‘Afwenteling van polisie moet in Wes-Kaap getoets word’

Ian Cameron.

Federale polisiëring in Suid-Afrika is die enigste oplossing vir die herstel van aanspreeklikheid en verbetering van dienslewering in die gebroke Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

“Desentralisering van die SAPD moet in die Wes-Kaap getoets word,” meen Ian Cameron, bestuurder van Action Society se gemeenskapsveiligheidaksies, ambassadeur vir die #SafeCitizen-veldtog en stigter van www.firerarms.co.za.

“Nie net om te bewys dat dit kan werk nie, maar ook dat mense tevrede kan wees met die wetstoepassers vir wie hulle stem. Eenvoudig gestel, is dit die afwyking van ’n mislukte nasionale staat sodat kiesers wat vir ’n bevoegde regering stem die dienste kan kry waarvoor hulle stem. Ten minste sal dit die geval wees in die Wes-Kaap.”

Polisiëring en wetstoepassing kan nie deur die ANC misbruik word nie. “Ek glo regtig dat die ANC doelbewus seker maak dat die SAPD in die Wes-Kaap nie genoeg hulpbronne het nie, sodat swak ingeligte burgers in die Wes-Kaap meer gefrustreerd raak met die provinsiale regering, aangesien die meeste mense nie daarvan bewus is dat polisiëring onder die nasionale regering val nie.”

Die DA in die Wes-Kaap het einde verlede maand ’n memorandum aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig waarin die party dit duidelik maak dat hy “Cele en die ANC se voortgesette pogings om Kaapstad se plaaslike wetstoepassingsbevoegdhede te kaap, verwerp”.

“Die SAPD het die afgelope paar jaar verder in duie gestort onder Cele se wanbestuur en die DA-beheerde Kaapstad-metro het opgetree deur die stad se eie wetstoepassingsvermoë aansienlik uit te brei, onder meer met die instel van die LEAP-plan (Law Enforcement Advancement Plan),” het Geordin Hill-Lewis, die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, gesê.

Die aantal polisiebeamptes wat in Kaapstad ontplooi is, is sedert 2018 met 511 verminder en volgens Hill-Lewis sal daar deur die LEAP-projek ’n bykomende 1 100 wetstoepassingsbeamptes ontplooi word. “Danksy die LEAP-projek het besteding aan wetstoepassing sedert 2016 met 55% toegeneem, en het die inhegtenisnemingskoers in Kaapstad verdriedubbel.”

Volgens Hill-Lewis wil Cele en die nasionale regering op twee maniere Kaapstad se plaaslike wetstoepassingsvermoë “kaap en vernietig”. Dit is om een polisiediens in die land te bewerkstellig en deur die distriksontwikkelingsmodel (DDM).

“Hierdie enkele polisiediens sal tot gevolg hê dat Kaapstad se metropolisie in die SAPD geabsorbeer word, die bevoegdhede van vredesbeamptes beperk, die bevel-en-beheer-struktuur by die stad  wegneem en by die SAPD inkorporeer en die stad se mag wegneem om sy eie plaaslike polisiëringsprioriteite op te stel.

“Die DDM sal ANC-kaders in die nasionale regering die bevoegdheid gee om op ongrondwetlike wyse in munisipale funksies in te meng. Die DDM is gegrond op die idee van ‘een plan’ en ‘een begroting’, waardeur stede soos Kaapstad ons mag verloor om ons eie polisiëringsprioriteite te stel en finansiering aan ons eie wetstoepassingshelde te verskaf.”

Geordin Hill-Lewis. (Foto: DA)

Hill-Lewis het gesê die DA sal alles in sy mag doen om die twee planne te beveg.

Cameron is oortuig indien die SAPD se afwenteling nie plaasvind nie, sal dit eenvoudig beteken dat polisiëring verder versleg en dat daar nie net meer afhanklikheid van gemeenskapsveiligheidstrukture sal wees nie, maar ook van provinsiale en plaaslike wetstoepassingstrukture wat nie altyd dieselfde breë mandaat het as die SAPD nie.

“Ons weet almal dat bestuur in die Wes-Kaap beter is as in die res van die land. ’n Federale stelsel sal ook help om te verseker dat geld vir polisiëring juis na polisiëring gaan en nie op ’n ander manier vermors word nie. Dit kan die begin wees van ʼn soortgelyke struktuur vir ander wetstoepassings- en regsinstellings wat verlam word deur kaderontplooiing en korrupsie.”

Desentralisering en goeie bestuur, afgesien van die nasionale regering, is die enigste manier om onafhanklik te word van ’n mislukte nasionale regering, sluit Cameron af.

*Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag tydens ‘n ministeriële gemeenskapsvergadering in die Wes-Kaap beweer dié provinsie en KwaZulu-Natal het van die hoogste misdaadsyfers en ontvang steeds die meeste polisiëringshulpbronne en finansiering om vrede en stabiliteit in die provinsies te bewerkstellig. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

gatgogga ·

Ja. Toets sommer die afwenteling van alles hier in die Weskaap.
Die enigste probleem is dit: afwenteling van beheer na die Weskaap sal sulke positiewe resultate toon, dat die onnosele ANC sal dink dat dit elders in die land ook die selfde verbetering sal oplewer – maar helaas nie.

Althes ·

Ek stem. Ons is sat vir die ANC regering wat mense se intelligensie beledig.

Jack ·

Die anc dink hulle is ondeursigtig met al hul skelmstreke maar met alles weet ons almal wie agter die onderduimshede sit. Hulle planne is so deursigtig soos kan kom en hulle bluf net die wat te eenvoudig is om self te dink.

Samuel ·

Desentralisasie is moontlik en kan werk, mits die DA sy sokkies optrek, veral so kort voor die verkiesing. Die DA kry dinge reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.