Aftreeoord-moord: ‘Ek is skuldig’  

Tersius du Plessis het skuld beken aan die moord op die 86-jarige Johanna Rossouw. (Foto: Tania Heyns)

Tersius du Plessis het Vrydag in soveel woorde aan die landdros in die Witbank-landdroshof in Mpumalanga gesê hy is die een wat die 86-jarige Johanna Rossouw op 31 Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord op dié dorp vermoor het.

Du Plessis (36) het vlugtig in die beskuldigdebank verskyn waartydens die landdros hom gevra het of hy regsverteenwoordiging nodig het.

“Maar ek is skuldig,” het ’n emosionele Du Plessis geantwoord. “Ek het gebieg.”

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het homself Woensdag by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee.

Die landdros het Du Plessis daarop gewys dat hy deur ernstige aanklagte in die gesig gestaar word waarna Du Plessis ingestem het om van sy reg op regsverteenwoordiging gebruik te maak.

Hy staan tereg op aanklag van moord en motordiefstal.

Du Plessis het aangedui dat hy vyf vorige veroordelings het waaronder die besit van dagga, diefstal en huisbraak. Hy het in dié stadium geen hangende sake teen hom nie en het aangedui dat hy nié aansoek om borgtog gaan doen nie.

Die saak is tot 8 April uitgestel vir verdere ondersoek. Du Plessis bly tot dán in aanhouding.

Familie van Rossouw het Vrydag in ’n kort verklaring gevra dat hulle die geleentheid gegun word om oor die dood van hul “geliefde ma, ouma en oumagrootjie” te rou. Hulle wou dus nie op die gebeure in die hof kommentaar lewer nie.

Rossouw is Sondag in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Sy is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.

Du Plessis het na bewering met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat. ’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.

Dit is nie in dié stadium duidelik of Du Plessis aan Rossouw bekend was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Wat se Spesie is dit?
Reeds vyf vorige veroordelings…..SA se goeie Strafstelsel

Inge

Ek is stom geslaan, ek weet nie meer wat aangaan met die mensdom nie.

Zacahara

Daar word baie vinnig na sg. menseregte “gegryp” as daar van die doodstraf gepraat word. Intussen is daar gebeure soos hierdie: wat het geword van Tannie Rossouw se reg om te lewe & haar naasbestaandes & vriende se reg om hul familielid & vriendin nog by hulle te hê? Hoe kan Du Plessis dan nog enigsins aanspraak maak op lewe as hy die Tannie se reg op lewe so gruwelooslik misken het? Dieselfde kan gevra word vir ons boermense wat so gruwelik afgeslag word!!! Daar was ‘n tyd wat ek ook anti-doodstraf was, maar genoeg is genoeg. Sulke moordenaars het,… Lees meer »

Daniel

Walglik tot in die ergste graad!
So ‘n ou persoon is totaal weerloos en kwesbaar.

JohanR

30 keer gesteek. Die nie moord nie. Dis die werk van ‘n kraaksinnige!