reg vir hierdie monster.
Maar ek weet nie of ek ons huidige regering daarmee vertrou nie!

Thom ·

Het die ou spul regses opgemerk dat ” gemors ” nie ‘n kleurpatroon volg nie ?

Hoekom ·

1 uit ‘n duisend, vat eerder jou liberale platkop(wat glo in regs en links patrone) terug netwerk24 toe…

Thom ·

Dit is voorwaar verbysterend dat jy darem kan skryf want tel kan jy nie ,”platkop “!

Stefan ·

Ons veroordeel hom dan nes ons enige ander kleur veroordeel.
Wat is jou punt?

Cherokee ·

Hy verstaan jou nie, Stefan. Jy sal dit ‘platter’ moet stel. Probeer slegs ‘n debat uitlok.

Jaco ·

Sonder regstellende aksie en BEE sou dié man heel waarskynlik ‘n baie beter lewe gehad het en sou hy nie van misdaad aan die lewe moes bly nie.

Zacahara ·

Twak Jaco: dit was nie om te oorleef nie – dit was brutale moord gewees!!!

Hano ·

Ek is vir die doodstraf vir sekere misdade soos bv hierdie geval. Ons Kan egter nie ons regering met die doodstraf vertrou nie. Waarvoor word dit opgele en Waarvoor nie. Met die doodstraf terug op die boeke sal haatspraak (in sekere gevalle) boaan hul lys wees.

Mariana ·

Liewe Hemel, hoe doen mens so iets aan ander. Sluit toe en gooi sleutel weg. Watse verweer het daardie oumens gehad. Nee wat sy soort moet permanent uit samelewing verwyder word. Hy sou seker ook graag wil hê dat mense moet dink hy is mal. Sterkte aan haar familie.

Dries ·

Biden gaan ook nou die doodstaf afskaf. Kyk nou na daai gemors wat daar gaan plaasvind. Hulle gaan nog verlang na Trump

christo ·

Die sadis het hom self verlekker om ‘n oumens 30 keer met ‘n mes te steek. Die gewone kriminele trappies geklim. Seker al op skool begin. Onderwysers mag mos nie kinders terug help as hulle van die pad af dwaal nie. Danksy my hoërskool onderwysers wat my gat aan die brand geslaan het, is ek nog steeds op die regte pad na 60 jaar. NS. Ek het sonder ‘n pa groot geword en self ‘n onderwyer geword. Dankie Menere vir die ses van die bestes!

Anmemarie1971 ·

Ons is nerens meer veilig nie,tot die polisie is korrup,waar gaan dit eindig??? Bring die doodstraf terug!!!!! Hoekom moet onskuldige mense sterf,vermoor en verkrag word??? Mag God met ons wees in hierdie deurmekaar lewe,is die Covid19 dsn nie erg genoeg nie?????????????????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.